Roof

  • 0

Geïnspireer deur PJ Bosman se “Nag van Twee Vroue”, ’n verhaal van ’n wit en ’n swart vrou (Delia en Ousleia) wat op dieselfde aand ’n kind verloor tydens ’n plaasaanval. Hierdie verhaal word uit Ousleia se oogpunt geskryf en word ná daardie aand vertel.

Hulle het twee van my kinders se lewelose vlees in my hande kom neersmyt; net die een was my bloedkind, maar al twee se bloed het warm in my arms gelê. Albei het my vel gevlek. Dis bloed wat soek om ’n roof te word, maar dis nie my liggaam wat hulle gate ingeskiet het nie.

Ek het vir hulle sien saamspeel soos broers. Ek het vir hulle al twee gesing tot hulle aan die slaap geraak het. Nou sit ek met hierdie lewelose gesigte wat in my gedagtes vasgebrand is. Hulle kap hierdie vrou se hande af en sê vir haar om die stukke op te tel. Hulle sê vir haar om self te sien kom klaar.

Gewere is die probleem, nee, gierigheid is die probleem, nee, dis hoe ons almal staan en dink aan dié goed: daar’s ek en daar’s jy, daar’s reg en daar’s verkeerd. Hoe stop mens dié goed? Ons kinders se grafte lê oop en wag vir die volgendes om ingegooi te word, daar’s nie tyd vir toespit nie.

Ek het net ’n knoppie gedruk. Toe die koeëls beginne vlieg het ek ook gekoes.

Al dié mense dink ek het aan almal behalwe myself gedink. Maar ek het ook gedink aan my kind wat sonder ’n ma sou wees as ek nie die garage-knoppie betyds gedruk kon kry nie. Dis seker wat hulle noem “irony”. Dieselle aand vra hulle vir my of ek “die bliksem” herken. Dis ’n ma se grootste vrees daai, die een ding wat jy God soebat om jou te spaar.

Daai lyke is my kinders. Die naelstring is nog nie geknip nie.

Ek praat die waarheid soos ek nou hier staan: jy sal jou siel verkoop om die pyn en ellende wat jou kind deurgaan van hom af weg te hou. Arnoldjie ken nie sulke pyn nie, hy het nog net die mooi in hierdie lewe gesien. Sy ouers vloek nie eens voor hom nie. Dis hoekom ek Missies Marie so gehelp het; ek het gedink ek sal nooit deur so iets kan lewe nie. My hart sal gaan staan, dit sal die einde van my wees. Later daardie selfde aand moes ek ook vóél.

Ek vat niks weg van die missies nie, maar dit was erger om my kind so te sien doodgaan. Mense het nie simpatie met my kind gehad soos ek nie. Hulle het nie geweet van die kere wat hy my op die wang gesoen het en vir my gesê het hy is lief vir my nie. Hulle het nie gehoor hoe hy my belowe het dat hy my ’n mooier lewe eendag sal gee en dat ek beter verdien nie. Selfs al het ek vir hom gesê ek is gelukkig waar ek is en dat hy moet los met die skatte op aarde en sy skatte bó bymekaarmaak. Daai kind kon nie los van sy drome kom nie. Ek voel sleg vir Missies Marie, maar om ’n kind te sien doodgaan sonder simpatie is anders.

Die Here gee, maar as hy vat, vat hy baie. Hy moet klaarkry, en my ook vat. Hy weet ek was nog nooit so leeg of so swaar nie. Dis asof iemand my met ’n kussing probeer versmoor, maar ek hou aan genoeg asemhaal om net-net aan die lewe te bly. Ek is die waslap wat hulle wil uitdruk, maar daar is niks, ek het niks meer om te gee nie. Dis bloed wat soek om ’n roof te word, maar dis nie my liggaam wat hulle gate ingeskiet het nie.

Lees ’n onderhoud met Armand Fourie hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top