Rympies vir kleintjies en kleuters, saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit

  • 5

Rympies vir kleintjies en kleuters
Samestellers:  Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit
ISBN:  9780624081920
NB-Uitgewers

Rympies vir kleintjies en kleuters is ’n opvolg op Rympies vir pikkies en peuters, saamgestel deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit, met illustrasies deur Alzette Prins, Karen Ahlschlager, Marleen Visser, Dale Blankenaar en Vian Oelofsen.

Hierdie is seker die volledigste en keurigste samestelling van kleuterversies wat tans in Afrikaans beskikbaar is. Die pragtige boek is deur Tafelberg uitgegee en is hopelik by alle boekwinkels beskikbaar.

Elke grondslagfase-opvoeder en dramajuffrou soos ek is voorwaar baie dankbaar vir so ’n allesomvattende rympiesboek.

Ek was bevoorreg om ‘n ma te kon hê wat altyd ’n rympie of versie gehad het vir enige geleentheid. Dit het my lewe van jongs af ingekleur met ritme en rym, speelsheid en klank wat tot vandag nog my lewe verryk. Elke ouer en opvoeder moet rym en vers gebruik as ’n sleutel om die deur tot ryke woordeskat, keurige taal en kreatiwiteit oop te sluit. Rympies, versies en gediggies baan ’n pad vir literêre en wiskundige ontwikkeling. Ek kan seker nog meer liries raak oor die belangrikheid van vers en rym, maar laat ek eerder hierdie bundel verder bespreek.

Hierdie bundel is baie goed deurdag en noukeurig saamgestel om al die ontwikkelingsdimensies van ’n 3–5-jarige kind in ag te neem.

Die afdelings en items waaroor gedig en gerym word, is deur die Nasionale Kurrikulumraamwerk gemotiveer. Gelukkig is die titels van die vyf hoofafdelings nie so formeel bewoord soos in ’n onderwyshandleidingsboek nie.

Ek glo dat genot en liefde vir taal die hoofmotivering moet wees vir so ’n kinderverseboek en nie ’n oordrewe drang om op te voed en inligting oor te dra nie. In my dramaklasse is dit die gediggie met die meeste rym en ritme, lawwe woorde en humor wat die kind se aandag trek. So katrol jy die kind in om toevallig die ander uiters belangrike dinge te leer, soos voeding, higiëne, veiligheid, ens. Die afdeling “Hier is ek” (met subafdelings soos “Wie is ek?” en “My lyfie”) is vol lekker rympies wat die kind se liggaamsbeeld sal bevorder, asook die kind sal help om liggaamsdele te herken en te benoem. Onder die subafdeling “My lyfie” roer die gediggie “My hart”, deur Gerda Beyers, my hartsnare. By die subafdeling “My lyfie is siek” sal baie kinders slegte medisyne kan afsluk met die ritmiese lekkersê-rympie van Linda Rode oor medisyne, “Malinkie malakie malyne, kom drink jou medisyne”. Hierdie afdeling is pragtig en kindvriendelik geïllustreer deur Alzette Prins.

Die volgende afdeling, “Ek speel”, is kleurvol en vrolik deur Karen Ahlschlager geïllustreer en kinders sal die speelse prentjies baie geniet. In dié afdeling het Sunette du Plessis se rympie, “Lawwe rympie”, se lekker rym en ritme my aandag gevang. Ek sal hom beslis vir my graad R-dramaklassie leer. Kinders is mal oor klanke, en as die klanke nog gekombineer word met ’n lekker ritme is dit ’n wenresep, soos met Moja Beyers se “Ons orkes”. Vi le Roux se “Ewe swaar” is ’n uitstekende voorbeeld van waar rympies gebruik kan word om wiskundige begrippe te bevorder. “T-Rex in die swembad” deur Marion Erskine is vir my pragtig, omdat ek kan sien hoe ek en my graad R-klassie die gediggie kan uitspeel.

Onder die subafdeling “Fantasiespel” wonder ek sommer net of ons nie moet pasop vir stereotipering nie, byvoorbeeld in gediggies soos “Meisies en seuns” deur Leonette Smit. Ek het al seuntjies in my dramaklasse gehad wat ook eerder hulself wil optof as om geveg-geveg te speel en vice versa.

