Rooi haring deur Schalk Schoombie: ’n resensie

  • 1

Rooi haring
Schalk Schoombie
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798175654

Twee onderwerpe waarvan die mensdom nie genoeg kan kry nie, is kos en moord. (In geen spesifieke volgorde nie.) Kosprogramme op televisie teel aan soos konyne, en veral Suid-Afrikaners word daagliks met moord en misdaad in koerante, nuusbulletins en Huisgenoot gebombardeer. Koerantopskrifte op lamppale basuin die wreedhede uit en romans (hetsy speurromans, misdaadfiksie, polisie- of raaiselromans) verkoop soos soetkoek – vra maar vir Deon Meyer. Nagraadse studente skryf proefskrifte en sommige universiteite het selfs dié genre by hul letterkundekursusse geïnkorporeer. Binne die Engelse letterkunde bestaan daar reeds ’n gevestigde kultuur van speurromans en misdaadfiksie – dink maar aan sir Arthur Conan Doyle se fiktiewe karakter Sherlock Holmes wat wêreldwyd onder leesgieriges bekend is. Dan was daar ook Angela Lansbury se fiktiewe karakter, Jessica Fletcher, wat kykers vir langer as ’n dekade voor die televisiestel vasgenael gehou het in die televisiereeks Murder she wrote. Televisiereekse soos CSI, Dexter en talle ander word getrou gevolg. Kookboeke laat talle uitgewers se balansstaat klop en elke Jan en San Rap bak en brou om hemelskos soos dié van Nigella, Jamie, Rueben, daai beneukte man op die kettingwinkel-televisieadvertensie of Kokkedoor(tjie) voor te sit.

Schalk Schoombie (en sy uitgewer) het dus dadelik ’n wenresep raakgesien met sy jongste roman, Rooi haring. (Waarskuwing: moenie dié roman lees wanneer jy honger is nie – dit is soos om Lasse Hallström se film Chocolat (2000) te kyk wanneer jy sjokolade afgesweer het. Schoombie maak jou lus – die disse wat in hierdie roman opgetower word, sal enige honger mens tot moord dryf – figuurlik gesproke natuurlik.) Schoombie is onder andere bekend as joernalis, dramaturg, oudredakteur van die glanstydskrif De Kat en ook romansier. Sy debuutroman, Boomkastele (2015), is vir die ATKV-Prosaprys sowel as die Jan Rabie-Rapportprys genomineer.

Met Rooi haring waag Schoombie sy pen aan ’n nuwe genre. Dit sit nie in enige skrywer se broek om ’n speurverhaal te skryf nie – jy moet jou storie ken. Lesers wat speurverhale (of misdaadfiksie, hetsy in die vorm van ’n raaiselroman of ’n polisieroman) lees, wil die spel saam met die skrywer speel om uit te vind wie die misdaad gepleeg het. Beplanning is nodig tot in die fynste besonderhede, aangesien die leser deur middel van iets so eenvoudig soos ’n semantiese verwysing die einde sal kan voorspel. In hierdie opsig slaag Schoombie die toets met vlieënde vaandels. Hy het my tot aan die einde aan die wonder gehou, my raaiskote telkens in die kiem gesmoor en my op ’n dwaalspoor gelei met ’n verrassende slot wat my soveel geskok het soos toe JR Ewing van Dallas-faam lewend op die televisieskerm verskyn het nadat almal gedink het die man het die tydelike met die ewige verwissel.

Hartman Swiegers is ’n vooraanstaande sjef wat skouers skuur met al wat ’n glanspersoonlikheid is. Hy is groter as lewensgroot (letterlik en figuurlik) met ’n charismatiese persoonlikheid wat baie mense groen van jaloesie laat. Sy sukses, status en reputasie loop hom vooruit. Hy open ’n nuwe restaurant in Pretoria genaamd Tydloos. Tydens die openingsaand daag gaste van heinde en ver op om aan dié skouspel mee te doen. (En leser, berei jouself voor: hierdie gaste is nie jou vervelige bure oorkant die straat nie.) Lanklaas het ek my so in fiktiewe karakters verkneukel. Ek moet wel beklemtoon dat Rooi haring propvol humor is – dit verduidelik die karakters en hul dade. Soms voel dit asof jy aan die Teater van die Absurde meedoen.

Greta Burger is ’n kosblogger wat tydens die openingsaand met van die interessante gaste geselsies aanknoop. Daar is Bruce Sanders, ’n Australiër, met wie sy intiem bevriend raak, asook Hartman se broer, Darius, wat sy eie geraamtes in die kas het. Latoya Jones skryf skindernuus vir ’n Sondagkoerant en Wickus Gericke konkel agter die skerms. Elke gas het sy/haar eie agenda en mettertyd ontvou die web van verraad, haat, jaloesie en agendas in ’n intrige wat die poppe laat dans.  

Alhoewel Greta haarself as ’n buitestanderfiguur beskou, het sy tydens die openingsaand ’n gevoel dat alles nie pluis is nie. Wanneer die lyk van Hartman Swiegers tesame met twee rooi harings in die koelkamer ontdek word, word Greta op ’n speurtog gelei wat haar na allerlei bestemmings neem.

Sy besoek Darius Swiegers op die plaas Stormkloof en ontbloot ’n steurende familiegeskiedenis wat dekades terug strek. Die leser word met talle vrae gekonfronteer: Wat het tussen Hartman en Darius Swiegers gebeur? Waarom haat die broers mekaar en wat het tydens hul kinderjare by die plaashek plaasgevind? Om sake verder te kompliseer, is daar vrae rondom Hartman se werknemers en hul moontlike betrokkenheid by sy moord. Is die moederlike figuur Lina Draai so onskuldig as wat sy voorkom, en het Jimmy Brown uiteindelik genoeg gehad van sy werkgewer se uitbarstings en beledigings?

Wat hierdie roman so lekker laat lees, is die feit dat daar ’n verrassing om elke hoek en draai verskyn. Schoombie laat reg aan sy karakters geskied deur elkeen se geheime oop te vlek, wat op sy beurt tot ’n spannende intrige bydra. Die titel, Rooi haring, is op sigself fassinerend, maar ek sal nie die geheime wat daaragter skuil, hier uitblaker nie.

Rooi haring is een van die mees humoristiese en genotvolle speurromans wat ek in ’n lang tyd gelees het. Daar bestaan by my geen twyfel dat die oorgrote meerderheid lesers hierdie teks terdeë sal geniet nie. En wanneer die misterie rondom die moordenaar uiteindelik ontrafel word, kan jy maar net sê: “Slaan my met ’n pap snoek!”

  • Foto van Schalk Schoombie: verskaf
  • 1

Kommentaar

  • Barend Schoombie

    Sopas begin lees aan Rooi haring, Geniet dit. Het Boomkastele verslind. Probeer self skryf maar Schalk maak my klein voel. Kan nie wag om verder te lees nie. Sukses met die publikasie. Groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top