Ek het reeds lank bedenkinge oor die oordrewe sug na politieke korrektheid by die bestuur en personeel van die Afrikaanse Taalmonument. Hulle benadering behoort eerder wetenskaplik gefundeerd te wees. Ongelukkig vind die Paarlse reklamevereniging hierby aansluiting deur Afrikaans sonder meer ’n kreoolse taal te noem (The little black book of Paarl, 2011-2012, p 4). Van die bakermat van die eerste formalisering van Afrikaans verwag ’n mens meer insig.
Volgens die HAT dui "kreools" op ’n bepaalde soort mengeltaal, naamlik ’n Europese taal wat met ’n nie-Europese taal vermeng is. Kreools het dus ’n etniese konnotasie, naamlik die vermenging van die taal van wittes met dié van nie-wittes. Volgens die HAT is Fanagalô so ’n mengeltaal, want dit is grammaties Engels en Afrikaans met ’n hoofsaaklik Nguni-woordeskat. Kaaps is ’n mengeltaal, maar nie ’n kreoolse taal nie, omdat dit grammaties Afrikaans is, maar (doelbewus) met Engelse woorde besoedel word.
Standaardafrikaans is uiteraard nie ’n kreoolse taal nie, want die getal erkende woorde van nie-Europese (bv Oosterse) oorsprong is minimaal. Daniel Hugo toon aan dat die vereenvoudigingsproses wat Nederlands ondergaan het voordat dit Afrikaans geword het, baie stadiger as by kreoolse tale plaasgevind het. Hierin het nie net die (deesdae veelgeprese) slawe ’n rol gespeel nie, maar ook nie-Nederlandse immigrante, veral Duitsers (Halala Afrikaans, Pretoria: Protea Boekhuis, 2009, p 26-27) en Franse.
Hoofstuk 10 van RW Johnson se boek, South Africa’s brave new world: The beloved country since the end of apartheid (London: Penguin, 2010, 710p), handel oor "the strange world of language politics in South Africa" (p 370-380). Ek het voorheen gunstig na Johnson as politieke kommentator verwys (SêNet, 27.06.2011, 12.01.2012). Dit beteken nie dat ek sy benadering kritiekloos aanvaar nie. Hy gebruik sy liberale standpunt om die sogenaamde apartheidsregime sonder meer te verdoem, wat waarskynlik help om sy grondige kritiek op die nuwe Suid-Afrika vir baie lesers aanvaarbaarder te maak. Maar Johnson laat na om die voorafgaande wêreldwye Britse segregasiebeleid, waarvan apartheid ’n voortsetting was, te veroordeel.
Johnson se magnum opus dui op uitgebreide navorsing en indrukwekkende boekstawing. ’n Mens kon kwalik verwag dat alles foutloos moet geskied. Hy skryf bv die frase "six impossible things before breakfast" toe aan Samuel Johnson (p 325), terwyl dit uit hoofstuk 5 van Lewis Carroll se Through the looking glass (1871) kom. Lewis Wolpert, gebore in Suid-Afrika, het ’n boek met hierdie titel gepubliseer (2006). In sy hoofstuk oor Suid-Afrikaanse tale toon Johnson dat hy goed oor hierdie onderwerp ingelig is, maar sy boek steun deurgaans op Engelse bronne (p 655-690). Dit is ’n ernstige tekortkoming. Hy het blykbaar nie kennis geneem van wat in bv Afrikaanse bronne gepubliseer is nie.
Die elf amptelike tale waarmee die nuwe Suid-Afrika opgesaal sit, noem Johnson tereg "a perfectly mad language policy" (p 370). Afrikaanse kultuurvrate het destyds gejuig toe dit blyk dat Afrikaans darem een van hierdie uitverkore groep van elf tale gaan wees. Johnson wys daarop dat die Europese Unie (EU) aanvanklik sonder probleme tweetalig (Frans en Duits) gefunksioneer het. Toe Brittanje tot die EU toegelaat is, het die Franse tereg opgemerk: "Three languages mean one" (p 370). Die ANC se magsoorname het plaaslik dieselfde gevolg gehad.
