SBA Woeker met Wiskunde: Gehalte-onderrig in skole?

  • 0
Die SBA het van 4–6 Oktober 2012 'n Wiskundekongres vir hoërskoolonderwysers in Oudtshoorn aangebied. Hier is die toespraak van dr David Piedt, een van die sprekers, wat by hierdie geleentheid gelewer is op 4 Oktober 2012.

 

Gedurende die apartheidsera was daar deurlopend gepraat van die “krisis in die onderwys”. Die faktore wat tot die krisis aanleiding gegee het, was voor die handliggend. Intense ongelykhede en diskriminasie op grond van velkleur en was van die wanpraktyke wat die apartheidsonderwysstelsel besoedel het.

Daar was reikhalsend uitgesien na die koms van ’n nuwe politieke bestel wat hopelik die era van gelyke geleenthede vir almal sou inlui.

Gedurende die afgelope 18 jaar is daar naarstig deur die onderwysowerheid probeer om die nodige regstellings te maak en om agterstande uit te wis, maar tot ons spyt moet ons vandag erken dat die krisis in die onderwys nog steeds ’n sigbare en tasbare teenwoordigheid in ons getransformeerde nierassige onderwysstelsel het.

Die Instituut vir Rasse-aangeleenthede berig in die Sunday Times van 22 Julie 2012 soos volg:

  • Van die 24 451 skole beskik slegs 3 772 skole oor wetenskaplaboratoriums.
  • 3 544 skole beskik nie oor elektrisiteit nie.
  • 913 skole het geen ablusiegeriewe nie.
  • 11 450 gebruik nog steeds die put-latrines.
  • 2 402 skole het nie toegang tot skoon drinkwater nie.

Die verslag vestig ons aandag slegs op die infrastrukturele krisis wat nog steeds in die onderwys bestaan.

  • In die laagste-kwintiel-skole, hoofsaaklik op die platteland, kla 97-100% van prinsipale oor groot afwesigheidskoerse onder onderwysers.
  • Sommige opvoeders is vir lang tye buite die klaskamer, en sommige opvoeders spandeer gemiddeld ongeveer 3 tot 4 uur per dag aan onderrig.
  • Die meeste van die opvoeders beskik nie oor grondige vakkennis nie.

 

Met so ’n benadering en ingesteldheid lyk die toekoms van ons leerders allesbehalwe rooskleurig.

Die gesprek van vanoggend het dit nie ten doel om met u oor onderwys in die breë te konfereer nie, maar wil eerder fokus op gehalte-onderrig van wiskunde in openbare skole.

By die spitsberaad wat deur die SBA in Julie in Bellville gehou was, sê prof Eloff, visekanselier van Noordwes-Universiteit, dat in 2000 een miljoen leerders hulle skoolloopbaan in graad een begin het en slegs 6% van hulle kon wiskunde in graad 12 aan die einde van 2011 slaag. Hy sê verder dat 80% van openbare skole disfunksioneel is. Vyf universiteite is onder administrasie geplaas, en van die 23 universiteite is daar slegs 13 wat effektief funksioneer, wat bevestig dat daar ’n wesenlike krisis in beide basiese en hoër onderwys bestaan.

U sal begryp dat dit uiters moeilik is om van ’n negatiewe premis na ’n positiewe te beweeg, maar dit is beslis nie onmoontlik nie.

Ons moet ons kinders in hulle ongelyke sosio-ekonomiese omstandighede verstaan en waardeer. Ons wil vandag besin oor die onderwyser in sy gemeenskapskonteks en sy verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap, daarom val die fokus op toegewyde, entoesiastiese, goed-onderlegde opvoeders wat enersyds poog om leerders te inspireer en andersyds om ’n natuurlike liefde vir wiskunde by die leerders te kweek.

Hierdie is ’n veeleisende uitdaging wat ons nie ligtelik durf opneem nie.

Ons het ook hier te make met sommige kinders wat gebuk gaan onder fisiese en emosionele ontberings, waarvan armoede ’n integrale deel vorm. Daar is ’n verskeidenheid leerders met wie u daagliks gekonfronteer word, en u taak is om die potensiaal en aanleg van die leerder te bepaal, te stimuleer en te ontwikkel.

Dit verdien egter om vermeld te word dat daar skoolhoofde is wat verkies om wiskunde nie deel van hulle skool se kurrikulum te maak nie, omdat die vak negatief inwerk op die oorhoofse prestasie van die skool.

Alhoewel die grootste deel van die nasionale begroting aan onderwys toegesê word, vergelyk ons swak, in terme van uitsette, met ander, armer lande soos Mosambiek, Botswana en Zimbabwe. Ons nasionale onderwysstelsel is in baie opsigte te gefragmenteer en ons innoverende aksies te onvoltooid, daarom moet die inisiatief van die SBA in dié verband verwelkom en ondersteun word, omdat hul poging bemagtiging van die opvoeder en die leerder in die vooruitsig stel. Ons kan bevredigende reaksies verwag slegs as ons bereid is om op buitengewone wyse in die inisiatief te belê.

 

Johan van Lill was een van die aanbieders by die kongres.

