. . . die Afrikaanse universiteite het nie verengels nie, wat sou gebeur het?
Wel, die Engelse universiteite sou oorstroom gewees het deur swartes, meer as wat tans die geval is. Daar sou wel swart studente die Afrikaanse universiteite bygewoon het want ALLE studente sou welkom gewees het ongeag kleur, taal, credo ens (soos reeds gedurende die middel ‘70’s op byvoorbeeld Tukkies gebeur het) maar die onderrigtaal sou Afrikaans gebly het. Afrikaanse universiteite sou die instansies van akademiese uitnemendheid en ryke studentelewe gebly het.
Engelssprekende studente sou in groter getalle Afrikaanse universiteite bygewoon het (soos al in die middel 60’s begin het) weens die beter dissipline en gevolglike studie-atmosfeer. Afrikaanse universiteite sou gedy het waar die Engelse universiteite in ’n groter mate met die probleme gesit het waarmee alle SA universiteite op die oomblik mee worstel. Hierdie welstand en behaaglikheid van die Afrikaanse universiteite sou nie die gevolg van ‘rassistiese’ uitsluiting en allerhande ander onderduimse aksies wees nie; elke groep is grondwetlik geregtig op beoefening van sy eie kultuur en reg van assosiasie.
Nou wat op aarde kon die kentering by die Afrikaanse universiteite veroorsaak het? Hoe is dit moontlik dat nie-Engelssprekende studente kan opdaag by ’n Afrikaanse universiteit en eis dat hulle in Engels onderrig word bloot omdat hulle nie van Afrikaans hou nie?
Dit kan nie die geykte storie van staatsubsidie wees nie, want die Afrikaners se belastingbydrae is buite verhouding groter as hulle persentasie van die totale bevolking. Hierdie nie-Engelssprekende studente kan ook nie die grondwet as grond aanvoer nie want, soos reeds gesê, minderheidsregte is in die grondwet verskans.
Nou wat kan die rede vir hierdie verengelsing en agteruitgang van die Afrikaanse universiteite wees? Die moer weet; miskien kan iemand wat hier lees die antwoord gee.
Hierdie verskynsel by die Afrikaanse universiteite is seker die donkerste uur (om nou Churchill se woorde te gebruik) in die Afrikanergeskiedenis, nie soseer oor die geweldige verlies nie, maar ’n tentoonstelling van ’n gebrek aan veggees en trots in Afrikanergeledere. G’n wonder ons word verag – en dus afgejak en vervreem – deur die ander bevolkingsgroepe nie.
Jan Rap


Kommentaar
Beste Jan,
Sê maar nou net ... die hemel val, dan dra ons almal blou kepsies.
Sê maar nou net... Afrikaans verdwyn. Dan praat ons almal Engels.
Sê nou maar net... Engels verdwyn. Dan praat ons met niemand nie.
Sê maar nou net... taal verdwyn. Dan swaai ons saam met die ander ape in die bome rond.
Groete,
Angus
Beste Angus
Jy's reg wat betref die blou keppies.
Jy's verkeerd wat betref die verdwyn van Afrikaans want daar is nog Tswana, Zoeloe, Sotho, Venda, Sepedi en nog 'n magdom ander tale ook. Verder is daar dan nog ook die kwessie van 'n geweldige verlies; daar sal nooit weer pennevrugte soos die van Van Wyk Louw en Breyten wees nie om nou maar een aspek te noem.
Jy's verkeerd wat die verdwyn van Engels betref. Daar was tale lank voor Engels ontstaan het, soos Nederlands byvoorbeeld (vgl Chaucer wat gesê het 'Old English was more like Dutch than English).
Jy's verkeerd wat die verdwyn van taal betref want daar is nog altyd telepatie; die vresens kommunikeer so.
Maar jy mis die punt, laat ek dit vir jou opsom: Die Afrikaanse universiteite het in die moeilikheid beland weens die opvreet van pap soos soetkoek hoek lyn en sinker onder 'n wip waarmee hulle toe gevang is. Met ander woorde; as gevolg van 'verligtheid' sit hulle nou in die donker.
Groetnis
Jan Rap
Beste Jan,
Jy kla self dat Engels Afrikaans uitdruk, nie Tswana, Zulu, Sotho of wat ook al nie. Buitendien praat Tswanas, Zulus, Sotho’s of wat ook al liewer Engels as hulle eie taal. Nee Jan, as Afrikaans verdwyn, praat ons Engels.
Die verlies as Afrikaans verdwyn? Hoe gereeld lees jy of wie ookal Van Wyk Louw of Breyten? Dis ook nie vir lees nie, dis vir mense wat letterkunde bestudeer. En wat maak hulle verder daarmee? As hulle onderwysers is of lektore, leer hulle ander maar net om dit te verstaan. Om wat mee te maak behalwe om 'n eksamen te slaag?
As Engels verdwyn, hoe goed is die Zulus en die Xhosas en selfs die Afrikaners se Nederlands? Het jy al gehoor dat die tennisskeidsregter in Nederlands die telling hou tydens die Nederlandse tennistoernooie? Selfs in Japan word bevele in Engels gegee deur die rugbyskeidsregter. Nee, as Engels moet verdwyn, is ons monde gesnoer.
Telepatie? As jy dink dat dit taal sal vervang, kan jy dit gerus uittoets. Bly vir 'n maand of selfs 'n dag stil, en probeer om deur middel van telepatie met mense te gesels.
Groete,
Angus