Hier vanuit 'n bedompige Kuala Lumpur, kyk ek die afgelope paar maande met tweestrydige gemoed na die al-groterwordende gaping wat blykbaar tussen die literêre "have's" en die bourgeoise "have nots" van die Afrikaanse skryfwêreld bestaan. As Afrikaner behoort dit my nie te verbaas nie, want twis en onmin - soos bewys tydens die Groot Trek - is vasgevang in ons DNA, en die idee van saamstaan vir 'n saak (en iets groots soos die groei van die Afrikaanse taal) was nog nooit 'n konsep wat ons nasie onderskryf het nie.
Nou wonder ek maar net of die feit dat dit deesdae so maklik is vir enige mens om sy of haar versies te publiseer, al is dit net in die kuberruimte hier op Facebook of ander webwerwe soos WOES, wat die tradisionele skrywerselite ongemaklik op hul stoele laat rondskuif? Dan is daar ook die oordeel wat gefel word oor die kwaliteit van die Facebookverse. Ja, elke gedig wat so teen die spoed van lig op al die verskillende blaaie en in verskillende groepe geplaas word, is nie noodwendig 'n literêre meesterstuk nie en voldoen nie aan al die vereistes van rym, ritme en ekonomie nie. Maar moet ons nie eerder jubel nie oor die feit dat daar elke dag DUISENDE Afrikaanse woorde geskryf en vir die publiek beskikbaar gemaak word?
Dikwels voel ’n mens gefrustreerd as jy vers op vers deur die kuberworsmasjien op bladsy na bladsy sien, en jy wens dat daar net ’n bietjie meer tyd geneem is om dit af te rond … maar dink net daaraan: ons taal herleef! Nuwe woorde word gevorm. Die gewone man op die straat hoef nie in Exclusive Books ’n digbundel deur te blaai om ons taal te hoor weergalm nie. In plaas daarvan dat daar neergekyk word op hierdie grassroots-beweging, moet dit eerder aangegryp word vir die momentum en groei wat dit bring. ’n Ware leier eien nie die sukses aan homself toe nie. ’n Leier help ander om hul innerlike krag en potensiaal en talent te ontwikkel!
'n Baie bekende skrywer van leierskapsliteratuur, John C Maxwell, skryf in sy boek, "Everyone Communicates Few Connect", dat navorsing op effektiewe leierskapstyle van suksesvolle leiers bevind dat die manier waarop die leiers kommunikeer geweldig belangrik is (en ja, dit is nou nie eintlik vir ons nuus nie, is dit!). Dit gaan nie, volgens Maxwell, oor die woorde wat jy gebruik nie. Jy kry mense se lojaliteit as jy jou boodskappe oordra op 'n manier wat wys dat jy rêrig in hulle sukses en welsyn belang stel. Dat jy kommunikeer, nie op 'n koue en kliniese wyse wat jou geleerdheid in ander se gesigte druk nie, maar op 'n manier wat die gewone man aanklank by jou laat vind. Dit is my ondervinding dat akademici hulself beskerm met die doringtakke van akademiese woordeskat en frases en dus nie dit regkry om daardie band met die gewone volk te maak nie. Soms wil mense net voel daar is rêrige omgee vir die taal, want ons taal is ons bakermat, en wil nie teen 'n muur van kliniese woordeboektaal vasloop nie.
Te midde van die nuwe Afrikaner-diaspora, met ons mense wie nou oor die hele wêreld heen woon, het ons ’n nuwe band wat ons bind. ’n Nuwe gemeenskap leef hier in die webblaaie – kom ons bind dit sterker vas! Help ons om te verbeter. Gee ons raad, bou ons op en help ons groei in ons taal, want hoe sterker die fondament, hoe meer verdiepings kan by die ivoortoring bygevoeg word. Praat met ons hartstaal, en ons sal julle volg tot anderkant die son.
Elmarie Westerink, Kuala Lumpur, 23 Januarie 2012


Kommentaar
Lanklaas so 'n goeie stuk waarheid gelees!