Santa Gamka dra by tot die literêre diskoers rondom postapartheid

  • 0

Eben Venter: Santa Gamka
Tafelberg Uitgewers, 2009
284 bladsye
ISBN 978 0 624 04813 8

 

Met Eben Venter se nuwe roman Santa Gamka wil hy kompenseer vir die besware van somberheid wat teen sy vorige roman, Horrelpoot, ingebring is - aldus Venter in ’n onderhoud tydens die bekendstelling van sy sesde roman.

Venter is ’n skrywer wat dit tot dusver reggekry het om ’n bestendige publikasiefrekwensie vol te hou: elk van sy romans is losweg drie jaar uit mekaar gepubliseer, ’n ritme wat hy al byna twee dekades volhou. In hierdie tyd is die WA Hofmeyr-prys vir die beste Afrikaanse roman van die jaar drie maal aan hom toegeken en het hy hom as een van die Afrikaanse letterkunde se toonaangewende kontemporêre skrywers bewys.

Santa Gamka, wat deels tydens sy verblyf by die NIAS (Netherlands Institute for Advanced Study) in Den Haag geskryf is (die res in sy tuisdorp Prins Albert), moet volgens Venter se hier bo genoemde selfopgelegde taak ’n manier van "opmaak" wees vir die swaarwigtigheid van Horrelpoot en dan onder andere deur hoofkarakter Lucky Marais – verteenwoordiger van die eerste postapartheid-geslag – se ligte tred en kleurryke taal. Laasgenoemde het Venter tydens jare lange verblyf op Prins Albert by die plaaslike bruin gemeenskap waargeneem en keurig genoteer.

Die roman val gemaklik met die deur in die huis: “Sy anties het altyd gesê: ‘Jy’t ná apartheid aangekom, jy is vry, hou jou kordaat.'” Lucky doen dit ook met ’n selfversekerdheid en waagmoed wat hom onderskei van sy ouers en hulle onderdanige geslag: “hy het probeer inhaal wanneer hy kon en as daar ’n kans was om te vat daar in die Karoo, in Santa Gamka, dan was dit ’n kans wat hy self gemaak het.”

Dat Lucky ’n slim kop op sy lyf het, was vir sy onderwyser Mister D’Oliviera nie moeilik om tydens sy skooljare raak te sien nie en daarom het hy besluit om hom finansieel te ondersteun in sy naskoolse studie aan UWK. Lucky sou homself met sy kop bevry, het Mister D’Oliviera besluit. Jammer genoeg loop Lucky sy rieme styf teen onvoorsiene omstandighede en besluit om sy studies te staak en terug te keer na sy geboortedorp, maar nie druipstert nie: hy kry gou nuwe planne, alhoewel ietwat onkonvensioneel. Maar eers moet hy sy besluit om nie sy studie voort te sit nie aan Mister D’Oliviera beken. Die onderliggende metaforiese suggestie van hierdie insident sou kon wees: die voormalige maghebbers kan nie voorskriftelik wees oor hoe die voormalig onderdruktes hulself in postapartheid-Suid-Afrika opstel nie.

Lucky Marais is ’n man wat die wêreld om hom goed uitkyk en gou agterkom dat as jy op ’n ander manier kyk, verborge kanse sigbaar word. Hierdie kanse neem hy op sy eie manier en begin homself stadig maar seker uitwurm uit die benouende verlede van sy mense. Die spoke uit sy verlede begin hy troef deur sy liggaamlike vermoëns, en ander se behoefte daaraan, te verstaan. Sy lyf het ’n waarde waarvoor ander bereid is om ’n prys te betaal. Só ’n kans kan ’n man nie laat verbygaan nie. En hy benut hierdie kwaliteit tot voordeel van die seksuele ekstase van sewe kliënte in die steeds droër wordende Karoo-dorpie - maar veral ook ten behoewe van sy eie sak. Hy word ’n "rentboy" –  ’n woord wat ironies resoneer met die vroeër rassistiese en verkleinerende gebruik van die woord "boy" vir swart of bruin mans. 

