Ry saam met my

  • 1

Foto van die Twaalf Apostels: Pixabay; foto van Marianne Styan: verskaf

Ons elkeen het ons pad wat ons elke dag ry om by die werk te kom en weer terug. Min van ons spring hierdie roete vry. Ons het egter elkeen ook ons unieke “reisgenote” wat ons vergesel soos ons daai pad vat.

Een van my huistoegaanroetes bly nou nog by my, selfs jare na ek al getrek het. Laat ek jou vertel van daardie pad se reisgenote, waarna ek nou nog verlang.

Ek loer na die see as ek na werk in my kar klim in Seepunt. See lê vandag dood stil, amper soos n spieël. Ek groet haar, want sy is my konstante reisgenoot elke dag werk toe en terug.

Dis heerlik om so saam met haar te ry, want dis nooit vervelig nie. Sy het so baie stories om te vertel. Soms is sy egter maar wispelturig, veral as haar vriendin, Suidooster, ook wil saamry. Dan staan die perdjies op die water soos hulle met mekaar baklei. Of as Kaapse reën die dag ongenooid opdaag, vererg sy haar soms so erg dat sy besluit om sommer heeldag in haar vaal nagklere te bly.

Maar vandag, sien ek, is dit net ek en sy. En sy is in n goeie bui.

Op sulke dae, soos ons ry, verander sy haar uitrustings soos ons al kronkelend om die hange draai. Haar kleurskemas is ongewoon. Sy kombineer partykeer kleure wat enige voorkomskonsultant ’n oorval sou gee, maar omdat sy die natuur ken, oortree sy die reëls soos dit haar pas, want dit pas haar soos ’n handskoen.

Soos ek in my kar klim, sien ek sy het haar kobaltblou satynrok aan. Een van my gunstelinge. Miskien omdat dit so sag en strelend lyk. Ek wil my hand uitsteek en daaraan vat.

Ek draai my kar se neus in die rigting van Kampsbaai. See sit aan my regterkant, met Kaapstad agter my. Ek kies meestal die boonste pad as ek terug ry, want dan het ek ’n beter uitsig op See.

Ek ry deur Bantrybaai en Clifton en dan kronkel die pad afwaarts na Kampsbaai. Hier ontmoet ek weer vir See en loop ons paadjies parallel as ek my pad baan deur die groot aantal mense wat óf ’n drankie drink in die baie restaurantjies langs die pad óf saam met See wil kom baljaar omdat sy in so ’n goeie bui is.

Teen hierdie tyd het See haar oranje, turkoois en ligpers pakkie aangetrek. Sy lyk soos ’n somersbries.

Selfs al nooi sy my om hier ’n rukkie langer te kuier, hou my kar op die pad en begin ek die kronkels volg rondom die voete van die Twaalf Apostels wat links van my lê. Geboue is nou eers iets van die verlede en ek geniet die natuurskoon.

Elke nou en dan besluit die berge ook om n bietjie te “dress-up”, dalk ’n bietjie jaloers omdat almal net vir See staar. Dis aan die einde van reëntyd en hulle gloei amper neongeel agv die wilde-els-bossies wat oral op hulle groei, met spatsels pers van die fynbossies wat ook kom gesig wys. Gespasieer soos mode-fokuspunte.

Soos ons begin Suikerbossies uitkronkel en Llandudno amper regs onder my lê, verruil See weer haar uitrustings. Hierdie keer vir ’n sagte bloupers, perskekleurige en pienk skepping. Nog nooit so baie pastelkleure by mekaar gesien wat so mooi kan lyk nie.

Sy gesels land en sand vandag. Ek dink sy is nostalgies, want sy vertel my al haar geheime en hoe sy menige skip al gebreek of veilig in die hawe ingebring het.

Net oor Suikerbossies se nek lê Houtbaai voor my in die vallei. See wag al klaar daar vir my. Ek verloor See vir ’n rukkie uit sig uit, maar soos ek uit die dorp ry, sien ek haar rustige golfies die strand liefkoos. Die vissersbootjies wat ek elke oggend sien haar wye horisonne in volle vaart aandurf, kom nou een-een na ’n lang dag se werk die hawe binnegevaar.

Hier is die berge nie meer skaam vir See nie en tuimel hulle voete in die water soos my kar weer opdraande begin kronkel, teen Chapman’s Peak uit. (Menige drawwer en fietsryer se Achilleshiel ... no pun intended.)

As ek by die tolhek stop en my venster oopdraai, ruik ek die vroeë somer in die lug en sien ek die proteas vir See sterk kompetisie gee met hulle skoonheid. Dis miskien hoekom sy besluit om weer van voorkoms te verander. Met son wat begin wegsak, moet sy alles uithaal, en haar kleurskema is nou diep pers en ysblou. Asemrowend!

Steeds kronkel my kar gewillig die pas uit. See begin al verder onder my lê. Maar ek geniet dit, want my uitsig raak al mooier.

Op die bopunt van Chapman’s Peak kan ek nie verhelp om net vir ’n oomblik by die uitkykpunt te stop en ’n foto te steel nie.

Soos ek die boonste draai vat, sien ek eerste Kommetjie se ligtoring en dan lê Noordhoek se breë, uitgestrekte strand regs onder my. Die pad begin ondertoe kronkel en ek kan begin petrol spaar deur amper die hele pad te vry-ry. (Ons lewe in swaar tye!)

See is nou in turkoois en poublou getooi. Nog ’n gunsteling van my. Haar water is so deursigtig dat ek selfs die rotse onder die voue van haar uitrusting kan sien, naby waar die golwe langarm dans met die wit sand. Soos elke dag, begin die perderuiters op die Noordhoekstrand terug draai na hulle uur lange rit as ek daar verby ry.

Dan verloor ek weer sig van See. Ons tyd saam op reis is amper verby. Ek ry die laaste kronkels van die pad na onder en ry dan deur die amper Engelse-platteland-gevoel-graskampe wat so eie is aan Noordhoek. Oral staan die perde en wei op die grasgroen velde.

Ek draai links, teen die Silvermine-berg op (wat vir my lyk soos Suid-Afrikaanse Alpe). Ek kan vir See skrams sien as ek uit my kar klim voor my huis. Maar soos ek op loop met die trappies na my stoep, kom die hele Noordhoekstrand in sig en het ek ’n arendsuitsig tot by die ligtoring.

See het haar finale skepping aangetrek vir die dag – middernag-en-ysblou. Fantasmagories!

Ek slaak ’n sug van genoegsaamheid. Ek bly seker in een van die mooiste plekke in die land. Wat ’n seën. Ek voel of ek op vakansie is en dit na ’n hele dag se werk.

Ek groet vir See, maar ek weet môreoggend sien ek haar weer en ek kan nie wag om te sien watter kleurskema sy dan gaan kies nie!

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top