’n Paar punte

  • 1

Ek hoor nou die dag weer prof Piet Croukamp sê dit het nog nooit so goed met die Afrikaner gegaan as in die NSA nie. Dit is nie die eerste keer dat hy so-iets kwytraak nie en dit is nie onwaarskynlik dat mense, insluitende hyself, hom naderhand gaan begin glo as niemand op die absurditeit van hierdie stelling wys nie.

Die feit is dat talle, duisende, Afrikaners uitgewyk het na groener (en veiliger) weivelde oorsee. Duisende plaasboere is vermoor, die grootste gros van hulle Afrikaners. Duisende mense is werkloos en onder hulle is ’n groot groep Afrikaners. Honderde, miskien duisende, boere, die meeste van hulle Afrikaners, se grond is van hulle af weggevat en dit tel nie as ’goed gaan’ nie; hulle kan nie meer die nering waarvoor hulle lief is beoefen nie. Afrikaners, wat mildelik tot die staatskas bydra, kan nie Afrikaans met die inkomstediens praat nie. Dis mos nie reg nie? Afrikaanse studente het nie meer ’n koshuislewe nie en kan nie in hulle eie taal klasloop nie en selfs, in baie gevalle, kan hulle nie eers meer in Afrikaans skoolgaan nie. Afrikaners word konstant afgejak deurdat Afrikaans op spyskaarte, Afrikaanse inligting op blikkies en bottels en Afrikaans op uithangborde weggevat is. En dis maar net onder andere.

Ek sal graag wil hoor hoe bring die professor die kloutjie by die oor. As die prof, of een van sy aanhangers dan, net vir ons kan verduidelik.

’n Ander ding is dat mens dikwels hoor by die wat in die proses is om "op te gradeer Engels toe" dat hulle nie bekommerd is oor Afrikaans nie; die taal sal nooit verdwyn as ons hom net praat nie is hulle redenasie.

Dit is natuurlik die grootste onsin want alreeds kan die mense die taal nie meer praat nie: Nou die dag sê ’n omroeper " ... mense dink dr Victor kom van Jamaika af maar hy doen nie, hy kom van die Kaap af. Hy doen werklik’. ’n Inbeller nou die dag (RSG) stel ’n naam vir ’n resep voor en die gas reken die naam pas die dis goed. "Ja", sê die omroepster, "dit doen nogal." Oor die nuus nou die dag weer verwys hulle na ’n skip as vroulik.

En dis omroepers en nuusskrywers en –lesers wat so praat, mense wat vir seker op een of ander manier moes bewys dat hulle Afrikaans magtig is om omroeper by ’n Afrikaanse radiostasie te wees. Maar dis nog niks, luister na inbellers op die inruilprogram; die mense kan nie meer Afrikaans praat nie! Hoe anders? Hulle moet by SARS, in die poskantoor, by die werk, oral, Engels praat en natuurlik is dit ten koste van Afrikaans.

Sekere Afrikaanssprekendes maak beswaar teen hierdie agteruitgang en hulle word verguis as verkrampte ’taalbulle’. Op ’n ander groep se verstand weer vind die propaganda dat Afrikaans minderwaardig is vrugbare grond en hulle voel minderwaardig genoeg om hulle kinders in Engelse skole te sit (op welke manier hulle dan, gruwel der gruwels, die minderwaardigheid aan hulle kinders oordra), ten spyte daarvan dat Engels in elk geval ’n vak op skool is.

’n Laaste puntjie. Op ’n praatsaamprogram nou die dag is daar ’n voormalige dominee (Isak) as ’n gas en, op ’n kol, verwys hy na wat hy noem "grand narrative". Dit was verfrissend om vir ’n slag ’n Afrikaanssprekende te hoor wat ’n normale ’r’ gebruik as hy ’n vreemde woord gebruik. Die omroepster, ’n rukkie daarna, verwys toe ook na dieselfde begrip maar op teenswoordige tipiese kruipstyl verwys sy daarna as "nawwative". Dit klink uiters k#k.

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Ag, ek hoop tog so ou Kobus lees hier. Dis mos hoe 'n mens "kloutjie by die oor bring" gebruik!!!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top