In my vorige brief AFRIKANER SELFBESKIKKING 29 Oct 12, het ek die eerste twee van drie moontlike opsies vir die Afrikaner behandel, nl ongebondenheid en volkome outonome volkstaat en/of kantonne, of albei.
Met ongebondenheid, word die status quo soos tans gehandhaaf. Hierdie Afrikaner stel geensins belang in enige vorm van selfbeskikking nie. Hy wil net met sy werksaamhede aangaan, en probeer in ’n veranderende politieke omgewing aan te pas om te oorlewe, of landuit indien hy dit kan bekostig. Op die langeduur gaan dit ten koste van sy Afrikanerskap (en na my mening, sy selfrespek) wees vir die volgende redes:
- Die huidige regering is stelselmatig besig om alle Afrikanerstrukture in die staatsdiens af te takel, wat insluit skole, universiteit, kolleges, en deur middel van hierdie organe, Afrikaner-geskiedenis te herskryf tot die effek dat die Afrikaner vir al die sondes in hierdie land aanspreeklik gehou word, en dat hy hom daaroor behoort ten skaam, aangevuur deur liberale Afrikaners wat die guns van die regering probeer soek. In die proses is daar pogings om sy taal ook te kelder.
- Plek en straatname te verander.
- Ekonomiese verwurging deur middle van regstellende aksie, waaraan geen afsluitingsdatum aan gekoppel is nie. ’n Rasgedrewe werksresevering-aksie.
- Die vooruitsig van blanke eiendom-onteiening, nou plase, in die toekoms myne en ander grondstowwe-ontginning, maatskappye deur middel van nasionalisering.
- Plaasmoorde, wat na my persoonlike mening nie toevallig is nie. Soos Mandela onder die ou bedeling sou gesê het. “There is a third force at work” tans nog nie bewysbaar nie.
- Kwotastelsels met betrekking tot tradisionele blanke sportsoorte. Nie van toepassing op tradisionele swart sport soorte soos sokker nie.
Ongebondenheid kon ’n aanvaarbare opsie gewees het, het die regering nie gedurig aan die Afrikaner en sy taal bly torring het nie, met die vooruitsig dat dit nooit end gaan kry nie. Dit het nou duidelik geword dat onder sodanige opsie, bly die Afrikaner en die Afrikaanse taal absoluut kwesbaar.
In die tweede opsie, dws die outonome volkstaat en kantons glo ek het ek genoegsame redes en bewyse gelewer wat dit in die SA-konteks onmoontlik maak. Geen leser het my teëgestaan en enige teendeel bewys of uitgewys nie. Ek is van mening dit is omrede hulle weet dit nie logies bestry kan word nie.
Nou: "DIE DERDE OPSIE":
Met die onlangse statistieke vrygestel, onderskraag dit die feit dat blankes ’n krimpende rassegroep in die land aan die eenkant is, en dat, nieteenstaande die ANC se aanslag op die Afrikaanse taal, die taal met amper 850 000 hoofsaaklik swart nuwelinge (waarvan ’n kleiner persentasie daarvan bruinmense verteenwoordig) oor die afgelope 10 jaar gegroei het. In die lig hiervan, kan tradisionele Afrikaner-strukture soos die Taalraad; ATKV; ens nie hierdie tendens ignoreer nie, en in Afrikanerbelang, vir die toekoms sal moet beplan om hulle ook te kan akkommodeer. Sekere Afrikaners sal hierdie tendens as ’n bedreiging beskou, ander weer ’n geleentheid vir Afrikaner en taal groei in die toekoms. Ek huldig die laaste siening.
Om die ANC en daaropvolgende regerings se aanslag op die Afrikaner en die se taal te weerstaan, verg ’n strategie binne die raamwerk van die NSA.
Orania is die eerste daadwerklike Afrikaner-kanton binne die raamwerk van die NSA. Nie ’n self-regerende volkstaat nie, maar ’n geregistreerde self-besturende besigheid, met spesifieke doelstellings en keuringe. Soos met enige besigheid, sal sy bestaansreg afhang aan sy vermoë om aan die verwagtinge van sy teikenmark te kan voldoen. Indien nie, sal dit ook soos enige ander besigheid uiteindelike ekonomies uitgedien raak en sluit.
Afrikaners wat verkies om ’n gebied-eie bestaan in die stede of dorpe te wil struktureer (kom ons noem hulle maar ook kantons), sal dit kan doen. Weereens verg dit deeglike beplanning. Soortgelyke “pockets” bestaan reeds in ’n nie-kulturele en nie-politiese formaat, nl die sekuriteit-omheinde komplekse wat orals in die land te vinde is. Elkeen dien ’n bepaalde teikenmark. Die bekendste hiervan is die golf-komplekse. Andersyds. Soos in Johannesburg waar dele van voorstede afgebaken word vir sekuriteit-redes met waghokkies en “boom”-versperring oor die pad, kan ook as kantons beplan word.
