Ronnie Belcher se speelse bekoring leef voort in Van heidebos en Skepper

  • 0

Titel:Van heidebos en Skepper ? Keur uit die poësie van RK Belcher
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978 1 86919 248 8
Aantal bladsye: 115
 

RK Belcher (Ronnie vir ons almal) was ? voorbeeld van hoe om die speelse vers te bedryf. ? Mens dink hier aan klassieke treffers soos:

Dis die juk dis die skei
ek is hier om te bly
as my besie vannag
in jou klofie kan wei

Die rooihaarflerrie
met 'n kop van kerrie
vir almal sê sy
I love you very.

? Paar jaar gelede het Ronnie in die HB Thom-teater die gehoor op die vloer gehad met sy voordrag. En as ek reg onthou het hy al die gedigte voorgedra sonder ? boek of nota voor hom. Die gedigte was deel van hom en sy lewe.

So pas het Protea-uitgewers ? keur uit sy gedigte (115 bladsye) gepubliseer met Abraham H de Vries as die samesteller.

En dis reg so. ? Gestorwe digter moet bewaar bly vir die digterlike nageslag.

Hopelik sal Protea dieselfde doen vir anders onlangs gestorwe digters - en wil iemand nie Casper Schmidt se gedigte bundel nie?

Breedweg is daar in Belcher se digkuns twee Belchers aanwesig. ? Ernstige Digter en ? parodies-satiriese volksrymer. Mens en Skepper (1956), Ver land (1960), So is die lewe vir een pond sewe (1978), ? Ding om te skil in die maand April (1980), Ringe in ? geelhoutboom (1982), My hart sing sewe moppies (1996) en Van heidebos en klip (2000).

Ek het nie veel erg aan die ernstige, verhewe Digter nie. Vir my is die essensiële en beste digter die een van die moppies, die parodie, die vinnige lopervers en speelse gedig.

Miskien het dit iets te make met ons tradisie dat die speelse gedig, waaroor Daniel Hugo al uitvoerig geskryf het, nie na waarde geskat word nie. Ek het ? bepaalde voorliefde vir die speelse vers wat op die oog af na ? grap lyk, maar onder draai die duiwels rond.
Hierom is Ogden Nash en Philip de Vos geliefde digters.

"Nonsense verse", soos dit op Engels heet, het sy bekoring, bepaald. Dit is dikwels die gedig wat in die geheue bly vassteek en jou laat glimlag. Dieselfde geld AG Visser se verse.

Die versoeking is groot om elke gedig waaroor ? mens opgewonde raak, hier aan te haal.

Trouens, ? mens se lagspiere word so gekielie dat jy later uitasem is van die lag. En wie kan dit regkry om jou vir ? hele bundel te laat lag en vol bewondering te laat staan voor die woordvernuf, astrante ryme, belaglike wendings - en ... lewenswysheid?

So is die lewe vir een pond sewe, ? Ding om te skil in die maand April en My hart sing sewe moppies is van my mees geliefkoosde bundels.

Deur menige melancholiese tye het hierdie boeke my al gedra en gewys dat Belcher se onhebbelike sin vir humor alles regmaak. Die humoris/satirikus is in wese ? ernstige persoon en ? mens kan dit sien aan Belcher se ander gedigte. Maar ek hou van die veerligte aanslag, van die vers wat sommer so speels én spuls uit die hand glip.

Die gedigte is polities inkorrek, soos op bladsy 100:

Ons kan toor
en ons kan moor
want ons dra ons keps
agterstevoor

of

Kaapstad se lessies
drink wyntjies uit flessies
maar Stikland se stukke
sluk bliksem uit blikke.

Humor is egter selde polities aanvaarbaar. Jy trap dikwels op ? toon of misbruik ? stereotiep om 'n effek te kry. Trouens, die speelse verse en uitinge hiervan, soos die limeriek, gedy op die skunnige.

Belcher hanteer die fyn balans tussen en beeld en toepassing behendig. Hy is immers ? skrywer van ? gesaghebbende studie oor die sonnet, en "Besoek aan ? letterkundemuseum" (p 83) parodieer hierdie digvorm met ? ontluisterende slot:

... wat is die slaap ? wondersoete ding.

Die kort verse parodieer dikwels ook lewenswyshede, soos op bladsy 91:

Kerktaal bring sy loon
jou siel kan daarin woon
maar ? vloekwoord op sy tyd
dit hou die mangels skoon.

Die spanning tussen die verhewe en die banale is waarop hierdie soort gedig se as draai. Sy volta, of keerpunt, is die teenstrydighede wat in die gedig skuilhou: kerktaal versus vloekwoord. En dan die ontlading: die mangels wat skoongehou word.

Die teenoorstaandes word dan verder beklemtoon deur die inbring van die mangels wat kwansuis deur die vloekwoord skoongemaak word!

Op die oog af lyk die gedigte maklik en selfs verspot, maar met ? dieper lees en uitmekaarskroef besef die leser hoe die knap die verse gefabriseer is.

Die ernstige digter is nie vir my nie. Ek vind hierdie verse retories en selfs breedsprakig.

Toe Ronnie op die toneel gekom het, was die Dertigers se Verhewe Verse al passé. Gee vir my die grappige/parodiese/satiriese/speelse vers, want hierin munt Belcher uit.

In "Poësie-aand" word daar geskerts oor voorlesings in die Dorpstraat-kafee, met ? raak tekening van hoe sulke aande verloop:

Sal ek vanaand in Dorpstraat se kafee
my siel ontbloot for everyone to see?
Hier tussen die geskinder en gepraat
my siel ophang aan ? doringdraad?
Met ander se geroggel en gerook
my sielsgeheim met nikotien bestook?
Hier tussen al die waaiers en die fans
myself beskinder saam met also rans?
Nee, eerder lieg en skurwe rympies maak
oor snaakse goed wat ander siele raak
soos ghoffels wat kafoefel op ? trein
and other dear souls crying in the rain.
Maar smokkel met sy siel se brood-en-jêm
voor al dié vreemde wesens? Not-a-dêm!

? Mens kan hóór hoe Ronnie hierdie gedig voordra en hoe die gehoor lag.

Kyk ook na hierdie enetjie (p 98):

Die graf is toegegooi
jou plek is leeg in die kooi
die suster wat die kranse pak
hoe buk sy dan so mooi

en

Die trassie
van Makwassie
hy dra sy bloemer
in ? tassie (p 67)

en die speel met lewenswaarhede:

Die gat is gegrou
die mense staan en rou
maar die hele okkasie
bly ? one-man show (p 70).

Polities inkorrek, seksisties, over-the-top, maar soos dit met boeregrappe ook gesteld is.

Wag, wag. Gaan koop jou eie boek.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top