Rooi verkoop die skildery én die party

  • 0

Kunskenner Pieter Swanepoel besin oor die rooi baret.

Miskien was jy nié deel van die rooi golf gedurende ons onlangse algemene verkiesing nie, selfs nie al is jy ’n rooi T-hemp, oorpak of baret belowe nie. Wees egter gewaarsku:  dieselfde benadering jeens rooi sal jou nie juis bevoordeel in die binnekringe van een van kapitalisme se grootse markte – te wete kuns – nie.

Die ding staan so. Ons kan gaan kyk na kuns en sien waar het die rooi baret oral opgeduik; intussen kan ons ag slaan op die gewilde hedendaagse mite dat rooi in ’n skildery die werk beter, oftewel makliker, sal laat verkoop. Of het jy nog nie van daai een gehoor nie? Wel, dit is nie noodwendig ’n wolhaarstorie nie.

Hou onder andere in gedagte dat die antropologies-gedrewe kunskenner Dennis Dutton binne die konteks van ’n evolusie van kuns ons aandag vestig op die moontlikheid van universele waardes ten opsigte van kuns. Hy beweer byvoorbeeld dat ongeag etniese agtergrond, die oorgrote getal mense spesifieke skilderye mooier as ander sal vind, dat diesulke aantreklike skilderye juis landskappe is en dat die kleur blou binne landskapskilderye die aanloklikste is.

Op soortgelyke trant word daar deur kenners van visuele media beweer dat die portretfoto in ’n koerant, tydskrif, en so meer onmiddellik by die leser byval sal vind, in teenstelling met vele ander visuele beelde. Hier is die argument dat mense wat die koerante en tydskrifte lees, met ander ménse identifiseer. Vandaar dan ook seker die fenomenale gewildheid van ons hedendaagse selfportret in die vorm van die sogenaamde selfie.

Mart Rothko-skildery (Bron: wikipedia)

Maar om tot die rooi terug te keer. Effe vroeër vanjaar nog was ’n handvol kenners by Sotheby’s dit eens dat rooi nie net mooi maak nie, maar inderdaad verkope aanhelp. Ter stawing hiervoor is gewys op die feit dat die abstrakte ekspressionis Mark Rothko se skilderye waarin rooi voorkom, veel beter verkoop as sy ander werke; dieselfde geld ook vir een van ons eietydse en mees gewilde skilders, die Duitser Gerhard Richter, wie se skilderye waarin rooi voorkom, of selfs oorheers, kunsmarkte op hol het.

Wat die Sotheby’s-spannetjie nog meer kinderlik gelukkig maak, is die feit dat die nuwe kopersmark uit Asië as opvallende stimulant in die kunsmark opduik en dat hulle opsluit ’n voorliefde vir rooi dinge toon. In die Sjinese kultuur is rooi mos altemit ’n teken van geluk!

Wat my dan erg ernstig oor die ding van die rooi baret laat besin. Sou dit kon beteken dat in die geval waar verskillende ikoniese politieke figure se portrette naas mekaar verskyn, die ou/vrou met die rooi baret die meeste aandag sou kry? Miskien steek daar na alles tog veel meer in hierdie uitspattige koptooisel as blote rooi gevaar.

Nie dat ’n kort oorsig van enkele portretskilderye deur die kunsgeskiedenis heen nou juis hierdie soort van leketeorie beaam nie. Inteendeel, as dit gewerk het, was daar sekerlik tonne meer skilderye met rooi barette in as wat die geval is.

Dit is wel waar dat die rooi baret reeds in Renaissance-portrette opduik. Kyk onder andere na die geval van die vroeë Renaissance-meester Sandro Botticelli, die beste bekend vir sy Primavera en die Geboorte van Venus: van hom is daar nie minder nie as drie portrette wat bestaan onder die titel Onbekende man met ’n rooi baret. Die hoë-Renaissance-skilder Antonello de Saliba van Venesië het hier aan die einde van die 15de eeu (c 1480–1490) sy Portret van ’n man met ’n rooi baret gemaak en sy tydgenoot Domenico Ghirlandaio se Klein portret van ’n man  (c 1477–1478) wys ook ’n rooi baret, al is die baret hier meer regop op die kop om amper eerder soos ’n fes te lyk as die skewe pannekoekhoedjie waaraan ons gewoond is. Dieselfde kan gesê word van Vittore Carpaccio se Portret van ’n onbekende man met ’n rooi baret (c 1490–1493) en van Raphael se Portret van ’n jong man (1504).

