Beste Ronel
Soos jy, lees ek oor maar net so van die kantlyn af, en probeer mens maar so min as moontlik skryf om konflik te vermy. Dit gaan soms maar swaar hier op die werf. Aan die een kant is dit die ateïste wat te velde trek teenoor geloof en aan die ander kant, die histeriese Christene soos Kobus en Tant Alie wat glo dat net hulle in die hemel sal kom. Dan kry mens die paar wonderlike, sober denkende mense, soos Cornelius. Hy dink nugter en oopkop. Mens kan sien hy is wydbelese en hy maak op sy manier ’n besondere impak.
Ongelukkig is die mense op hierdie forum so aggressief dat hulle niemand ’n tikkie vreugde wil gun nie. Ek het in die verlede ’n pragtige storie oor die skeppingsverhaal geskryf. Ek is so uitgedinges dat ek sommer ophou skryf het. Dit is hoekom ek my hoed vir Cornelius afhaal. Te midde van al hierdie gevegte, staan hy by dit waarin hy glo, en laat hy hom nie onderkry deur die antagonisme van mense soos Tant Alie en Kobus nie.
Ons almal ken ’n Tant Alie en ’n Kobus in ons lewe, en ek aanvaar dat hulle ook sterk oortuig is van hulle geloof. Ek is ook seker dat Tant Alie ’n goeie vrou is, wat goed na haar familie en vriende omsien. Ek dink net sy het ’n liederlike persona hier op SêNet aangeneem, en dit stroop haar karakter van enige liefde. Kobus het dieselfde probleem. Hy kom net so hard voor op LitNet, maar ek wonder of hy in die werklike lewe, so sterk en bombasties tekere gaan?
Praat gou!
Kolgans

