maggies, so gat magtiges t’werk, operasioneel,
prakties, sosio-ongeletterd, van Idee g’n idee,
al verkondig hul hul “geloof”, asof’l “gelowig” is,
besmet hul hul mede-Mens, “Duiwelspiek”-sieklik,
Self olik, spiritueel deurtrek, met ‘jy-weet-mos-wat’
mede-Mens onwetend proefkonyn, van leier se Leier,
toegerus met vermoë, te sien wat meerderheid begeer,
pap-‘n-vleisvreter, VIGS-ontkenner, Millennium Drie nar,
straatslaper, skarrelaar, afhanklik van aalmoese, ou brood,
te veel sterf anoniem, deurdrenk van drank, swawel en al,
neem stelsel nie stelselmatig Groter Geheel in berekening,
nog minder in ag, Mens se gelykheid, steeds verkrag, ja,
nageslag sistemies, sistematies, tot submissiwiteit verkneg
Nommer, Generaal, saamroeper, voorsitter, grootprater,
tronkvoël, bandiet, uitkoms van opvoedkunde-kundiges,
van struktuurgeweldsinstandhoudersuperioriteitsteorie,
Naaste soos Verste hanteer, afstandelik, doer, verban,
amper onaantasbaar, posisie met pejoratief verstewig,
in identiteit in ingeprent, asof’t vooruitbesluit, bestem’s,
asof Mens net met lot moet saamstem, sonder protes,
versus “Duiwelspiek”-aanbiddingsinskiklikheidspsigose
selfs Moederstad deur stadvader, -moeder, onteer, geminag,
Krotoa Havgard deur afgevaardigdes as “Hottentot” betrag,
terwyl Baron van Plettenberg, Oudtshoorn, in hul moue lag,
Verwoerdiaansheid nie deur straatnaamverandering beëindig,
kolonialisme net in nuwe baadjie, Krotoa verban tot ‘n stegie
Onderdrukker Een slegs met slimmer Twee gesub, vervang,
nuwe regime volg selfde regime, veral van “ras” en “klas”,
asof Self-destruksie nie produk van struktuurgeweld was,
stelsel nog swanger van “Duiwelspiek”-verering, Liewe Vader,
Moederstad onderworpe aan rekolonialisering, pseudo-dwepery,
Stad van ons Moeder nie naastenby van “Sjatansberg” bevry
demokrasie ook nie so demokraties, soos Grondwet wil hê,
luister leiers aandagtig, ingenome, as neo-rassiste iets sê,
skrynend verdierliking van Eerste Mens, in hul sakeplan,
volksmoordgeskiedenis tot amnesia-anonimiteit verban,
struktuurgeweld, wyd-‘n-syd Ekonomie Een-oorleefbeleid,
hoe gebruik magtige’t, waaragtig, meer mag t’inkorporeer,
in sy ryk, meerderheid nes apartheidsonaantasbares t’hanteer
Homo Spataar Spataar, Self, verblind, blindweg blindstaar,
versus virus van ontkenning, onkunde-ontkenningsindroom,
meerderheid se tjôtjômbie-mentaliteit, onmenslik submissief,
neerkniel voor onderdrukkersapparaat, werktuie van slawerny,
lot van knielendes, agtergeblewenes, bloot gissing, spekulasie,
niemand seker wie eintlik vir wie virrie gek hou, ommie bos lei,
hoekom staar slaaf se kind so stip, star, op, na “Duiwelspiek”,
hoe gat hoop op regmaak-HOP, op Gewete-Herwinning, waar,
hoe gat genoemde sosio-spiritueel, universeel, bewerkstellig,
verwesenlik word, vir Mens, mede-Mens, mede-Kreatuur,
hoe lank nog moet ongeletterdes aan ongeletterdheid ly?
g’n rekonsiderasie, heroorweging, van Gewete-herwinning,
Gees en vlees, van Mens, post-Besinning, gefieks, opgekikker,
vol Self-Respek, intra-Waardigheid, inter-mede-Menslikheid,
in-‘n-op alle gebiede, lat Mens’T suiwer wetenskaplik ervaar,
einde kan maak aan Self-destruksie, sotlik sjatansverering,
val vir trieks van kapitaalverhaalromansiers, romantici,
Millennium Drie ivoortoringhistorici, idoliatrie-paparazzi
moet Mens gaandeweg streef, Paradys-gerig t’Leef,
wetenskaplik, Spiritueel, intens bewus, ingelig,
van prakties uitvoerbaarheid, van alternatief,
tot kapitaalkoninkryksuperioriteitsindroom,
neo-apartheid, Self-destruksie-missie, -visie,
so asof Mens rêrig wis, God is Waarlik Bewus,
lat Mens, so hardegat, hardekoejawel, hardgebak,
as’t Ware, nie eintlik werklik lus is, vir Uitkoms,
uitkoms, ontsnapping, Bevryding, Sý Saligheid
Jacobus Faasen