“Rondom my” is sag en vloeiend geïllustreer deur Marleen Visser. In hierdie afdeling het die gediggie “Ouma Afrika” my aan my ma laat dink as sy met haar kleinkinders in Nederland gepraat het, en ek het byna trane in my oë gekry toe ek dit lees. Dit wys dat hierdie digbundel aangepas is by hedendaagse Suid-Afrikaanse realiteite rondom families wat ver weg van mekaar op ander kontinente woon. ’n Gediggie soos “Spaar water” deur Jaco Jacobs wys dat hierdie bundel toegewy is om ons kinders op te voed ten opsigte van toepaslike en dringende kwessies.

In die subafdeling “Troeteldiere” is ek dankbaar vir Dalina Heese se humoristiese gediggie “Nee, Kaptein”. Kinders is gaande oor so ‘n bietjie toilethumor, en kinders wil almal ’n babahondjie hê, maar niemand wil sy gemors opruim nie. Nog so ’n lekker humoristiese gediggie is Engela Duvenage se “My troeteldier”.

Die subafdeling “Tegnologie” wys ons dat die samestellers erns maak om die gediggies te laat aansluit by die kind se hedendaagse lewe wat omring is met tegnologie. Die versie deur Melodie Veldhuizen, “TV”, gaan ek beslis vir sekere van my gesinslede voordra as waarskuwing. Dankie vir hierdie versie, Melodie, ek het hom reeds gememoriseer. Elaine Coetzee se “SMS” leer ons kinders dat jy selfone ook vir positiewe boodskappe kan gebruik wat verhoudings versterk. Daar is dus ’n goeie balans tussen waarskuwing rondom oorgebruik en hoe om dit verantwoordelik te gebruik. Dae van die week, vorme, kleure en getalle is eenvoudig kennis wat ons kinders moet bemeester en daarom is hierdie afdeling onmisbaar in so ‘n bundel.

Die volgende afdeling, “Ek raak slim”, is geïllustreer deur Dale Blankenaar, en aangesien dit oor emosies en sensitiewe sake handel, hou ek van die eenvoudige swart-en-rooi  illustrasies wat die fokus rig op die emosies en sensitiewe situasies soos vreemdelinge by ons deur en van versies soos Emmie Becker se “My swembroekie”. In hierdie afdeling is die gediggie “Janus en Waldie”, deur Andree-Jeanne Totemeyer, baie treffend. Ons moet ons kinders empatie en begrip gee vir mense met gestremdhede, soos in die hierdie versie wat oor gesigsgestremdheid handel.

Die laaste afdeling, “In die natuur”, is pragtig speels en humoristies geïllustreer deur Vian Oelofsen. Ek hou veral van daardie hondjie met die vlooie wat so spring as hy homself krap. In hierdie afdeling is daar soveel verskeidenheid, en daarom was dit slim om ook ’n raaiselvers te plaas. Dalina Heese wys met haar onderwyservaring dat kinders graag in die klas wil beweeg en dat dit vir hulle tog te lekker is om diere na te boots. Raaiselverse soos “Diereraaisels” kan tot baie pret in die klaskamer lei. Ek hou ook baie van Leonette Smit se “Laksman”. So ’n gediggie kan interessant wees, omdat nie almal sal weet wat ’n laksman is nie.

Die bundel is so deeglik dat die boek met ’n uitgebreide gebruikersgids afsluit. Indien jy nog sou twyfel oor die waarde van so ’n boek, moet jy Gertie Smit se noukeurige en akademies-gefundeerde gebruikersgids bestudeer.

Ek is so bly ek kan nou hierdie bundel toevoeg tot my reeds bestaande kinderverseboekversameling, Nuwe kinderverseboek en Rympies vir pikkies en peuters, ook deur Riana Scheepers, Suzette Kotzé-Myburgh en Gertie Smit.

Baie dankie vir hierdie onmisbare bydrae tot die Afrikaanse letterkunde.

  • 5

Kommentaar

  • Elsie C Hartman

    Goeie dag.

    Kan u asb vir my meer inligting e-pos in verband met die pryse vir die reeks boekies asb.

    Baie dankie
    Mev Elsie C Hartman
    Sel: 082 469 3339

  • Bradley Da Silva

    Hi daar. Ek maak my seuntjie Afrikaans groot. Hy is amper twee jaar oud, nog 'n maand. Is daar Afrikaans CD's en/of DVD's met stories en musiek om lekker saam te sing ens?

  • Lelani Burger

    Ek was effens teleurgesteld in die boek. So uitgesien daarna om dit te ontvang na ek dit aanlyn bestel het. Niks van die rympies wat my 4 jarige in die skool leer is in die boek nie. Gehoop dat die boek vir mamma sou help met die skool rympies

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top