Laat ek nou maar van meet af my hand verklaar – ek is versot op woordeboeke. Op my woordeboekrakke vind jy enigiets vanaf 'n heruitgawe van die Patriotwoordeboek tot 'n Buffy the Vampire Slayer-woordeboek wat onlangs verskyn het. Maar daar is bykans geen ander woordeboekgeleentheid wat my so opgewonde maak soos die verskyning van 'n nuwe deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) nie.
Daar is baie redes vir my opwinding. Ons vorder stapsgewys nader na die voltooiing van die belangrikste Afrikaanse kulturele artefak. My taal word vir nog 'n letter blootgelê in al die moontlike dialekte en registers. En so kan ek aangaan ...
Wat tog ook vir my bydra tot die opwinding, is die skaarsheid van hierdie gebeurtenis – ons moes immers vier jaar wag sedert die laaste deel verskyn het. Delf 'n mens egter bietjie dieper, is mens verstom dat 'n projek soos die WAT steeds voortbestaan. Dit is welbekend in taalkringe dat die staatsliggaam wat onder meer die WAT befonds, die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), disfunksioneel is en nie hulle mandaat behoorlik uitvoer nie. Die HUB is onlangs geskors na 'n reeks uitvalle met die Raad en daar is chroniese aantygings van finansiële wanbestuur teen PanSAT (SAUK, enigiemand?). So is die Buro van die WAT se befondsing dan ook onlangs eensklaps en sonder enige vooraf kommunikasie met 'n derde besnoei, nadat dit reeds al 'n geruime tyd deur 'n aggressiewe (dog voorafbeplande) afskaalproses gegaan het. Dit blyk ook dat die geld wat met die laaste besnoeiing bespaar is, nie enigsins aan ander woordeboekeenhede van die amptelike landstale toegeken is nie.
Teen hierdie agtergrond is dit dus merkwaardig dat ons nog die verskyning van 'n nuwe deel van die hoogste gehalte kan vier. Eerstens moet baie eer gaan aan die hoofredakteur, Willem Botha, vir sy verantwoordelike bestuur en fondswerwing, en aan elke donateur wat die WAT help om kop bo water te hou. Tweedens moet 'n pluimpie gaan aan die WAT-redaksie, gelei deur die eindredakteur Frikkie Lombard, wat onder uiters moeilike en onsekere omstandighede dag na dag hulle werk met soveel presisie en toewyding doen. Dit is aan hulle te danke dat ek die voorreg het om hulle werk onder die mikroskoop te plaas.
Deel XIII van die WAT, wat die letter R omvat, stel my dan ook nie teleur nie. Hoewel daar 'n paar haakplekkies is (meer later hieroor), is die geheelbeeld in pas met wat 'n mens van so 'n woordeboek verwag. Die trefwoordlys is omvattend, sonder om allesomvattend te probeer wees. 'n Woord of uitdrukking moet vyf keer uit afsonderlike bronne in die WAT se rekords voorkom voordat dit vir opname kwalifiseer en selfs dan word ander faktore (soos die tydsverloop tussen optekenings) in ag geneem. So word die onnodige opname van woorde wat net kortstondig gebruik word, voorkom.
Hierdie verantwoordelike opnamebeleid lei egter glad nie tot 'n woordarmoede nie. Inteendeel, die volle spektrum van Afrikaans word ten toon gestel. Daar is byvoorbeeld:
- woorde vanuit 'n bepaalde kultuurraamwerk, soos ratiep en rebana
- gesels- en streektaalwoorde soos reklies ('n konsertina) en riewatjies ('n hoenderafvalgereg),
- nuwer woorde en uitdrukkings, soos rooidatalys, rekenaarmisdaad en 'n rassebril dra
- vaktaal soos regswindend (biologie) en Rehabeam (wynkunde)
- sporttaal soos ruk-en-wip (gewigoptel) en reef (seilvaart).
