Rede gelewer deur Hein Willemse, Vrydagaand 14 September 2012 – tydens die viering van die twintigste bestaansjaar van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, Zevenwacht, Kuilsrivier.
Baie dankie vir u uitnodiging om vanaand die woord te voer.
Vanaand se geleentheid word gevier onder totaal ander omstandighede as twintig jaar gelede, toe die Stigting vir Afrikaans, die voorloper van die SBA, gestig is. In 1992 het ons op die vooraand van ’n onbekende politieke en maatskaplike bedeling gestaan. Ons was midde-in ’n interregnum, ’n tussenstadium wat swanger was met afwagting van ’n onsekere toekoms, terwyl die stuiptrekkings van die verlede nog hewig was. Selfs vandag word ons met tussenposes daaraan herinner dat die verlede nog nie sy lê gekry het nie.
Vir die meerderheid Suid-Afrikaners was Afrikaans die simbool van bevoorregting, uitsluiting, ontsegging en mensontering. Uit hierdie blikhoek was dit die taal van apartheid en eksklusiwiteit. Die Stigting vir Afrikaans is gestig om dié houdings te besweer en ’n nuwe verbintenis vir Afrikaans te skep. Mnr Tom de Beer, die eertydse besturende direkteur van Gencor en eerste voorsitter van die Stigting, stel die grondslag van die nuwe organisasie so: “Die Stigting wil hom losmaak van sy boeie van eksklusiwiteit en hom vir alle Suid-Afrikaners toeganklik maak [...] Eksklusiwiteit het in inklusiwiteit verander [...] SA beweeg na ’n geïntegreerde, inklusiewe gemeenskap [...] Dit geld nie net die politiek nie, maar ook die breë sosiaal-maatskaplike terreine.”
Destyds is in die Afrikaanse media, insluitende koerante, tydskrifte, radio en televisie, fluks voorbrand gemaak vir die nuwe organisasie. Die eerste uitvoerende beampte, mnr Andrew Marais, het onderhoude toegestaan, verklarings uitgereik en ’n paar weke lank deelgeneem aan radio-insetsels waarin die visie van die Stigting bekendgestel is. In die noordelike en suidelike Afrikaanse koerante was daar gereelde berigte oor fondsinsamelings met gepubliseerde lyste van skenkers. Een digter het selfs onderneem om ’n jaar se tantième vir die saak te skenk. Die Volksblad van 14 Julie 1992 berig dat sowat 100 kinders van die Ivan Abrahams-kleuterskool in Heidedal, Bloemfontein, R102 bygedra het: “Die kleuters het glo ’n week lank hul ouerhuise gefynkam op soek na sente wat rondlê; hulle het ooms en tantes “geterroriseer” vir hul kleingeld en selfs hier en daar ’n ietsie uit ’n spaarvarkie te voorskyn gehaal.”
Ten spyte van die uitdruklik inklusiewe doelstellings van die Stigting het sommige skenkers die oprigting van ’n nuwe Reddingsdaadbond of ’n nuwe Afrikanernasionalisme voorsien, terwyl verregse nasionaliste ’n pienkerige uitverkoopstrategie vermoed het. Ja, die interregnum van die vroeë negentigerjare was ’n tyd van agterdog. As ’n mens vandag die eerste koerantberigte rondom die oprigting van die Stigting lees, val dit op dat dié organisasie met sy doelstelling om Afrikaans as “die vriendelike taal” te bevorder, nie oral byval gevind nie.
Mense soos ek het die vermoede van koöpsie geuiter: dat die belange van niewit Afrikaanssprekers eintlik geïgnoreer word, want in ’n omgewing waar die taal- en kultuurbelange van ’n onderklas met dié van ’n heersersklas gelykgestel word, sal eersgenoemde altyd aan die kortste ent trek. Daar was ook ander wat hul skeptisisme verwoord het. Die digter Fanie Olivier het byvoorbeeld só oor die saak gevoel: “Sedert die oprigting van die Stigting vir Afrikaans het ek gewonder waar dié liggaam iets sal kry wat werklik is om te doen. Watter nuwe drome sal hulle kan wakker maak wat nie maar neerkom op Taalhandhawing en Taalstryd nie – met die antagonisme en apatie wat daaruit spruit?” Jeanne Goosen het gedink dat die Stigting nie werklik ter sake is nie, en eerder in Argentinië as Suid-Afrika sy werk moes gaan doen, want sy het ’n nuwe nasionalisme en ’n nuwe taalapartheid vermoed. ’n Rubriekskrywer in Vrye Weekblad het die nuwe liggaam gesien as té “Ef Aa Kaa-erig en Die Burger-ig en Broederbonderig om teglo dat dit [...] ’n polities-neutrale veldtog [is].” Die rubriekskrywer het ’n vrees wat in daardie sensitiewe tye in omloop was, presies geformuleer: “Sodra ons weer etniese, mags- of ideologiese faktore daaraan gaan koppel, gaan ons die taal weer knou.”
Vir die eerste nege jaar moes die grondlegger van die Stigting, mnr Ton Vosloo, en sy onderskeie raads- en personeellede ’n werkbare program opstel en van stapel stuur en só probeer om gestalte te gee aan hul oogmerk van inklusiwiteit en die bevordering van Afrikaans. Ek dink dat te midde van die uiteenlopende verwagtinge, die agterdog en breedopgesette strategiese planne dit nie altyd maklik moes gewees het om ’n volhoubare onderneming aan die gang te hou nie, maar die organisasie het oorleef en selfs van krag tot krag gegaan.
