Die vlamme klap rusteloos teen die agterkant van die vuurherd in ons huisie en op die mat voor die bank lê ons hond haar en strek. Die stadsraad het al weer ons beurt om krag te hê kortgeknip en met ’n vlammegloed en ’n paar kerse, sit ek en die skoonlief in my lewe en gesels oor dinge wat ons min kans voor kry. Eintlik, min kans voor maak.
Ek skink nog ‘n glas rooiwyn en sonder om te veel na haar te kyk en amper oogkontak te vermy, wonder ek hardop wat deur sekere mans se gedagtes op daardie oomblik gaan.
Is hulle net bekommerd of is hulle stukkend weens al die verkeerde besluite wat hulle geneem het?
Voel hulle verneder deur en in hulself, of wat gaan in elkeen se gemoed aan?
Vroeër in die week was daar koerantopskrifte en sosiale media reaksie op die Valke se ingryping en beslaglegging op ’n gesiene sakeman, pastoor en een van ons huurders, se huise en motors en dies meer.
Die wetstoepasser beweer hy het ’n onwettige geldruil-skema bedryf en hom onregverdiglik aan die ontvangpunt van die piramide bevind. Nou is die beleggers kwaad en sommige gaan blykbaar geld verloor en sy deftige helde-bestaan van ’n dag of wat gelede is skielik in een oggend daarmee heen. Hy is nie die eerste geval nie en sal sekerlik nie die laaste wees nie.
Sy beeld, ongeag van die finale bevinding van die ondersoeke tans teen hom, is aan flarde. Wanneer hy môreoggend opstaan om sy baard te skeer, sal hy dit moontlik wil doen sonder om in die spieël te kyk. Hy sal eerder die wassery vinnig agter die rug wil kry; of sommer in die sort skeer. Of dalk glad nie.
Gisteraand op pad huis toe moes ek by die winkel (*) hier op ons voorstoep vir room aangaan. Gisteraand was my beurt om die ete te doen. Maalvleis en kool met kruie en kerrie en room, alles in een pot.
Met die naderstap na die winkel se deur, sien ek die ou mannetjie wat so half krom met ’n flannel-blokkiesbaadjie ’n koerant se advertensieblaaie voor die Lotto-masjien staan en lees. Ek sien baie krom en moeë mense in elke deel van my wakker dag en hierdie was duidelik net nog een.
Terwyl ek ’n skuifeldans verby ’n tante wat haar inkopiesakke wydsbeen by die nou ingang van die winkel uithelp doen, merk ek wel egter iets bekends op; ek kén mos die man met die koerant.
Op pad terug na die glygang met net ’n potjie room om te betaal, is daar ’n paar mense voor my en op ’n snaakse manier hoop ek tog dat ek nie na die kasregister reg by hom geroep moet word nie. Ek het nie lus vir wittande maak en groet en gesels nie. Ek wil net die room betaal, my strak gesig tot by die huis ophou en dan, wanneer die sinkhek agter die sedan toerol, die veiligheid van my mense en die huishond geniet.
Maar, helaas, dit is toe wél die kasregister by die wettige dobbeldoos wat my nader roep. Ek groet hom eerste en toe maak ons oogkontak. Hy het oud geword.
Hy was nog altyd kort, skraal en grys, maar die lyne oor sy vermaarde gesig lyk na die lyne wat net die streep slae van die lewe jou toedien. Sy oë is ook grys en toe hy die vraag “ hoe gaan dit, lanklaas gesien” antwoord, is daar iewers tog ’n bekende glaserige sprankel wat saam met “ons druk maar deur ...” deurbreek.
Ek vat-druk hom aan sy dun bo-arm en groet met “laat dit met jou goed gaan”.
Terwyl ek terugstap kar toe, wonder ek of ek dit werklik bedoel het.
Prediker sê die anderdag môre vir my dat daar geen regverdige mens op hierdie aarde is nie. Niemand nie. Nie eens een nie.
Terwyl ek dit toe gelees het, het ek selfbewus sommer heel eerste die waarde en waarheid in hierdie sin as relevant en selfregverdigend aangegryp. Ek wou skielik regop spring en van ’n denkbeeldige seepkis aan die wêreld verkondig: “Sien julle, julle ís nie so heilig soos wat julle voorgee nie!”
Net voor ek egter wou voortgaan om gedagte-klippe uit my nuutgevonde glashuisgemoed na alles en almal te slinger, tuimel ek, weereens spreekwoordelik, van die seepkis af en klap die werklikheid van ’n ander prediker se woorde my disnis.
“Ek is ook ’n Goor-Gert.”
Die krag was steeds af, maar gelukkig kook ons met gas.
Die kool was nog effens hard en die vuurherd het vir nog ’n stompie geroep en my glas was leeg. Terwyl skoonlief haar bes probeer om my te herinner aan die dokter se gekla oor my effense hoë suikertelling en dat ek iets warmer moet aantrek voor ek die hout gaan haal, skink ek vir ons nog een glas rooiwyn.
Ek sak terug op die rusbank en lig my pantoffelvoete tot op die koffietafel.
Nou’s ek reg vir gesels.
Maar die woorde is skielik nie meer so volop nie. Deur die frons wat amper oor my oë hang, sien ek hoe die nuwe klam stompies begin te smeul en rook, totdat die hitte onder en om hulle so oorweldigend is, dat hulle ook net oorgee en brand. Voluit, meer as die kolebed waarop hulle lê. En dis daar, êrens in daai werklikheidsvertoning in die vuurherd, wat ek weer ’n stuk sekerheid kry.
Seker dat ek tog bedoel het dat dit met die mannetjie goed moet gaan. Of ten minste beter.
Seker dat ’n man soms eers verneder moet word, voordat hy die skat van ’n nuwe lewe kan ontdek.
Seker dat die prediker se stelling oor die gebrek aan regverdige mense, nie net ’n standpunt is nie, maar in my en die pastoor en elke ander Goor-Gert se geval, juis ’n uitdaging is.
Sela.
(*) – Die oumense het geglo ’n kafee is ’n plek waar jy koffie drink en ’n winkel is waar jy inkopies doen.


Kommentaar
Lekker gelees aan hierdie stukkie.
Die rooietjie is net die ding om jou effens hoër as gemiddelde bloedsuikertelling in toom te hou.
Skink maar nog enetjie.
Raed-na-Gael