Hier is dit nooit warm nie. Hier is dit nooit koud nie.
Hier waar die aircon se wit gedruis voetstappe benoud
insluk en lank na middernag eers weer uitspoeg en wys.
Hier waar ons wag op die rand van wees en was.
Besoekers ruik na die buitekant, na strate en gras, naaldekokers
en nat honde, gesigte oordonder deur bewegende monde,
geluidlose lippe gestel soos wurgende wippe,
maar as jy doodstil sit, sal die sekondewyser almal wegdruk.
En dan is dit net ons met die skaduwee
wat elk in sy eie sirkel rondsleep.
Vetkryt-vrou wat kleuterboekies inkleur,
man wat huursoldate in die wagkamer werf,
sy wat snags pajamas in die gang afskeur,
tattoo meisie wat greintjies vleis uit haar bene kerf.
Meeste lyk heel normaal met ‘n leeggepompte maag.
Ons het ‘n hand aan mekaar se mal gewaag,
vinger gedip in mekaar se bloed.
Ek soen-groet my kamermaat se duiwel al,
skil elke dag lae vel af, amper soos ‘n ui.
Tot die eerste een af is, kan jy nie weet
wat jy onder hom gaan kry nie en as jy
die volgende een dra, het jy die vorige klaar vergeet.
Hulle wou ons vlermuise met Rorschach-nette vang,
met pille verwilder waar hulle in ons koppe hang,
maar my muise hou hulle oë bot toe, wyse vlerke om hulle lywe gevou,
tone wat onderstebo aan ‘n breinvertakking klou
tot die soekligte soos voetstappe in die aircon se gedruis verdwyn.
Hier is dit nooit warm nie. Hier is dit nooit koud nie.
Hier maak ons ons eie weer, laat ons eie maan skyn
met strale wat die grond kan skeur.
Hier het ek gewoond geraak aan die manier
waarop die aarde voor my oopkraak.

