"Seevoëls" deur Nelius Boshoff

  • 0

Seevoëls

Slaap dan maar, slaap rustig voort
ewig, ewig – dis hoe dit hoort
’n toring op die strand is rooi geverf
seevoëls die vlieg, seevoëls die sterf.

Maar slaap jy net, slaap ongestoord
skepe en bote dra elk ’n woord
’n naam wat met hul saam oor water gaan
voor als verflou, ophou bestaan.

Refrein:
Mense se dinge en die see se mengelmoes
die verf moet afskilfer, skepe moet roes
seevoëls die sien hoe branders verrinneweer
sluit net die oë agter gespikkelde veer.

Slaap dan maar, slaap tot jy droom
dieper, dieper – sink met die stroom
’n duiker met ’n mes wat pêrels oes
seevoëls die kras bo swart bamboes.

Maar slaap jy net, slaap altyddeur
toue verstrengel, die mas geskeur
hoe stil nou lê die boot wat eens kon vaar
tog bly daar iets wat nooit bedaar.

Refrein:
Mense se dinge en die see se mengelmoes
’n tou wat los rafel, ’n boot wat roes
seevoëls die sien hoe branders verrinneweer
sluit net die oë agter gespikkelde veer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top