"Roep van die kolgans" deur Pieter Kruger

  • 0

Roep van die kolgans

Grys en gebroke met sy krom gebuigde rug
Loop sy gedagtes op die lang pad terug
Probeer gedagtes orden, in ’n deurmekaar geheue
Sny spoor terug, na sy jeug op dowwe trëe

Hy onthou sy familie en die mooi ou plaas
En die roep van die kolgans, wat uit die hoogte raas
Vriende se gesigte het soos foto’s vaag geword
En die vriende oor die jare het al minder geword

KOOR

Ruik Oom nog jou plaas, as jy oor die teerpad staar
Of die kweperlaning langs die pad, en wens jy was nog daar
Onthou jy nog die nat neus van ’n weggooilam
En hoor jy nog die kolgans by die inloop van die dam

Op die bank wag hy hoopvol, reeds van vroegdag af
Want miskien kom kuier sy kinders, weer ’n slag
Dalk ook maar net om te sê, hulle was tog hier
Of dalk net weer groete saam met iemand te stuur

Deur al hul siektes en probleme was hul nooit ’n las
Maar nou is dit te veel gevra om hom op te pas
As hy vra hy wil huis toe kom, word dit doodgepraat
Skuif hul rond en sê ons moet nou ry, kom dit word nou laat

KOOR

Ruik Oom nog jou plaas, as jy oor die teerpad staar
Of die kweperlaning langs die pad, en wens jy was nog daar
Onthou jy nog die nat neus van ’n weggooilam
En hoor jy nog die kolgans by die inloop van die dam

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top