 

Ons as opvoeders wat vanoggend hier teenwoordig is, het ’n berekende besluit geneem om deel te wees van ’n innoverende benadering ten opsigte van die onderrig van wiskunde, waarvan die voorvereiste toewyding en hardewerk is. Wiskunde is een van die vakke wat aan ons kinders toegang verleen tot meer gespesialiseerde studies in die hoëronderwys-landskap. Die krisis in die onderwys bring ons as ’n belangegroep by ’n bepaalde skeiding, by ’n beslissing, by ’n oordeel, waar ons vind dat indien ons ’n beter resultaat in wiskunde wil verwerf, ons ons benadering, ons houding en gesindheid ten opsigte van die vak sal moet herdefinieer.

Omdat ons ’n ontwikkelende samelewing is, is daar agterstande, en ons is bemoedig deur die tydige ingryp van die SBA, wat ’n daadwerklike poging aanwend om ons te red van globale marginalisering, omdat ons nie oor die vermoë en kundigheid beskik om internasionaal in ’n hoogs gesofistikeerde wêreld te kan deelneem nie.

Ons kan ons probleme oorkom deur ’n meer effektiewe teenwoordigheid van onderwyskundigheid in ons onderwysstelsel te vestig, en deur toe te sien dat politieke aanwesigheid tot die minimum beperk word.

Opvoeders het die reg en kan beleid en prosedures van die onderwysdepartement positief beïnvloed, en kan selfs op ’n georganiseerde wyse beleid en prosedures teenstaan, veral as die professionele status van die opvoeder ondermyn word. Opvoeders moet hulleself van die toeskouerstatus waartoe hulle gerelegeer is, onthef, en hulleself met oorgawe en ten volle aan die professie wy, tesame met die verantwoordelikhede wat dit van die opvoeders vereis.

Die ouergemeenskap, en die burgerlike samelewing, het in ’n groot mate ’n geneigdheid om hulle verantwoordelikhede na die skool en die opvoeder oor te plaas.

Daar is ook ’n gebrek aan bestuursvaardighede by sommige skole, wat daartoe aanleiding gee dat die beste besluite in belang van die skool nie noodwendig altyd geneem word nie, en derhalwe sal effektiewe leer en onderrig nie tot sy volle potensiaal kom nie.

Ontwikkelde lande voel sterk oor moedertaalonderrig, terwyl leerders in ontwikkelende lande in ’n vreemde taal moet leer. Hierdie agterstand lei onteenseglik tot swakker ekonomiese mededingendheid. Vir beter begrip en prestasie word daar ten sterkste aanbeveel dat leerders onderig ontvang in die taal waarmee hulle die vertroudste is. Ons moet die uitdagings wat aan ons gebied word, eenvoudig aanvaar en tegemoet gaan.

 

Marlene Sasman was een van die aanbieders by die kongres.

 

As you know, we are in the business of building people. We are educators. Ours thesis is to increase knowledge and understand those we teach. We have made strides in developing a good and systematic structure to ensure that the process of knowledge creation and the transmission occur reasonably well.

Of all the requirements of sound management – insight, problem-solving, goal-setting and planning, structures and systems, as well as human relationships and situational management – I continue to hold human values and human relationships to be paramount. We must also hold out sound human values to our students. We are dealing with young people who are no different from the young people we were.

Their expectations are the same as ours were. The only matters that have changed to some degree are the world and the circumstances in which they find themselves.

Our primary mission is to equip our learners to cope and get the better of circumstances which at times threaten to wear them down.

We must be critical of our young people, in the same way as they are of us. We must see them for what they often are. When our students are asked to reflect on us, I hope they would say that the fondest memory they hold of us is that we taught them to be human and that we helped them to understand the Schweitzer injunction: “Example is not the main thing in influencing others, it is the only thing.”

Ek doen ’n beroep op die strydbaarheid van ons opvoeders om beskikbaar te wees, om selfopofferend te wees, om toegewyd te wees in die herskepping van ons nuwe benadering in die opmars om wiskunde in die galery van dissiplines in ons skole te plaas, sodat leerders reikhalsend kan uitsien na die uitdagings wat wiskunde bied en vasberade sal probeer om dit te bowe te kom. Die veranderinge wat ons binne die vakgebied van wiskunde hoop om te verander, sal deur ons eie insigte en betrokkenheid veroorsaak moet word.

Indien u beoog om ’n buitengewone wiskunde-onderwyser te wees, en indien u beoog om die spreekwoordelike ekstra myl met u studente te loop, kan u verseker wees van die respek en vertroue wat u van u kollegas, van u studente, van u ouers, en van u gemeenskap sal ontvang. Hierdie eerbetoning van voormelde belangegroepe sal die dryfveer wees, en bly, wat u deurlopend in staat sal stel om u studente deur u werksetiek, selfdissipline en morele standaarde sodanig te inspireer dat hulle geen ander keuse het as om u tasbare en sigbare voorbeeld te volg nie.

Mag dié wiskundesimposium op Oudtshoorn die begin wees van die toetrede van die burgerlike gemeenskap in ’n poging om saam met die onderwysdepartement en regering ’n vennootskap aan te gaan, en om die uitdagings in die onderwys gesamentlik te pak, en op te los.

 

DA Piedt en Marise Oberholzer

 

Lees Marise Oberholzer, projekbestuurder van die wiskundekongres, se indrukke.
Lees DJ Brand, voorsitter van die SBA, se toespraak by die kongres.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top