Die SBA en 100 onderwysers woeker met wiskunde

  • 0
Die SBA het van 4–6 Oktober 2012 'n Wiskundekongres vir hoërskoolonderwysers in Oudtshoorn aangebied. Marise Oberholzer, projekbestuurder, gee haar indrukke.

 

Die SBA is trots om te berig dat die Wiskundekongres “Woeker met Wiskunde” vir hoërskoolonderwysers wat 4–6 Oktober in Oudtshoorn aangebied is, ’n reuse-sukses was.

Die kongres is amptelik geopen met ’n burgemeestersonthaal. Tydens hierdie geleentheid het Danie van Wyk (uitvoerende hoof, SBA) die kongresgangers, aanbieders, asook ander gaste hartlik verwelkom. Gordon April, burgemeester van Oudtshoorn, het die munisipaliteit se steun uitgespreek en hulle verbintenis om ook in die toekoms die Wiskundekongres te ondersteun en te bevorder. Dirk Brand (voorsitter van die Raad van Trustees) het gefokus op die doel van die kongres. Die openingsrede is deur Christo van der Rheede (uitvoerende hoof van die Afrikaanse Handelsinstituut) gelewer. Voorwaar ’n gesellige geleentheid waar kongresgangers, aanbieders en lede van die gemeenskap mekaar kon leer ken en sosiaal kon verkeer.

 

Danie van Wyk (uitvoerende hoof van die SBA), Donald Smiles (lid van die parlement), Dirk Brand (voorsitter van die SBA), David Piedt (spreker)

 

Groot was ons opgewondenheid toe daar Vrydagoggend ongeveer 100 onderwysers aanmeld vir registrasie. David Piedt het die verrigtinge vir die dag geopen en spesifiek klem gelê op die belangrikheid van kwaliteit-onderrig. Na sy toespraak het onderwysers verdeel in kontaksessies wat onderskeidelik vir die senior fase en VOO-fase aangebied is. Met puik aanbiedings is daar behoorlik gewoeker met die wiskunde. Die sessies was prakties en interaktief. Hierdie sessies is Saterdag voortgesit met nog kundige aanbieders wat veral gefokus het op nuwe inhoud wat in die CAPS-kurrikulum bygevoeg is.

Kongresgangers het hul dank en lof uitgespreek tydens die afsluiting Saterdagmiddag. Ons glo werklik dat dit vir elke kongresganger ’n verrykende ervaring was.

Hierdie kongres gaan ’n jaarlikse instelling word. Vakadviseurs wat die kongres bygewoon het, het ook die behoefte uitgespreek vir ’n soortgelyke kongres vir laerskool-onderwysers. Die SBA het groot planne vir volgende jaar om ’n daadwerklike verskil in die onderrig van wiskunde te maak!

 

Wiskundekongres-aanbieders: Raymond Smith, Marlene Malan en Marise Oberholzer, projekbestuurder

 

Lees David Piedt se toespraak by die geleentheid.
Lees DJ Brand, voorsitter van die SBA, se toespraak by die kongres.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top