Toe dr Christa van Louw in 2001 as uitvoerende beampte aangestel is, is ’n nuwe era ingelei. Sy was die eerste vrou en die eerste swart Afrikaanssprekende wat as uitvoerende beampte aangestel is. Onder haar leiding het die liggaam van naam verander. Voortaan sou dit die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans heet. Hierdie naamsverandering en passiewe konstruksie was nie toevallig nie, want waar die klem voorheen hoofsaaklik op taalbevordering (en daarmee saam op al sy negatiewe assosiasies) geval het, het die klem verskuif na die bemagtiging van mense. As ek ’n rugbymetafoor mag gebruik: hierdie nuwe fokus was ’n spelbreker. Afrikaans was nie ’n kleinood wat beskerm moes word nie, of so hard moes probeer om “vriendelik” te wees nie; taal het ’n instrument vir ’n beter lewe geword. Christa van Louw en haar span se aktivisme vir ’n beter lewe vir alle Afrikaanssprekendes het ook beslag gekry in die herbedink van gelykberegtiging in en deur Afrikaans.
Daar was ook ’n ander klemverskuiwing, naamlik ’n herwaardering van die plek van Afrikaans tussen ander inheemse Suid-Afrikaanse tale. Die paternalisme en proselitisme van vroeë vorme van Afrikanernasionalisme om ander taalsprekers selfs met geweld te dwing om Afrikaans te praat, het plek gemaak vir medewerking en ’n strategie van saambestaan. Dit sou onder die leiding van Christo van der Rheede wees dat die XhosAfrika-netwerk tot stand gebring is en selfs meer gefokus geraak het. Onder hierdie dinamiese leiding het die SBA ’n nuwe klank begin kry wat op ’n aktivistiese wyse sin probeer maak het van die toekoms wat in 1992 in die vooruitsig gestel is. Hoor wat Christo van der Rheede in 2005 gesê het: [D]ie taal wat ons [...] praat, [word] te dikwels vanaf twee platforms bedryf [...] [een] van eikehout staangemaak in die koeltes van akkerbome, en op Suidoosterverwaaide sandvlaktes – ’n platform aan mekaar getimmer van afvalhout. Vanaf die eikehoutplatform praat ’n bemagtigde groep oor Afrikaans.
Vanaf die afvalhoutplatform ’n ontmagtigde groep in Afrikaans [...] Die ontmagtigde is vasgevang in ’n oorlewingstryd wat gevoer word in Afrikaans [...] [H]ul banale en kru Afrikaanse uitdrukkings is [...] hoorbare getuienis van hul woede en frustrasie oor die behuisingsnood, werkskaarste en swak dienslewering.
Dit is geen wonder nie dat ’n antirassigheidsaktivis soos die ontslape dr Neville Alexander, wat hom beywer het vir meertaligheid, gelyke sosiale beregtiging en moedertaalonderrig, tuis gevoel het in die geledere van die SBA, want die inklusiwiteit wat in 1992 in die vooruitsig gestel was, het nie ’n mitiese vooruitsig gebly nie, maar het een geword wat aktief beleef en bedryf is.
Die SBA, onder leiding van Christa van Louw en later Christo van der Rheede, het voorts bygedra tot die herskikking van verhoudings in die breë Afrikaanse gemeenskap, sodat die uitgangspunte wat hierdie organisasie rig, ook elders rugbaar geword het.
Vir my is dit noodsaaklik dat die SBA ’n verhouding met Afrikaans vooropstel wat die taal in al sy geledinge vir al sy sprekers toeganklik maak. Naas Engels is dit die een Suid-Afrikaanse taal wat oor al die sosiale , ekonomiese en politieke grense in hierdie land gepraat word en dit is ’n groot bate, nieteenstaande ons verlede. Die SBA het getoon dat uitreikaksies na sprekers van Afrikaans nie nodig het om paternalisties oor te kom nie of swymelende ophemeling van sy sprekers verwag nie. Daarom is die projekte rondom vroeëre leesontwikkeling, jeug- en volwasse geletterdheid en, meer onlangs, programme vir Wiskundeleiding so belangrik, want dit toon dat daar ander maniere is om talig betrokke te wees. Afrikaans was vir te lank ’n simbool van ’n eng vorm van etniese nasionalisme, maar die SBA het bewys dat daar in ’n ontvanklike toonaard gepraat kan word en dat daar met ’n ruimheid van gees en sosiale verbondenheid met die taal omgegaan kan word. Vir my is hierdie atmosfeer van ontvanklikheid en verdraagsaamheid sy grootste wins.
Sedert die begin van 2012 staan die SBA onder die bestuur van Danie van Wyk en hy het reeds aangetoon dat ook hy verbind is tot die ruimste moontlike posisionering van Afrikaans in Suid-Afrika en selfs verder: Dit is tyd “vir die herbesitname van Afrikaans,” sê hy, “deur almal wat die taal praat – as eerste, tweede of derde taal.” Sy versekering is dat “Afrikaans [...] veilig [is] in die hande van al diegene wat verbind is tot ’n herdefiniëring, herposisionering en herbesitname van Afrikaans as ’n inklusiewe taal van Afrika.”
Ek weet dat die SBA onder die leiding van Danie van Wyk en sy span voort sal gaan om ’n krag op ons kultuurlandskap te word en dat die stryde wat daar desnoods gestry sal moet word, vir ons almal inderdaad ’n beter ekonomiese, gemeenskaps-, sosiale en geesteslewe sal skep.
Ek dank u.