Daar is twee maniere hoe sodanige beplanning kan geskied. Eerstens, elke Afrikaner-groep sy eie ding afsonderlik doen, of andersyds ’n sentrale erkende burgergroep wat die finansies en trefkrag het om dit te kan realiseer, of selfs albei.
Tot onlangs toe, was daar nie enige Afrikanergroep wat sterk genoeg was om enigiets vir die Afrikaner te kon vermag nie. ’n Jaar gelede (20 Okt 2011) is die Afrikaner Burgerlike Netwerk gestig (met Orania ook as lid), waarvan meeste van die tradisionele Afrikaner-strukture gesamentlik lede is, ’n geldmag besit wat baie vir die Afrikaner sal kan versit en vermag. 'n Drukgroep wat ook die regering in die konstitusionele hof sal kan aanvat vir enige onkonstitusionele optredes teenoor Afrikaners en die Afrikaanse taal.
Sodoende kan aan alle Afrikaners se verwagtinge voldoen word. Konserwatiewe en marginale Afrikaner-groepe kan in hulle eie aangekoopte gebiede intrek, en daarin hulle eie ding doen. Afrikaners (liberale Afrikaners as voorbeeld) wat ongebonde wil bly, hoef glad nie deel te neem indien hulle nie wil nie, tog bly hulle Afrikaners.
Die ABN (Afrikaanse Burgerlike Netwerk) kan die volgende prioriteite vir Afrikaners (ongeag ras, ens) in Afrikaans bestuur en fundeer, nl:
- Skoolopvoeding vir Afrikaanse kinders. Self eie skole oprig en bestuur. Solidariteit reeds besig daarmee.
- Universiteits-en-kollege-beurse uitreik. Mettertyd eie universiteit en kolleges oprig en bestuur. (Solidariteit reik reeds beurse uit, reeds 'n kollege gestig.)
- Eie sekuriteitsmaatskappy om eiendom en persoon te beskerm en te verdedig. (Reeds is die vuurwapenmag van al die sekuriteitsmaatskappye in die land gesamentlik groter as selfs die SAP en weermag gesamentlik, tans kommerwekkend vir die ANC).
- Eie mediese skema en hospitale
- Werkskeppende aksies beplan en implementeer
- Lenings teen voorkeurrente vir lede
- Kulturele aktiwiteite beplan en fundeer
- Vakansie-oorde uitbrei
- Ens, ens = legio mettertyd.
Pleks van belasting, soos die geval met outonome state en munisipaliteite, word ’n lidmaat-premie maandeliks deur werkende Afrikaners betaal, en behoewende Afrikaners se lidmaat-premie word deur die ander gesubsidieer. Ongebonde Afrikaners wat nie lid is nie, selfs buitestanders, kan ook van alle ABN voordele gebruik maak, maar teen markverwante koerse aangeslaan (mits opsies nie reeds deur lede opgeneem is nie). Bv lede betaal vir skoolopleiding ’n verminderde “X” bedrag per leerling, waar non-lede ’n “Y” (markverwante) bedrag per leerling sal betaal.
Omrede privaat kapitaal deurgaans gebruik word, is regering-impak minimaal op Afrikaners en die Afrikaanse taal.
Die indiwiduele Afrikaner se deelname aan die land se ekonomie en politiek bly ongeskonde. Hy bly aanspreeklik vir munisipale en sentrale belastings, en ander kostes deur die staat gehef soos die geval met enige ander burger. Die indiwiduele Afrikaner sal steeds soos nou, sy indiwiduele keuse kan uitoefen vir watter politieke party hy in die nasionale, provinsiale en munisipale regerings voor wil stem.
LW. Hierbo is ’n voorstelling alleenlik. Ek is nie ’n lid van die ABN nie. Hierbo is ’n persoonlike uiteensetting van haalbare moontlikhede, wat sover my kennis strek, nie of nog nie deel van die ABN se strategie is nie. Wat my aanleiding tot hierbo gegee het, is die indruk wat ek gevorm het dat die ABN gevestig is juis om Afrikaner-belange in die breër te bevorder, uit te brei en te wil versterk. Geen ander Afrikaner-groep het tans die vermoë of finansiële trefkrag om enigiets daadwerkliks vir die Afrikaner te kan vermag nie, die dat ek Afrikaners wat ek teëkom aanmoedig om die ABN te ondersteun.
My argument hierbo is suiwer om uit te wys dat waar outonome kantons en/of volkstaat onmoontlik in die SA-opset is, is wat ek hierbo geskryf het wel ’n haalbare moontlikheid, al word dit nie soseer soos ek dit uiteengesit het nie, geïmplementeer, nl vir Afrikaner-selfbemagtiging en -selfbeskikking.
Jaco Fourie