Lucky se missie is om met ’n positiewe ingesteldheid die ou apartheidsbagasie van sy voorgeslagte af te skud en die wêreld vir homself oop te loop, ’n blink toekoms tegemoet – veral ’n toekoms wat nie gesloop gaan word deur geldgebrek of drankmisbruik nie, want dít is uit ervaring met sy ouers en sy gemeenskap sy twee grootste vrese. Lucky doen sy ding met soepelheid en flair as hy besef dat seksuele begeerte een van die gemene delers is wat almal tot hul basiese menswees bring. In die geheimsinnigheid van sy kliënte se huise en slaapkamers verbreek hy alle taboes rondom seksualiteit, ook dié van die edele (dog soms naïewe) voorskrifte van die liefde. Lucky help ’n ieder en ’n elk aan ’n vreugdetjie, solank hy maar goed betaal word; daar is ook diegene wat nie eens hoef te betaal nie, want Lucky is boonop vrygewig. Deur die kat in die hoenderhok van die konvensioneel Suid-Afrikaanse ras-, klas- en gender-orde los te laat, skep hierdie "rentboy" nuwe moontlikhede, vryhede en luukses vir homself en sy familie.

Tussendeur sy lonende bedrywighede met sy sewe kliënte kom Lucky in aanraking met ’n enigmatiese homoseksuele paar wat nie bevooroordeeld is nie en geen oordele fel nie: Eddy & Eamonn (duidelik geskoei op Venter en sy vriend Gerard Dunlop, aan wie die roman ook opgedra is). Ongeag of hulle ’n ononderskeibare simbiotiese eenheid vorm en of hulle twee afsonderlike individue is elkeen op sy eie missie, een ding is seker: hulle huis, en veral die groot stoep voor hul huis, word vir Lucky ’n veilige hawe. Hier leer hy om te ontlaai, maar ook om aan en in te vul. Eddy & Eamonn verteenwoordig die samesmelting van bekende en vreemde, van Afrika en elders: Eddy is van die dorp, maar Eamonn is van Ierland en vind alles van die dorp bevreemdend en afstandskeppend. Dié afstandsblik help Lucky om dinge in perspektief te plaas. Juis binne hierdie oase van teenstellings en ooreenkomste vind hy sy rus en ook die kode tot ontsnapping uit die dorp en die land, want te midde van sy suksesvolle seksuele entrepreneurskap groei by hom die vermoede dat sy heil elders lê as in sy dorp waar die water besig is om op te raak en die elektrisiteit telkens die gees gee. Die idee begin vorm aanneem dat hy saam met Eddy & Eamonn na die Verenigde State sal gaan.

Miskien ook nie so ’n slegte idee nie, want helaas is die klein, sluimerende, droogtegeteisterde Karoo-dorpie aan die voet van die Swartberge, daar waar spekbos groei en klip en vlakte heers, nog nie opgewasse teen Lucky se soort "gemeenskapsdiens" nie, en nog minder gereed vir die selfbevrydende en selfbevestigende seksualiteit van ’n persoon uit ’n voormalig onderdanige ras/klas. Die orde moet nog so bietjie gehandhaaf word, al is dit oënskynlik, want selfs oënskynlikheid bied gerusstelling. Maar die dorp is in rep en roer as ’n ou vrou (toevallig een van Lucky se kliënte) gewelddadig verkrag word en Lucky ook onder verdenking te staan kom. Dinge word warm vir die man met die lekker lyf.

Voor hy hom kom kry, bevind Lucky hom in ’n situasie wat teenstrydig is met die hoop wat sy naam verteenwoordig. Sy sewe kliënte word vervang deur sewe minute van hel as hy deur drie wit mans en een bruin man agtervolg, afgeransel en in ’n pottebakkersoond geprop word om ’n gewisse vuurdood (metafoor: vagevuur) af te wag. Tydens die sewe minute in die oond speel Lucky se lewe voor hom af en word die vertelling daarvan voltrek. Sewe kliënte se passie en sewe minute se hel versmelt. Bevryding en verdoemenis oorkruis mekaar.