Maar dié relatiewe gewildheid van die rooi baret gedurende die Italiaanse Renaissance bly verreweg in die minderheid as in gedagte gehou word hoeveel portrette daar reeds in hierdie tyd as losstaande skilderye sowel as beelde binne groter skilderye verskyn het. Dan moet ons ook, al is dit net ter wille van sindelikheid, die magdom skilderye wat van kerkvaders gemaak is, uitsluit. Want een of ander tyd – indien nie meestal nie, lyk dit my – hef ’n pous, of kardinaal, of biskop die een of ander rooi kepsie aan’t kruin.

Dieselfde relatiewe skaarsheid van skewe rooi hoedjies geld gedurende die welbekende Goue Eeu van Nederlandse skilderkuns, waartydens die portretskilderkuns ’n ongekende bloeitydperk beleef het. Maar selfs in die werke van die bekendste kunstenaar, Rembrandt – wat benewens sy nagenoeg 50 selfportretskilderye ook nog talle ander portrette geskilder het – is die rooi baret yl gesaai. Dog daar is tog hier en daar een waarin rooi in hoedvorm verskyn. Die eerste een wat by my opkom, is die omstrede skildery uit sy laat tydperk bekend as Die Poolse ridder (1630). Die bevraagtekening van die outentisiteit van hierdie werk deur die Nederlandse Rembrandt-kenners  JG van Gelder en Josua Bruyn had binnekringe in die 1980’s behoorlik aan’t gons. Uiteindelik veroorsaak die gestryery rondom die egtheid van die werk soveel ongemak in die kunswêreld – veral in beleggingsbinnekringe (die werk is opsluit in ’n magtige Amerikaanse versameling!) – dat dit tot op hede in ’n wolk van misterie gehul bly. Om almal egter gelukkig te hou word daar deesdae suutjies getrap, tentatief en onderlangs geprewel dat – toegegee – sommige dele in die skildery dalk deur andere leerjonge binne die meester se ateljee geskilder is, maar dat die portret self eg Rembrandtiaans geag moet word.

Tussen sy ander portrette is die mees opvallende, en sekerlik die naaste aan eie bloed, die 1657-portret van Die kunstenaar se seun Titus met ’n rooi baret. Van homself is Rembrandt se Selfportret met rooi baret en opslaankraag (1659) inderdaad ’n buitengewone portret, aangesien dit een van slegs twee geskilderde selfportrette is (daar is wel een so ’n ets) waarin die sitter se houding na links eerder as regs gekeer is. Kenners is dit nietemin eens dat Selfportret met rooi baret en opslaankraag erg ontleen is aan Renaissance-voorbeelde van onder meer Raphael en Titian. In die ander skildery (1662) wat só om aangebied word, doen Rembrandt hom as Zeuxis voor.

Dan is daar enkele Rembrandts waarin die rooi nie soveel in die hoed nie as in die flambojante veer van die hoed voorkom. Voorbeelde hiervan kan gesien word in sy Portret van Alexander die Grote (1655), waar die allermintigste rooi pluime bo die heerser se helm uittroon. Ewe spoggerig is die majestueuse rooi veer in die hoed van sy Ou man in ’n militêre uniform van 1630.

Ten spyte van die byna ikoniese kunstenaarsbeeld as die man onder die baret, kom dit nie naastenby so algemeen voor as wat mens sou dink nie, veral nie in rooi nie, aangesien die kunstenaar dan nou kwansuis aan ’n donkerder (verkieslik swart) baret gekenmerk word. So vind ons dit veral by Franse skilders, onder wie die impressionis Claude Monet se Selfportret met ’n baret (1886), asook dié van Paul Cezanne (1900) en selfs die Dada-fotograaf Man Ray se selfportret van 1948.

Daar is enkele uitsonderings wat ter wille van interessantheid genoem kan word. Die eerste hiervan is die portret wat Gauguin gemaak het waar Van Gogh ’n rooi baret op het. Dit was gedoen tydens hulle stormagtige saamwoontydperk en wel in dieselfde jaar (1888) toe Van Gogh eers vir Gauguin met ’n oop skeermeslem gedreig het en later dieselfde aand nog sy befaamde oorafsnydaad gaan pleeg het.

Die Spanjaard Picasso verskyn ook soms op foto’s met ’n baret en hy het by geleentheid meer as een uitbeelding gemaak van ’n vrou met ’n rooi baret, waarvan een van die mees gewildes op kunsveilings die litografie van 1911 is. Dit is alom bekend dat die skilderye van die vrou met die kenmerkende rooi baret uitbeeldings is van Marie-Thérèse Walter, die 17-jarige meisie op wie die 45 jaar oue Picasso sy hart in 1927 verloor het en met wie hy daarna ’n geheime 14 jaar lange verhouding sou hê.

Interessant genoeg kom die rooi baret nie voor in die sogenaamde sosiale realisme wat die kuns van die Sowjetunie sou oorheers nie en het selfs die aarts-Marxis van Kuba, Che Guevara, nie ’n rooi baret nie, maar ’n swarte gedra.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top