Romantiese avontuur Reën oor die Serengeti is soos stukke uit 'n rolpert

  • 0

Titel: Reën oor die Serengeti
Skrywer: Connie Luyt
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798150972
Bladsye: 224

Groot letterkunde is Reën oor die Serengeti nie, maar wel ’n goedgestruktureerde roman met ’n verwikkelde intrige. Dit volg op Lang skaduwees in Afrika. Baie van die karakters uit die eerste verhaal verskyn weer, maar mens hoef nie Skaduwees te gelees het om hierdie een te geniet nie.

Die hoofkarakter, Gretchen Schmidt, is ’n fotograaf wat grootgeword het in Oos-Berlyn en tydens die val van die Muur daar gewoon het. Dis asof dié gebied ook ’n karakter word. Met behulp van terugflitse beleef die leser Gretchen se kinderjare daar: “… onder in die kelder, ruik ek die sweet van te veel mense wat saamleef met die vrees vir die dood, terwyl stof oor ons neersif en bomme in Berlyn se strate ontplof.”  Die skrywer bied ook ’n blik op die hartseer binnewerkinge van dié karakter, soos die besef “dat dit moontlik is om skuldgevoelens en hartseer te begrawe en bloot aan te gaan”.

Gretchen Schmidt kom na die Serengeti om meer te wete te kom van haar wortels. Haar Afrikaanssprekende oupa, Piet van Nieuwenhuizen, “’n man van Afrika”, het immers hier gewoon. Terselfdertyd kom voer sy die enigste guns uit wat haar dogter, Gardi Kruger (Hensel), haar ooit gevra het: om meer te kom uitvind oor die man John Barklin, op wie sy verlief geraak het. Maar dis ook dié toergids wat indirek verantwoordelik is vir Gardi se ellende. Terselfdertyd is John eintlik edel – ’n man wat alles sal doen om die kultuur van sy mense, die Masai, die Kikoejoe en die Samburu, te beskerm.

Die liefde sorg uiteindelik vir ’n verrassende kinkel wanneer Sam Berman en sy dogtertjie, Emma, asook “die vreemde Duitse vrou” (Gretchen), by die toergroep waarvan John leier is, aansluit. Deur John se halfsuster, Christine Newman, leer Gretchen John se verlede ook soveel beter ken.

Interessant is die ooreenkomste tussen die verledes van dié twee hoofkarakters. John se regte pa het vaderskap ontken. Sy ma, Emily, is vroeg dood. Soms wonder John juis of ’n man “ooit ’n hele mens kan wees sonder dat hy sy ma geken het”. Gretchen se ma was ook afwesig, want sy het haar dogter nooit regtig liefgehad of waardeer nie. Dié kind word daarom groot in die skadu van haar ma se rou. Dokter Mengele het haar tweelingsuster, Rozl, Auschwitz toe geneem, oor haar Joodse bloed. Dit is ook Rozl na wie Gretchen uiteindelik gaan soek. Gretchen word boonop, nes John, sonder ’n regte pa groot. Haar pa is Joods en haar grootouers het haar ma verbied om hom te sien. Onkel Willi, saam met wie sy die verskrikkinge in Oos-Berlyn beleef, is haar instaanpa.

Op ’n manier sit Gretchen vir ’n tyd lank die familiepatroon voort. Sy maak nie haar eie dogter groot nie, maar is daar wanneer haar kind met “ou geelgroen kneusplekke op haar gewrigte, haar wang” opdaag. Waar haar dogter grootword, bly voorlopig geheim …

Interessant is die verskyning van regte mense, geskiedkundige karakters soos die wetenskaplikes Mary en John Leaky. Hoewel die skrywer by die geskiedenis hou, dig sy fiktiewe eienskappe aan dié mense toe en maak hulle sodiende eg en vars. Luyt slaag ook goed daarin om die Duitsheid van baie van haar karakters oor te dra.

Nes die groot aantal karakters die leser wil oorweldig, sien jy weer lig wanneer jy die “Lys van karakters” voorin die roman raadpleeg.

Die vertellersperspektief wissel van die eerste na die derde persoon. En dit werk goed. Gretchen se eerstepersoonsvertelling bring die leser vanselfsprekend baie nader aan die gebeure.

Luyt se hantering van haar milieu is geslaagd. Dis duidelik dat sy goed navorsing gedoen het oor Oos-Berlyn en Afrika. Veral die atmosfeer van Oos-Afrika, spesifiek Kenia en Tanzanië, word raak beskryf: “Daar is iets magies hier, iets wat praat met elke mens se innerlike hart. En dis nie net die veld en die diere nie. Dit gaan oor die behoud van ’n lewenswyse wat mense in die res van die wêreld graag wil beleef. ’n Soort romantiese avontuur.” Kyk mens na die erkenningslys agterin die roman, is dit duidelik dat die skrywer wyd gelees het. Sy het die feite bestudeer en haar storie geloofbaar teen dié agtergrond laat afspeel.

Connie Luyt kán skryf. Sy betrek ál die sintuie; vgl byvoorbeeld: “Nog nader is die rotsriwwe van die Aberdaregebergte wat bokant digte sederbome uitsteek. Die reuk van kamfer wat deur die windjie aangedra word, meng met die geur van die Afrika-aarde wat hy self oopgegrawe het om die liggaam van sy pa te ontvang.” Ek het ook baie van die kameelperdbeeld gehou: die skrywer beskryf kameelperde as “statig soos poppe op stelte”.

Omdat Luyt goed kan skryf, is die groot aantal clichés onnodig. Sy verwys byvoorbeeld na grepe uit haar karakter se lewe wat verskyn soos “stukke uit ’n rolprent”.  Dan is daar ’n “krampagtige greep”, ’n glimlag wat “dans”, en vlamme wat “speel” oor ’n gesig. Die clichés is egter nie vir my so hinderlik soos wat dit in ’n "literêre" roman sou wees nie.

Soms is die beskrywings ook net té dramaties. “In Naïrobi vergryp hy hom roekeloos aan drank en sigarette en meisies, en teken die rooi are in sy oë elke dag ’n ander padkaart op sy roete na nêrens,” skryf sy.

Wanneer die roman eindig, kom al die drade netjies bymekaar. Dis ’n mooi einde, maar nie soetsappig nie. En die natuur speel saam.

Skaf gerus Reën oor die Serengeti aan. Veral as Afrika en Oos-Berlyn jou interesseer. Hoewel die roman veel meer as blote ontspanningslektuur is, sal die lees daarvan jou lekker laat ontsnap en ontspan.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top