Wonder bo wonder (bietjie onwaarskynlik, maar tog nie steurend nie) ontsnap Lucky die vuurdood om van meet af aan in ’n nuwe dilemma te beland. Dié keer vlieg hy, onder begeleiding van Eddy & Eamonn, na New York City, om in die Verenigde State ’n nuwe lewe te begin. Ná sy wonderbaarlike herrysenis uit die vuuroond simboliseer hierdie "opstandingsvlug" ook ’n tipe hemelvaart. Dit skep onvermydelik die assosiasie van Lucky as postapartheid-Jesus-figuur, en retrospektief Lucky se kliënte as dissipels wat hul heil nie spiritueel nie, maar wel seksueel ontdek.

Die vlug is vooraf netjies beplan: hulle sal vanaf Boston Logon verder na La Guardia-lughawe vlieg, vanwaar hulle ’n geel taxi tot by 17th Street sal neem, waar ’n kamer vir drie alreeds bespreek op hulle wag. Maar dis presies ’n jaar na die gedoemde 9/11-vlug en hulle vlieg dieselfde roete as die kapers: Boston na New York op Delta Airlines. Tydens die vlug word Eddy & Eamonn se frekwente maar onskuldige toiletbesoeke as agterdogtige gedrag beskou en ná aankoms op La Guardia word die drie aangehou en ondervra. Maar as die ander twee vrygelaat word, is Lucky die een wat die spit moet afbyt – die een wat namens die ander moet boete doen. Ook uit hierdie situasie gaan dit nie maklik wees om te ontsnap nie.

Die laaste gedeelte van die roman, oor die vlug na New York City, staan as ietwat onbevredigende appendiks té los van die res van die roman. Tog wys dit hoe Lucky, selfs nadat hy sy allerbes probeer het om in Santa Gamka (mikrokosmos van Suid-Afrika) sy verlede te ontvlug, ook nie sy heil elders in die wêreld kan vind nie. Is hy gedoem?

Indien Lucky, as simbool van postapartheid, nie die kans gegun word om sy eie redding te bewerkstellig en sy eie plek in die wêreld op sy eie manier te verwerf nie, bied die roman ook weinig hoop aan ’n nuwe Suid-Afrika.

Met hierdie gevolgtrekking kan ek nie anders as om te twyfel of Venter wel met hierdie roman slaag om ’n ligter korrektief vir Horrelpoot daar te stel nie, want Santa Gamka bied ’n soms uitsiglose kyk op die moontlikhede van postapartheid-Suid-Afrika. Maar selfs hier eindig die troebel blik nie, want dit sluit ook die Oos-Wes/Islam-Christendom-konfrontasies in wat vandag, veral in Europa, besig is om in ’n enorme spanningsveld te ontaard.

Of sou mens Lucky se slagofferskap en boetedoening vir iets waaraan hy nie skuld het nie, kan interpreteer as ’n tipe Messiaanse verlossingshandeling? Alhoewel hy hom nie vrywillig oorgee nie, is hy tog bereid om Eddy & Eamonn te laat gaan en self die situasie te probeer red: “Dis oukei. Hulle hoef ook nie [te wag nie]. Hy sal hulle altyd vashou, nooit vergeet nie.” Al bly die wêreld se deure vir Lucky toe (“hy het nog nooit ’n deur gesien wat so toe kan wees nie”), sien hy tog kans om vreesloos en vol trots in dié nuwe vreemde situasie van die interrogasiekamer sy eie bas op sy eie manier te red. Gaan hy weer sy liggaam gebruik? Dus miskien tog ’n skrefie lig. 

Santa Gamka lewer ’n belangrike bydrae tot die literêre diskoers rondom postapartheid en die representasie van hierdie nog gestalte-genererende sosiopolitieke ruimte, maar Santa Gamka is nie die heeltemal die kompenserende oase wat Venter voorsien het nie – inteendeel, ek lees dit eerder as ’n fata morgana van verlossing in die metafories steeds droër wordende postapartheid-suiderland.

Santa Gamka is ’n sterk roman met ’n ryk register van interpretasiemoontlikhede, maar nie Venter se beste nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top