Roy

  • 4

Jy weet soms instinktief as jy iemand ontmoet dat jy nie met 'n gewone kader tedoene het nie. Mens maak mos maar altoos die fout om iemand op sy baadjie te takseer en dan kom jy agter dat jou eie baadjie helemal agterstevoor aangetrek is. So maak baie mense dieselfde fout met Roy.

Jy weet mos as jy met mense praat en hulle het al alles gedoen: Van Recce tot strate vee tot rykdom en terug boemel toe. So kry ek vir Roy in daai plek kort duskant Sedgefield. Daai plek waar dinge lekker gaan en mens uitstrompel as die son al hoog sit die volgende dag. Regte outydse "Afro" styl. Jip soos in vroeër jare se Afro styl. Maar Roy is leliewit. Maar kan netsowel swart wees, so vind ek een laatnag uit toe ek en die Malawiër wat alleen in die hoek gesit het aan't gesels raak. En Roy ook in die gesprek inklim in dieselle taal wat ek en die Malawier praat. En ons praat oor alles en peusel aan die seekospot wat Roy self gemaak het. Die bietjie wat nog oor is want die mense ry ver die dag as Roy kos maak.

Jy weet mos hoe praat gaan in so 'n plek, veral as jy 'n bekende gesig sien: Ken jy vir So en So? Ek vra hom of hy vir Tannie Jenny ken en hy kyk so skeef boontoe: "Auntie Jenny the Hippy?" jip. "Shit, is she still alive? Die laaste van die regte Hippies, daai girl!" Ek vind later by antie Jennie uit dat sy so in haar omswerwinge vir Roy teëgekom het. Hy het doer in die bosse (nie ver van "daai plek" af nie) toevallig op haar tentjie afgekom en maar aangebly vir 'n paar weke of maande-die tyd vlieg tog so vinnig, my kind. I shit you not: antie Jennie het vir lank, so in die bos gebly. Wel, nie sy alleen nie, want daar is nog 'n hele paar blommekinders wat nog los rondloop. "Sê groete vir haar en sê ek love haar nog steeds stukkend, my bra." En hy vat 'n diep teug aan sy twakkies. Ek beduie nee dankie, bietjie later, en Roy gesels. Hy vat 'n Menthol by my en hy beduie dat hy nog nooit van Vicks kak gehou het nie. Ons praat, logies oor die army dae en ek moet later stilbly want ek kan hoor Roy pratie kakkie. Hy het die loop geloop en weird genoeg ken hy vir Boleeu ook. Dink ook dat Maleoskop op sy beste 'n kak plek was en ons verlang terug na die maters wat ons eintlik beter moes leer ken.

Ons praat karre en ons deel die sotheid van die dag en hy praat Rugby en ek praat saam toe hy praat oor Portugal se blêddie penalty shootout want dis kak dat Spanje die glorie kon steel. Hy filosofeer oor Nietsche en hy haal vir Shakespeare met diep stem aan terwyl Pink Floyd en Anton Goosen beurte maak. Al harder. Hy beduie uit die bloute vir my waar hy die Queen Ann stofie wil insit want die plek raak koud so in die nanag en hoe die kappe verander moet word want die dak moet aangepas word. Ek bied aan om met my nederige kennis van bouwerk te help en hy beduie vir my dat hy alles onder beheer het en ek kan kom help dakskroewe inslaan. Metallica dreun en ons koppe skud soos ons dit doerie jare gedoen het maar Roy kan dit net beter doen en ek sien hoekom hy 'n "Afro style" het. En ek verlang na tye toe ek nog kon dronk word voor twaalf. Tanya kom ingeslinger en sy beduie skreeuend dat haar ou skedonk nie wil vat nie. Tash beduie vir haar dat dit 'n "sure sign" is dat die gode nie wil hê sy moet ry nie en Roy loop vanagter die Barcounter uit en gee vir my 'n flits. Vir beduie want dis donker. Ek wetie wat Roy gedoen het nie maar die skedonk het na 'n paar draaie gevat soos 'n Ford. Wel, dit was 'n Ford, bygesê. Hy beduie vir my lat ons vir Tanya moet vertel die ding is in sy moer en sal moet ingesleep word want hy en Tanya moet nog Djembi dromme doen later. As die son opkom. Hy sê dat Tanya 'n vegan is maar dat sy vanaand gaan vleis vreet kom wat wil. Ek kyk hom aan want ek weet wat hy bedoel en ek lieg maar saam met die ryding.

Die nag raak dag en ek vind uit dat hierdie man te veel vir 'n pop gevat word. Hy sê hy loop kaalvoet want sy pote is te breed vir skoene maar ek weet hy lieg. Hy sê hy is te arm vir 'n ryding maar ek weet sy Harmon Cardon is sy alles. Hy sê camels is te duur maar ek weet wat kos Swazi. Ek beduie vir hom dat hy weer vir Anton Goosen moet gooi en hy vat 'n Tequila en raak bewoë want hy het eendag baie lank terug vir die Liedjieboer ontmoet en "take it from a real Irishman: he is fucking cool". En agter die toonbank haal hy 'n kombers uit om die Malawiër toe te gooi want die Malawiër is lankal by Rooikappie en droom van sy vrou wat so ver is. "Gotta love this bastard" beduie hy toe hy die kombers om die Malawiër gooi. Malawiër kyk so half op en Roy vat sy hand en beduie vir hom dat hy maar rustig kan raak want hier kyk ons eerder na die man se siel as na die man.

Buitendien: waarheen moet die man dan nou, want hulle het hom uit Thembalethu verwilder want hy is 'n vreemdeling.

Ek staan en UV filters installeer vanoggend en Tash beduie vir my dat Roy haar bakkie moet terugbring ek moet hom net beduie waar hy die ding moet los. "But be carefull, hey, you know Roy when he's had no sleep..."

Ek het net 'n geskreeu gehoor. Hees: "Where the fuck must I put this thing? What is wrong with people, can't they just walk with their feet? Jeez, man, hoe naby wil hulle die **** pedale aanmekaar he? Ek trap briek en clutch gelyk. Ek loop eerder voor ek 'n meter verder met hierdie shit ry" "Howzit, Roy? no sleep, I gather?"

"Jeez, dude, I'm still drinking and that little bitch...." Beduie hy met sy bottel Milk Stout en dis toe ek afkyk want ek is besig om die gate skeef te boor. Mens mors nie met 'n winddronk man wat moes tevrede bly met Djembi-tromme nie.

Groete uit Oesterland

oester

  • 4

Kommentaar

  • Oesteeeeeeeeeeeeeeeeeeeeeer, dis asof jy van my heel eie mense praat. Dis sulke diep hippies wat saam met die Rabbi mens mens hou.

    Shalom

    Duitswester

  • hulle hou ons op ons plek en sorg lat ons glase altoos vol is, Duitswester. en hulle maak mens se lewe ongelooflik vol. ek vir een dink ons is te slim geleer en te wys dat ons later nie sien en waardeer nie.

    groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top