
Foto:Canva
Self-diffuus
Ek sit in ’n raserige kroeg
en my hande voel soos
roes-stram skarniere om ’n bottel
en deur die ruite van my bril
sien ek hoe die
saamdrommende mense se lewens
opgesluit is in ’n wyngeur
moet ek stop of voortbeur?
ek het met my lippe gedink
ek het nog met my lippe
gedink
en met my oë
gedog,
toe het
Jy
opgestaan om die waarheid
in my gewete uitmekaar te kyk,
tog, moet ek
bieg,
dat ek maar nog altyd
graag – vrylik – myself
wil
belieg

