’n Reuse raaisel

  • 3

Ek sien nou die dag iewers dat die Afrikaner 13% van die bevolking uitmaak maar 28% van die koopkrag verteenwoordig. En tog sien mens geen Afrikaanse reklame- en uithangborde nie, nie hier in Johannesburg nie, nie in Pretoria nie, nie eers in Bloemfontein nie, nêrens nie. Hoe is dit moontlik? Is dit ’n manifestasie van gedienstigheid en inskiklikheid of slapgatgeit?

Ek hoor die Pendoringtoekennings is nie meer vir reklame in Afrikaans nie, dit is nou vir Suid-Afrikaanse advertensies want die in Afrikaans bestaan vir alle praktiese doeleindes nie meer nie. Afrikaanse universiteite is weg, Afrikaanse skole is besig om te verdwyn soos ook Afrikaanse straat-, dorp- en plekname.

Wat doen die Afrikaner omtrent hierdie agteruitgang? Niks, om die waarheid te sê, hy moedig dit aan; hy sit sy kinders in Engelse skole, hy maak ’n saak uit vir Engels-alleen universiteite en hy maan Afrikaners wat wel ontevrede raak om tog maar ’met die tye te beweeg’. Net vanoggend weer op RSG se Praatsaam het ’n inbeller ’n tannie oor die vingers getik wat gekla het dat ’n winkelassistente geweier het om met haar Afrikaans omdat dié se mense "have suffered enough".

Hierdie gelate aanvaarding van die vyandigheid teenoor Afrikaans en die Afrikaner maak die Afrikaner die inskiklikste volk in die geskiedenis van die wêreld. Waar is nog ’n volk so geduldig, gedienstig en gedweë?

En tog, inskiklik en gedienstig soos hy is, word hy beskuldig as die ergste en wreedste onderdrukker wat die wêreld nog gesien het. By die Woordfees se Plataankafeepraatjies (Praatsaam) is duidelik en aanhoudend tussen die lyne vertel hoe andere deur die Afrikaner onderdruk en benadeel is. Die winkelsassistente wat geweier het om Afrikaans te praat omdat haar mense so sou gely het in die verlede, verwoord die meme wat rondhang onder haar mense, naamlik dat die Afrikaner diep in die skuld is. Dis "payback time" word gedurig gesê en ook gedemonstreer soos gesien kan word aan die wreedheid en frekwensie van die plaasmoorde.

Wat doen die Afrikaner omtrent hierdie wanopvatting? Niks. Om die waarheid te sê, hy versterk die meme deur skuld te beken deur sy verskoningvraery. Is dit onnoselheid of is dit die verkeerde mense wat namens die Afrikaner praat? Indien laasgenoemde, is dit tyd dat die Afrikaner opstaan, die praters in die pad steek en vir homself praat.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Jan Rap

    "Speak for yourself"!

    My kinders was  in Afrikaanse skole, my kleinkinders op skool is in Afrikaanse skole.

    Ons het nog altyd die probleem gehad van mense wat dink dat hulle "Engels en grand" is. Ons het egter nog altyd oorleef.

    Ons het nog altyd 'n klomp hanskakies gehad, maar daar is nie so baie nie. Die paar wat daar is, kry net vreeslik baie tyd in die pers, maar jy moet onthou dat, selfs die "Afrikaanse" pers, die meerderheid van die tyd teen ordentlike Afrikaners was. Hulle spandeer baie tyd aan een bottelgooier op Loftus, maar baie min tyd aan die honderde wetenskaplikes op Tukkies. Dit sal so wees tot in die lengte van dae.

    Ons sal baie goed oorleef. Met of sonder hanskakies. Ons moet net ons taal praat.

    Kleinkoos

  • CorneliusHenn

    Beste Jan, ek deel jou hartseer.

    Om vandag se Afrikaner te verstaan dink ek egter 'n mens moet na die Boererepublieke voor 1910 gaan. Die Afrikanerdom na 1910 is 'n Ingelse en Amerikaanse Coca-Cola versinsel. Dis maar dieselfde soort foefie wat die geldmagte vandag op die sogenaamde "Reënboognasie" spandeer (met alle respek aan ons Aartsbiskop Desmond Tutu).  

    Aan die anderkant deel ek ook jou verlange na tradisie. Ons almal het dit nodig. Jy laat my gedurig aan die "Vioolman oppie dak" dink. Dis nes Tevye se pyn met sy vyf dogters en die hel van buite op sy verwagtinge.

    Ek weet jy dink die Ingelse en Amerikaners se Afrikanerdom is 'n alleen gelate stille moerderigheid. Maar dis nie heeltemal so nie. Hoeveel geslagte Jode is al op uiters kort kennis beveel om te trek. Daarom dra Jode altyd hul hoed - daar's gewoon nie tyd om te pak uit hul onderdrukking en verja nie.  

    Maar dan is daar ook nog Skipskop ...  

    Ja, die Coca-Cola sportmal Afrikanerdom van die Ingelse en Amerikaners is bankrot in hul skuld hier aan Mzansi (o ja, jy't my laas gevra en ek het jou nog nooit geantwoord nie - Mzansi is 'n IsiZuluwoord wat ek iewers naby Empangeni as kind geleer het. Ek probeer die hele uitdrukking onthou - dis steeds iewers op 'n bord naby die ingang van die Universiteit van Zululand - maar my geheue is so 'n bietjie gelaai. Sodra ek onthou of weer daar naby kom deel ek met jou my hele verstaan aan die woord. Dit verwys wel na ons plekkie hier aan die Suidpunt van Afrika, maar dis baie meer poëties as dit).  

    Namaste!  
    Ekke

  • Ek stem heelhartig saam.

    By Checkers nou die dag was ek so lus vir 'n stukkie vars sole, en toe ek vra wat die prys per kilo is, kry ek die gewone "Sorry, I don't speak that language"-antwoord.

    My reaksie?

    "I said hello, you must have a wonderful day."

    Dis deesdae my standaardantwoord (ek moet seker net byvoeg dat dit in Vanderbijlpark gebeur het, waar 90% van die inwoners Afrikaans praat as eerste taal) wanneer die meerderheid klante se taalvoorkeur misken word. Dis maar my klein, beskeie bydrae tot my taal, en al staan ek so alleen soos 'n eiland en word veroordeel deur mense wat dit hoor (en mens word omtrent deur mede-Afrikaners veroordeel daaroor!), sal ek aanhou daarmee, omdat my geld inderdaad in 'n taal praat: Afrikaans.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top