Dr Jurie van den Heever is ’n paleontoloog aan die Universiteit van Stellebosch. Hy is ’n erkende kenner op die gebied van evolusie. Die onderstaande respons van hom op ’n soortgelyke debat maak interessante leesstof.
"Wetenskaplike teorieë wat natuurverskynsels verklaar moet nie net toetsbare bewyse lewer nie, maar moet ook toetsbare voorspellings kan genereer. Evolusie voldoen by uitnemendheid aan beide hierdie vereistes.
Die grondbeginsel van evolusie is dat alle lewe op aarde verwant is en dat organismes met verloop van tyd aanpas of uitsterf in reaksie op omgewingstoestande. Lewensvorme ontwikkel van eenvoudige na toenemend meer komplekse organismes. Navorsingsresultate in die paleontologie, vergelykende anatomie, genetika, embriologie, biochemie, fisiologie en mikrobiologie toon dat dit onteenseglik so is.
Sterrekundiges en fisici het wiskundig bepaal dat ons sterrestelsel baie biljoene jare oud is terwyl geoloë die aarde se ouderdom op ongeveer vier-en-’n-half biljoen jaar wetenskaplik bevestig het.
Evolusie voorspel dat fossiele van byvoorbeeld mense, of krokodille, of voëls, volgens hulle ontstaanstydperk op spesifieke plekke (tydvakke) in die geologiese opeenvolging gevind sal word. Mensfossiele is byvoorbeeld jonger as tien miljoen jaar en sal dus nie saam met dié van dinosouriërs, wat reeds vyf-en-sestig miljoen jaar gelede uitgesterf het, gevind word nie. Dit word ook so gevind.
Kreasioniste wat ’n jong aarde voorstaan, besef dat sulke inligting hulle doodsteek is en probeer dit voortdurend met allerhande slenters omseil. Die bitterste pil was by Glen Rose in Texas, waar hulle jare lank kategories verklaar het dat die spore van "bybelse reuse" saam met dié van dinosouriërs voorkom. Toe hulle "mensspore" onbetwisbaar as verweerde dinosouriërspore deur ‘n Christen-geoloog uitgewys is, moes hulle vinnig verskoning aanteken en boeke en video’s aan sirkulasie onttrek.
Netso is die berugte Kent Hovind ook uitgevang. As internasionale anti-evolusionis, kreasionis en superchristen het hy evolusie as leuen voorgestel, maar sy kriminele bedrywighede vir sy volgelinge verberg. Hopelik sal sy tronkstraf hom so kersten dat hy ook erken dat hy boonop gelieg het oor die besit van ’n geldige doktorsgraad.
Enigiemand wat dus sonder grondige bewyse evolusie verwerp, verwerp die wetenskap as basis van ons bestaan. Om evolusie te weerlê moet die bevindings van bogenoemde vakrigtings weerlê word met toetsbare navorsingsresultate en nie lukrake twak wat uit die lug gegryp word nie.
Plaaslik is ons voorste kampvegter teen evolusie, die verbete kreasionis Pieter Pelser. Hy is ’n jong aarde fundamentalis en sy oppervlakkige voorstelling van evolusie is so onwerklik dat dit dalk net ’n rookskerm is vir sy werklike stryd. Dit is om die NG Kerk in diskrediet te bring. Sprekend hiervan is sy onsuksesvolle poging om die teoloog Louis Jonker in sy amp te stuit en dan voor ’n gehoor te verklaar dat hy dit wel reggekry het. So ook sy uitspraak dat die dosente van die Stellenbosse Kweekskool evolusioniste is en daarom niks van teologie weet nie. Pelser se eienaardige gedrag slaan gevolglik baie op dié van ’n iesegrimmige kind wat nie sy sin kan kry nie.
Dit is dan ook geen wonder dat die aansprake van kreasioniste deur hoofstroomteoloë, regslui en die meerderheid Christene die wêreld oor, verwerp word nie. Hulle irrasionele uitsprake maak ’n bespotting van die Bybel en behoort eenparig deur leraars afgewys te word.
Dr Jurie van den Heever is dosent aan die Universiteit van Stellenbosch."
Groetnis
Thomas


Kommentaar
Thomas,
Dankie vir nog 'n sinvolle bydrae oor die onderwerp.