Die aanbieding van Afrikaans oor die radio en televisie is sedert 1994 drasties ingekort. Afrikaans het van produkte (bv kruideniersware) verdwyn. Ek het tevergeefs aan Afrikaanse koerante geskryf en beswaar gemaak omdat kettingwinkels Afrikaans ook op hulle eie produkte geskrap het. (’n Gewilde sê-dingetjie van diegene wat eens Afrikaanse kultuurvrate was, is: "Ek is nie bereid om vir Afrikaans op ’n Coke-blik te sterf nie.") My briewe is nie gepubliseer nie omdat hierdie winkelgroepe in so ’n groot mate tot koerante se advertensie-inkomste bydra. Die voertaal in die parlement het feitlik sonder uitsondering, en in Hansard uitsluitlik, Engels geword.
Hoewel Johnson blykbaar eentalig Engels funksioneer, het hy die ewewig om die prestasies van Afrikaans "remarkable" te noem (p 371). Ook: "Afrikaner nationalism was by far the most successful form of African nationalism" (p 371). Hy noem ook dat alle Afrikaners Engels kan praat (p 372), maar dit is bekend dat Engelssprekendes wêreldwyd nie graag ’n ander taal as hulle eie benut nie.
Vervolgens toon Johnson aan hoe gedwonge rasse-integrasie (in ons nuwe era van vryheid) misbruik word om Afrikaanse skole en universiteite eers in tweetalige en mettertyd in eentalige Engelse inrigtings te omskep. "Ignoring the constitution, the government forced this integrationist logic on many Afrikaans-speaking high schools" (p 373). Eentaligheid volg noodwendig nadat tweetalige of parallelle onderrig ingevoer is. Ook omdat "most Africans and many middle-class Coloureds want to be taught in English" (p 373). Die aandrang op nie-rassigheid, transformasie, regstelling, multikulturaliteit, geregtigheid, hoop, ens, aan eens Afrikaanse universiteite het die vernietiging van Afrikaans ten doel. "At Stellenbosch those who wish to expand the role of English pretend that this will not be at the expense of Afrikaans, though quite clearly it will be" (p 378).
"This is critical: the propagation of a culture requires the continuous reproduction of an intelligentsia which writes its books and newspapers, gives sermons, translates works from other languages, teaches in its schools and produces its radio and television programmes" (p 372-373). Die sogenaamde tweetalige Universiteit Vrystaat het bv besluit om (die onding van) ’n verpligte kursus (in ons nuwe era van vryheid) vir alle studente in te stel. Hierdie skoling in Jansenisme sal net in Engels aangebied word.
In die boesem van die Afrikanerdom word verraad gepleeg: "This is the critical factor - a considerable number of Afrikaners would rather expand the role of English, whatever the impact on Afrikaans, than remain outside the new South African mainstream ... often the impulse for change came not from the government but from within" (p 373). Dit word gevoed deur ’n (valse) religie-gebaseerde skuldgevoel by Afrikaners. Erger: "Many Afrikaans families ... send their children to English-language schools" (p 374).
Al die universiteite wat deur die vorige regering vir swartes gestig is (en Fort Hare wat oorgeneem is), het Engels as onderrigtaal: "none ... promote or develop indigenous African languages" (p 374). In die nuwe Suid-Afrika "all university departments of African languages report steady and dramatic declines in student numbers" (p 374-375). Opvoedkundiges is eenparig van mening dat moedertaalonderrig begrip ten beste bevorder, maar swart ouers toon in dieselfde eenparige mate ’n voorkeur vir onderrig in Engels vir hulle kinders. Engels word as "more ’cool’ and modern" geag (p 377).
Op grond van die getal moedertaalsprekers kan gesê word: "English is only the country’s fifth language" (p 371). Die gevolgtrekking waartoe Johnson kom, is egter: "A language [English] which is the mother tongue of just 8.6 per cent of the population is taking over completely and will gradually exterminate most or even all of the other ten languages" (p 380). Ek is dankbaar dat ek nie ’n medepligtige is nie.
Johannes Comestor


Kommentaar
In paragraaf 6 verwys ek verkeerdelik na die Europese Unie. Johnson se verwysing is na die voorloper van die EU, die EEC (European Economic Community). Ek vra om verskoning vir hierdie fout.
Johannes Comestor