Ouer en verouderende woorde is darem ook nie almal saam met die badwater uitgesmyt nie, soos die insluiting van onder meer remonteperd en rad (in die betekenis "rats") getuig. En laastens is daar die woorde soos rammelkas, rissiepit, rondomlelik ("baie lelik"), rooibroekkonstabel ('n tipe vlinder), rooihakskene en roffel wat sommer net jou tone laat omkrul omdat Afrikaans so lekker beskrywend is. Hier en daar is vreemde gapings en weglatings (soos die rugbyterme rolmaal/rolmaalbeweging), maar die geheelbeeld getuig daarvan dat die redaksie hulle woordspeurwerk baie deeglik gedoen het.
In die verlede is die WAT dikwels gekritiseer dat dit te lang bewerkings van trefwoorde aangebied het, maar in die nuwer dele is die redaksionele stelsel hersien en deel vir deel verfyn. In deel XIII is die balans tussen aantal trefwoorde en die spasie afgestaan aan die bewerking van elke trefwoord, ook op die oog af bevredigend. Daar is kommer oor die lengte van sitate uit koerante wat woordeboekinskrywings onnodig verleng, maar ek dink nie dit sal enigsins die gebruiker se lees- of naslaanervaring skaad nie.
Nog 'n inligtingskategorie wat heelwat plek opneem, is die uitsprake. Maar gegewe die WAT se mandaat om so omvattend as moontlik te wees, dink ek ook hier dat die aantal uitsprake wat gegee word, die gebruiker eerder baat as skaad. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die trefwoord reaksionêr, waarby nie minder nie as 12 uitspraakmoontlikhede genoem word. Die WAT teken al hierdie uitsprake op sonder om vir die gebruiker voor te skryf hoe om die woord uit te spreek. Maar deur die uitsprake in 'n bepaalde volgorde aan te bied, maak die WAT tog 'n aanbeveling oor watter uitspraak die gebruiklikste is. Met uitspraak wat so 'n tameletjie is, slaag die WAT met hierdie benadering daarin om beide sensitief en prakties te wees.
Ook op die vlak van betekenisoordrag slaag deel XIII daarin om omvattend te wees sonder om die leser uit te put. Daar is voldoende betekenisonderskeidings om die belangrikste nuanses van elke woord se gebruik aan te bied, en die definisies of woordverklarings gee genoeg inligting weer.
Die definisies lees ook oor die algemeen heel maklik, maar ek het tog een voorbehoud hieroor. Soms trap die redaksie in die slaggat om moeilike of minder gebruiklike woorde in definisies van eenvoudiger en meer gebruiklike woorde te gebruik. 'n Goeie voorbeeld hiervan is die definisie van rassismese eerste betekenisonderskeiding:
Opvatting of aanvaarding dat ras deurslaggewend is t.o.v. inbors, intelligensie, vermoë, of dergelike, wat dikw. aanleiding gee daartoe dat 'n bep. ras as meerderwaardig en ander rasse as minderwaardig beskou word, m.d. gevolg dat oorheersing van een ras oor 'n ander of onderdrukking v.d. minderwaardig gewaande ras as 'n redelike of vanselfsprekende praktyk beskou word ...
Ek kan nie sien dat iemand wat die woord rassisme naslaan, noodwendig die woorde inbors en gewaande sal ken nie, en met hierdie twee woorde wat in ander dele val, kan dit 'n geskarrel veroorsaak vir selfs dié gebruiker wat nie sommer net moed opgee nie. Ek bepleit nie hier dat die WAT soos aanleerderwoordeboeke 'n afgebakende definiëringswoordeskat van 'n paar duisend woorde moet gebruik nie – 'n omvattende woordeboek se definisies moet tog so presies as moontlik wees. Maar met die WAT wat (veral in elektroniese vorm) meer en meer in skole en universiteite gebruik word, word dit al belangriker dat die redaksie die definisies so eenvoudig as moontlik hou.
