SBA en ATKV: Spitsberaad oor onderwys

  • 0

MEDIAVERKLARING

Spitsberaad oor onderwys

Huidige knelpunte in die onderwys, asook die identifisering van samewerkingsmoontlikhede tussen skole en die burgerlike samelewing - ten einde onderwysgehalte te help verbeter - is van die sake wat tydens ’n belangwekkende spitsberaad oor onderwys, aangebied deur die SBA en die ATKV, onder die loep sal kom.  Die beraad vind op Saterdag 28 Julie 2012 in die ouditorium van die Athlone Skool vir Blindes, Athlonestraat, Beroma, Bellville-Suid plaas.

Die beraad geskied teen die agtergrond van die voortslepende agteruitgang in die onderwys in Suid-Afrika.  Van die voorste kundiges in die land sal aan die interaktiewe besprekings deelneem. Die kwessies wat belig sal word, sluit in:  die huidige krisisse in die onderwys, die waarde van moedertaalonderwys om armoede en maatskaplike probleme die stryd aan te sê, die hantering van uitdagings in die onderwys, asook die uitwerking van die onderwyskrisis op die universiteitsektor.  Die beraad is egter nie bedoel as ’n kla-sessie nie, maar sal eerder ’n platform bied vir die daarstelling van kreatiewe oplossings.  

Die sprekers by hierdie geleentheid is mnre. Paul Colditz van Fedsas en Chris Klopper van SAOU, dr. Theuns Eloff, rektor van die Noordwes Universiteit, dr. Danny Titus en mnr. Danie van Wyk Uitvoerende Hoof van die SBA. 

Die spitsberaad, vanaf 08:30 tot 13:00, is oop vir almal wat wil kom saambesin oor kreatiewe oplossings vir die huidige probleme in die onderwys.  Bywoning is gratis, maar bespreking is noodsaaklik.  Om te bespreek of meer inligting te bekom, kontak Jackie Swart by jackie.swart@media24.com of tel. 021-9141739. 

Mnr. Danie van Wyk
Uitvoerende Hoof
Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans

Klik hier om die program af te laai.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top