Rodriguez ... and after that’s said, forget it

  • 0

Waar was ek en hoe oud toe ek die eerste keer Rodriguez se Cold Fact gehoor het?

Die gedagte kom nou die dag by my op toe iemand my vra of ek al die dokumentêr Searching for Sugarman, wat sedert 31 Augustus plaaslik draai, gaan sien het. (Ek het nog nie, terloops, en weet ook nie of ek gaan nie).

Die dokkie, deur die Sweedse regisseur Malik Bendjelloul, vertel die verhaal van twee plaaslike ouens se soektog na Sixto Diaz Rodriguez, wat volgens gerugte óf selfmoord gepleeg het deur homself op die verhoog te skiet, óf iewers in Amerika rondswerf en ’n bestaan voer as stukwerker.

Rodriguez was natuurlik die protesliedjiekunstenaar wat in sy geboorteland in obskuriteit geleef het, maar (sonder sy medewete) supersterstatus in Suid-Afrika verwerf het, vernaam gedurende die hoogty van apartheid in die jare sewentig, vernaam onder wit middelklaskinders, grotendeels diegene wat verpligte militêre diens moes verrig.

Die meeste dertigplussers wat ek ken, weet van Rodriguez. Dis asof hierdie kunstenaar se musiek soos ’n kollektiewe geheue in ons breine gestoor is, net onder die oppervlak van onthou. Enkele note, ’n terloopse liriek, ’n suggestie van ’n wysie ontsluit weer daai herinneringe … thanks for your time, then you can thank me for mine, and after that’s said, forget it.

Ek was 11 of 12 toe ek Cold Fact die eerste keer gehoor het. Dit was in 1976 en ek onthou dit goed, want my oudste broer het “terries” op die “grens” geskiet. Hy was my held … ek het selfs sy magsnommer gememoriseer en ken dit tot vandag toe beter as die een wat minder as ’n dekade later deur die Departement van Verdediging en Magnus Malan aan my verskaf is.

Dit moes na aan die einde van sy eerste dienspligjaar gewees het toe hy die dag tydens sewedae-pas met die kasset by die huis aankom. Hy het ook daai tyd ’n groot poster in sy buitekamer opgeplak van ’n army-man wat geskiet is. Op die prent is die soldaat besig om neer te slaan. Regs bo in die hoek van die poster staan daar in groot, vet letters: WHY?

 “Luister bietjie hier,” het my broer beveel. “Maar jy dônner nie my tape op nie, gehoor?”

Ek het vir sewe dae lank daai kasset aanhoudend geluister. Van voor tot agter, kant A, kant B. En teen die einde, toe hy weer sy rugsak pak met ma se beskuit en skoon klere wat na Sta-Soft ruik, het hy een van die TDK 90’s in my pa se versameling vasgelê sodat ek ’n roofkopie van Cold Fact kon maak.

Daardie TDK het ek soos goud bewaar, ondanks die feit dat kant A ná dertig minute eindig met Rodriguez en dan oorslaan na die res van ds Solly Ozrovech se Lewende Woord-preek wat oorspronklik op die TDK getape was.

Dit was asof my broer via Rodriguez met my gepraat het … al die boodskappe, al die beelde, al die vrae wat ’n ouer broer aan sy jonger broer kon bring.

Ek onthou ook die laaste dag toe ek daai TDK geluister het. Daar was ’n telefoonoproep. Dit was in Maart, drie dae na my verjaarsdag. My ma het geantwoord. Sy het gegil: “Here, nee, my kind, my kind!” en inmekaargesak.

Dit was ’n landmyn, sou ek later hoor.

Daai aand het ek Rodriguez se TDK vir oulaas geluister en toe in die asdrom gaan smyt …

But thanks for your time, then you can thank me for mine, and after that’s said, forget it …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top