Die voorbeeldmateriaal wat die WAT ter ondersteuning van definisies bied, is egter nie gebonde aan dieselfde streng norme as die definisies nie. En dis dan veral by die aanhalings/sitate dat die rykdom van die taal se gebruikers sterk deurkom. Van die juwele sluit die volgende in:
- 'n Eitemal-sitaat wat die nuuskierigheid prikkel by rokerig: "Hy sien Oom Vaaltyn se oë is nog rokerig van die omdop en sy linkeroor beur nog agtertoe."
- 'n koerantman se entoesiastiese beskrywing by rooiwarm – "'n Drukvin ... en twee veelseggende uitlaatpype kondig luidkeels aan dat jy hier te doen het met 'n rooiwarm meneer van 'n motor."
- verskeie interessante sitate by ryswyn, byvoorbeeld "Ons eet met smal ivooreetstokkies wat aljimmers oormekaar spring en drink warm sake (Japanse ryswyn) uit oulike klein erdeglasies."
Die enigste bekommernis in die WAT se gebruik van sitate in die nuwer dele is dat die maklike beskikbaarheid van elektroniese materiaal, veral koerantmateriaal, lei tot 'n oorwig van sitate uit koerante en tydskrifte tussen 1990 en die hede. Dit is veral opvallend as 'n mens 'n groepie inskrywings soos dié van die samestellings wat met die woorddeel regering- begin, deurlees. Ek weet nie of hierdie verskynsel baie lesers of gebruikers van die woordeboek sal pla nie, maar ek mis tog plek-plek in deel XIII die skakerings wat 'n goeie balans tussen sitate uit koerante/tydskrifte en sitate uit boeke kan verskaf.
Gepraat van skakerings, nog 'n jammerte is dat die WAT nie genoeg etimologieë of woordherkomste aanbied nie. Ek weet dat die woordeboek se redaksionele stelsel die opstellers streng beperk tot 'n paar kategorieë soos leenwoorde en volksetimologieë, maar ek wonder tog of die WAT nie bietjie kan gaan leen uit die susterpublikasie EWA (Etimologiewoordeboek van Afrikaans) nie. Nie almal wat 'n WAT koop, koop noodwendig ook 'n EWA nie en die hergebruik van daardie inligting sou die WAT-gebruikers baat, sonder om meer werk vir die redaksie te skep. Ek dink hier aan trefwoorde soos rooibaadjie en ruimskoots, wat albei baie interessante herkomste het wat in EWA opgeteken staan.
Ten spyte van die paar punte wat uitgelig is in die voorgaande paragrawe, spreek deel XIII van inhoud wat deeglik nagevors is en op 'n toeganklike wyse aan gebruikers voorgelê word. Boonop is die teksversorging uitstekend en het die WAT se set- en proefleesspan (alles word onder een dak gedoen) hulle uitstekend van hulle taak gekwyt.
Indien daar dalk twyfel bestaan oor hoekom ek nie deurgaans by woorde in hierdie resensie definisies verskaf het nie: hopelik het ek die nuuskierigheid genoegsaam geprikkel om 'n WAT te gaan koop en self die woorde na te slaan! Deel XIII is beskikbaar teen dieselfde prys as deel XII, naamlik R290 vir die standaarduitgawe en R590 vir die leeruitgawe. Die Elektroniese WAT behoort teen einde Augustus ook die letter R te bevat.
Voornemende kopers kan die WAT skakel by 021 8873113 of wat@sun.ac.za, of hulle kan 'n bestelvorm van die webtuiste aftrek by www.wat.co.za.
Soos 'n goeie rooiwyn raak die kwaliteit van die werk wat die Buro van die WAT lewer, net beter en beter hoe langer hulle bestaan. En soos met 'n goeie rooiwyn gaan ek hierdie "bottel" deeglik geniet, terwyl ek die volgende paar jaar reikhalsend op die volgende een wag.
Dr Phillip Louw
Besturende Redakteur: Woordeboeke
Oxford University Press Southern Africa

