Só onthou ek Charles Fryer

  • 0
Charles Fryer

Verlede Donderdag (20 November 2014) was ons in dieselfde kerk waarin Charles Fryer se Passiespel Só moes die Liefde ly vir die eerste keer opgevoer is. En hier het sy familie, vriende, oudkollegas, skrywers, digters en Passiedeelnemers hom vir die laaste keer kom groet. So asof dit só moes wees.

Na die roerende gedenkdiens dwaal gedagtes terug na die Passiespel: Charles die regisseur met 'n span helpers om hierdie groot droom van hom te bewaarheid.

Deelnemers, almal amateurs, wat van so ver as Stellenbosch, Malmesbury, Atlantis en ander Bolandse dorpe gekom het vir die repetisies. Charles wat op pad huis toe ná werk skielik die woorde en wysie vir 'n sekere deel van die teks in sy kop kry, en dit moes aanhou neurie sodat dit nie vergete kon raak voor hy tuis was nie.

Ons het gereeld tot laatnag geoefen om alles so na aan perfek te doen soos wat hy dit wou hê. Met die laaste oefening voor die openingsaand verloop alles seepglad – totdat die een dissipel die lyk van Judas Iskariot oor sy skouer moes dra. Die tou om Judas se nek waarmee hy homself aan 'n boom gehang het, sleep agter hulle aan en dis net die twee van hulle op die verhoog, maar terwyl hierdie dramatiese toneel afgespeel word, begin Judas onbedaarlik hik – en die waardige Charles Fryer bars in 'n lagbui uit wat jy tot wie weet waar kon hoor.

Al die mans wat deelgeneem het, het maande voor die tyd spesiale toestemming gekry om hulle baarde en hare te laat groei, iets wat ook tot ligter oomblikke in die Kangogrotte sou lei. 'n Paar van hulle moes gaan ondersoek instel na die wenslikheid van opvoerings van die Passie in die grotte. So kom 'n groepie Oosterling-toeriste op hulle af en een ou gaan staan voor oom Pietie Loubser en trek aan sy spierwit baard en silwergrys hare om uit te vind of dit régtig eg kon wees.

My persoonlike pad met Charles en Loreinne Fryer het begin toe ons jonggetroudes was. Hulle was vriende met wie jy jou lief en leed kon deel. Jare later, toe my ma oorlede is, het Charles my gevra om 99 limerieke vir publikasie te skryf. Dit was nadat Loreinne een van my rympies onder 'n magneet op hulle yskas geplak, en Charles dit daar gesien het. Ook was dit heel moontlik sy manier om my uit daardie verskriklike depressie te probeer lig. En só begin seker die mees onprofessionele verhouding wat daar ooit tussen 'n onkundige skrywer en 'n geduldige redakteur kon wees. Met elke limeriek het ek, gewapen met 'n boksie Nutties vir hom, na hulle huis gegaan sodat hy dit moes lees. Ek was nie een enkele keer in sy kantoor by die uitgewery nie. Toe Charles begin moeg raak vir sy oordosis Nutties, het hy Loreinne aangesê om my te laat weet dat hy besig was om te bad wanneer ek limeriek-en-Nutties-in-die-hand daar wou opdaag. Selfs dit kon my nie ontmoedig nie en daar is aangebied om sy rug vir hom te was, hoewel hy ongelukkig nie daarvoor te vinde was nie. Tog het hy keer op keer gesorg vir daardie ekstra "spark" wanneer dinge nie so lekker wou vlot nie. Ek sou byvoorbeeld iets skryf oor ene Marita de Roodt, dan het Charles met 'n onnutsige glinster in sy oog heel "onskuldig" gevra: "Wil jy nie haar naam liewer ‘Martita’ maak nie?" O ja, hy het geweet hoe om 'n idee nek-om te draai en in die rigting van die anatomiese te stuur, soos dit maar gaan met die meer gewaagde limerieke. En hy het geweet hoe om subtiel van my ontslae te raak terwyl daar dan gewerk is aan Marita se naamsverandering en 'n heel nuwe limeriek op dié manier tot stand gekom het.

Ellen Botha

Loreinne vertel dat Charles na sy beroerte die afgelope 12 jaar nie een dag sonder pyn was nie. Dit was 'n moeisame pad om van voor af weer te leer praat, skryf en beweeg, maar hulle het geweier om op te hou veg teen hierdie tragedie wat hulle getref het. Sonder haar – en ook hulle kinders, Charleinne, Andrea en William – sou hy sekerlik nie hierdie ekstra jare gehad het nie. Hulle liefdevolle versorging het hom gedra.

Hoewel Charles, die geliefde digter, nie meer hier is nie, is van sy gedigte in Nieu-Seeland gehoor. My vriend Jan Coetsee uit Auckland skryf verlede week op Facebook: "Ek het 5 weke gelede hierdie (‘Rooiwielwa’) en nog vier Fryer-gedigte tydens 'n Kers- en Versgeleentheid voorgelees. Die hoofsaaklik Nederlands- en Vlaamssprekende gehoor was sonder uitsondering beïndruk met Charles se werk. En nou het hy ook 'n bietjie gaan skuinslê. Vir oulaas. Ek is dankbaar vir al die aangename lees- en luisterervarings wat Charles op my pad gebring het.

Voor in my Rooiwielwa het Charles in sy netjiese handskrif geskryf:

Vir Ellen

'n Vriendskap soos joune is duursamer as 'n rooi tapyt, 
kosteliker as 'n fees in silwerskottels aangedra; 
dis 'n skild teen die slae van wêreld en tyd, 
'n tuiskoms vir van ver 'n rooiwielwa.

Charles
22 Julie 1978.

Charles is weg met sy rooiwielwa, maar sy woorde sal immer by ons bly.

Lees Annari van der Merwe se huldeblyk.

Lees ook Danie Botha se huldeblyk.

Lees ook Petra Müller se huldeblyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top