Rotskuns as piktografiese rotstaal of vroeë Suider-Afrikaanse skrif-op-klip

  • 2
Helize van Vuuren reageer op Waldemar Gouws se Kan ’n mens letterkunde uit ’n klip tap?.

Die idee van rotskuns as "dream writing" is nie nuut nie. Johan van Wyk het al in 1994 in die eerste uitgawe van Alternation hieroor geskryf, in ’n uitstekende vergelykende essay waarin Griekse mitologie en argeologie, sowel as die transteorie van Lewis-Williams naas die psigoanalitiese teorieë van Kristeva ter sprake kom:

To what extent does archaeology - the science of origins and evolution overlap with mythology? (...) Interesting parallels, for instance, occur in ancient Greek mythology and literature. (Van Wyk 1994:21)

En oor die oorsprong van die vroegste genres:

At what point did precursors to poetry, drama and narrative emerge? Poetry, drama and narrative are part of a semiotics that predates alphabetic writing. It has its roots in events and rituals indicating the emergence of semiotics itself. (Van Wyk 1994:22)

Sonder omhaal konstateer hy dat rotskuns ’n piktografiese taal is: “The rock paintings form a pictographic language” (Van Wyk 1994:31).

Aangesien orale tradisies, veral van die San/Boesmans, grootliks ontbreek, of net fragmentaries in skraapsels en rafels gedokumenteer is, sien hy die vroeë stadia van poësie, drama en verhale as toeganklik deur rotskuns:

Although the oral traditions, predating writing, have disappeared, the early stages of South African poetry, drama and narrative can be studied through the rock paintings and other semiotic remains (...). (Van Wyk 1994:35)

Argeoloë soos Thomas Dowson beklemtoon veral die belang van Suider-Afrikaanse rotskuns vir ’n behoorlike begrip van die komplekse vroeë geskiedenis van, en menseverhoudings in, die land:

The rock art of southern Africa is therefore not an exclusively ethnic art; rather, it came out of the crucible of southern Africa’s all-encompassing past. The depictions of animals, shamans, rain-animals, spiritual visions, cattle, horses, shields, iron-bladed spears, wagons, rifles and so forth are not, as the early researchers believed, just pictures from and of the past; a historical scrap book. On the contrary, the rock art images point to and were implicated in the negotiation of changing social relations. Seen in this way, the art can contribute significantly to an understanding of the social processes that formed the past.

Strictly sectional history is in some ways a product of a kind of thinking that, in a segregational South Africa, was designed to perpetuate ethnic divisions (’tribes’). If the long-accepted colonial histories of southern Africa are to be righted, as indeed they must be, the process of reconstruction would do well to begin with the subcontinent’s rock art that, in its imagery, production, consumption and negotiation of power relations, implicated the subcontinent’s various communities. (Dowson, Reading art, writing history: Rock art and social change in Southern Africa, 1994:344)

En hoe sou die naam Writing-on-Stone tot stand gekom het van ’n rotskuns-vindplaas in Alberta, 8 km noord van die Kanadese/VSA-grens, anders as deur mense wat dit so genoem het weens die kommunikatiewe aard van die kuns van die eerste mense wat die rots gebruik het as hul "boek" om op te "skryf"?

Geen van hierdie benoemers sou wou voorgee dat rotskuns gelyk te stel is aan letterkunde nie, maar dat dit direk met die kyker kommunikeer vanuit duisende tot honderde jare gelede se orale tye, is ook duidelik. Gaan staan maar voor Prentjiesberg in die Sederberge, digby Boplaas.

Hier by Stompiesfontein is skilderye van die eerste perdewaens, perderuiters en boere-intrekkers met hul vroue in lang kenmerkende rokke uit die periode rondom 1770 tot 1830. Wie kan nie gewaar nie dat hier ’n onomkeerbare eerste ontmoeting met "nuwe intrekkers met ander gewoontes in ons land" gedokumenteer is, waar hul deur die sogenaamde Karoo-poort die "onbewoonde land" binnetrek?

Dat die Suider-Afrikaanse rotskuns ’n unieke deel van ons historiese en kulturele erfenis is wat dig aansluit by die vroegste inwoners se wêreldbeskouing, is duidelik. Wat presies die verband tussen die narratiewe, soos opgeteken deur Von Wielligh en deur Bleek en Lloyd is, word steeds dringender ondersoek deur rotskunskenners, omdat daar ’n onlosmaaklike verband tussen hierdie terreine bestaan. Vir die skrywers van Suid-Afrikaanse geskiedenis - of dit nou ’n literêre geskiedenis of ’n algemene geskiedenis is – verdien hierdie deel van die verlede ’n plek in ons bewussyn van wat agter lê. Alleen die optekeninge van nogal diskoherente narratiewe, mitologiese en poëtiese tekste opgeteken deur kolonialiseerders is maar ietwat skraal sonder die groter konteks, die pikturale rekords (of dit nou "droomskrif" is, al dan nie), van die eerste mense in hierdie land.

Helize van Vuuren

  • 2

Kommentaar

  • En eintlik was dit maar net steentydperk-graffitti, deur dieselfde tipe sosiale uitskot as wat vandag nog plekke besoedel met hul sogenaamde kuns.

    Dis slegs ’n opinie, aangesien geen van ons met enige van die "kunstenaars" kon gesels nie, is alles wat ons dink opinie, nie kennis nie.

    Ek wil graag almal vra om nie hul opinies met kennis te verwar nie, dis veral oorverdowend onder die ateïste.

    Wees gegroet in hogere welwelsing.

    Duitswester

  • Helize van Vuuren

    In “Stories op rotse” (In die vroegte: 20-26), ’n essay oor rotskuns, suggereer Hennie Aucamp ’n duidelike verband tussen rotskuns en verhaalkuns. Meer nog: hy beskryf die bewaring van kultuur as “selfbewaring”,want:

    Ons het ’n diep skuld teenoor die Boesmans wat, so besef ons nou eers, van

    die grootste en dalk blywendste digters van Suider-Afrika is. Hulle het

    hierdie wêreld uitgesê in “tekens” [’n verwysing na die semiotiek van

    rotskuns, ook deur leke effe pejoratief genoem “rotstekeninge”], in lied en

    dans en sprokie en skilderye, en op ’n manier wat vir ons nagenoeg

    onherhaalbaar is, want ons het ons aard en ons aarde verleer en verloën, en

    daarmee ook ons hemel.

    (Aucamp 2003: 26; my kursivering)

    Aucamp se siening van die San as Suid-Afrika se eerste digters, is ’n belangrike literêre insig. Hiermee aanvaar hy die mondelinge tradisie van die San as deel van die Suid-Afrikaanse letterkunde .

    Hier verwoord Aucamp boonop ’n ekokritiese perspektief wat vandag ekstra waardevol is. Gedenk die "ondersoekende bore" wat reeds in die Oos-Kaap besig is ter voorbeiding van moontlike  "fracking", volgens ’n plaaslik betrokke geoloog.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top