Ek wil jou veral bedank vir jou laaste opmerking naamlik; "Dit is dan ook geen wonder dat die aansprake van kreasioniste deur hoofstroomteoloë, regslui en die meerderheid Christene die wêreld oor, verwerp word nie. Hulle irrasionele uitsprake maak ’n bespotting van die Bybel en behoort eenparig deur leraars afgewys te word. Soos elders stel ek weer dat alleen in vyandige Christelike sektes (en veral huiskerkstelsels) word kreasionisme gewoonlik op 'n letterlike interpretering van die skeppingsmite in die eerste boek van die Bybel, Genesis, gebaseer."
Ek het nederige agting vir enigeen wat glo die Bybelse skeppingsverhaal is presies soos die Bybel dit staan. Vir hulle is die fokus op glo en geloof en nie op bewyse nie. Die Bybel is immers ‘n geloofsboek - nie ‘n wetenskap- of geskiedenisboek nie.
Daar is egter menige benadering tot die debat.
"Jong aarde kreasionisme" is 'n vorm van fundamentele vyandigheid. Hierdie groep verskil van gelowiges deurdat hulle hul standpunt dat die aarde sowat 6 000 jaar oud is probeer bewys. Hulle het hul eie wetenskap hiervoor ontwikkel wat bykans elke aspek van die konvensionele wetenskap bevraagteken en verdag probeer maak (nes KobusdeK beweer Noag vooraf gesoute karkaste op die ark saam geneem het om die dinosourusse en ander roofdiere te voed).
"Ou aarde kreasionisme" het nie ‘n probleem met die wetenskaplike beraming van die aarde se ouderdom van meer as vier miljard jaar nie. Die rede hiervoor word immers in die Bybel self gevind, naamlik Psalm 90: 4, en 2 Petrus 3:8. Hierdie groep voer aan dat die afwesigheid van tussenvorme as teenbewys vir evolusie dien. Namate meer tussenvorme ontdek word kwyn hulle ten koste van die "jong aarde kreasionisme".
Thomas, dan is daar "Deïstiese evolusioniste", of te wel ook "Teïstiese evolusionisme". Hulle glo God skep en gebruik evolusie as meganisme. Soos baie duidelik uit jou bydra verneem kan word maak menige Christen-paleontoloog deel van die "Teïstiese evolusionisme".
Ek verstaan jou algemene standpunt omtrent evolusie in terme van "toevallige evolusie". Daarin is God afwesig. Volgens jou heel verstaanbare beskouing vind mutasies deurlopend en ongerig plaas. Natuurlike seleksie sorg dat net die lewensvatbare gemuteerde vorme voortbestaan.
Onkundiges soos onse ou Kobus verwys graag neerhalend na "toevallige evolusie"as "agnosme" en "Darwanisme".
Maar Kobus is verkeerd aangesien Darwin in sy lewe NIKS eens van genetiese mutasies sou kon weet nie. Hy het nie eens van Mendel net om sy hoek geweet nie. Darwin word eintlik net tussen Ingelse as toonaangewend beskou. Ja, wat van byvoorbeeld al die Franssprekende kenners wat voor Darwin soortgelyke teorieë geformuleer het?
Thomas, dis ongelukkig waar dat uit die oor en weer gespot op die werf afgelei kon word dat daar net twee opsies is – "jong aarde kreasionisme" wat “die Christelike standpunt” verteenwoordig, en die "toevallige evolusie" wat “agnoste se standpunt” verteenwoordig (Kobus ken ongelukkig nie die woord ateïs nie en verwysing na 'n "ateistiese standpunt" kan dalk net meer verwarring meebring).
Die probleem word verder vererger deurdat die "jong aarde kreasioniste" na die "drogma" in hul eie huiskerkstelsel as “kreasionisme” verwys; so asof die "ou aarde kreasionisme" nie (meer) bestaan nie.
Die "toevallige evolusioniste" eis ook te dikwels evolusie verkeerdelik as hul uitsluitlike domein op.
Godsdienstiges wat sonder die nodige agtergrond op Kobus se twis afkom sal maklik dink dat daar net twee opsies is: As hy ‘n "Christen" wil wees moet hy glo die aarde is 6 000 jaar oud. As hy glo die aarde is ouer is jy 'n "agnost".
Kom ons kyk of jy Jurie van den Heever kan kry om met 'n ongeleerde kreationis te praat.
Ek sal hom in 'n openbare debat aanvat oor die Bybelse feite wat hy so graag afmaak as Oosterse verhale, en hom bewys dat hy 'n geloof aanhang wat geen feite bevat nie.
Hy skuil altyd agter mikrofone en publikasies en vertel almal wat hy sien as feite.
Kan hy aangesig to aangesig met 'n Afrikaner Creationist praat?
Ek glo nie.
Groetnis
GAAP!