
Elke nou en dan doen mens iets sonder dat jy werklik verstaan hoekom. Jy duik kop eerste in op grond van ander se goeie resensies en plaas jou eie instink op die agtersitplek. Somtyds is dit ’n goeie ervaring en kom jy verryk terug ná ’n besoek ver duskant jou eie gemaksone. Maar in die meeste gevalle is jy spyt, en wens jy jy het eerder na jouself geluister. Dit was my ervaring van Rocking the Daisies.
Ek ken myself goed genoeg teen die ouderdom van 25 om te weet dat so ‘n fees my nie rêrig aanstaan nie. Maar hoe kan ek so ‘n opinie vorm sonder dat ek self daar was as heelwat van my vriende dit beskryf as die beste ding naas middagslapies?
So, na R600 en nog etlike honderde rande aan kos, drank en brandstof, stop jy by Cloof-landgoed. ’n Gees van opwinding en afwagting hang in die lug. 15 000 mense het bymekaar gekom om te luister na ’n verskeidenheid bands oor die bestek van drie dae.

Daar is ’n sekere tipe karakter waarvan jy gewoonlik ’n oorvloed kry in kuierplekke waar bands speel (soos Aandklas en Bohemia in Stellenbosch). Hulle is skraal met lang hare, noupassende denimbroeke en swart T-hemde. Amper soos Francois van Coke en trawante.
Maar hier vorm hulle die oorgrote minderheid. Pleks daarvan word jy begroet deur jong, aantreklike mense. Gespierde mans sonder hemde en meisies in eina-klein broekies en skrapse toppies – die een se teenwoordigheid die rede vir die ander. En om een ander groot rede: drank en dwelms.
Dit oorheers die naweek. Die Vrydagaand sê die aankondiger dat die feesgangers hulle drank moet geniet, alhoewel dit moontlik veilig is om te stop teen die tyd dat jy beheer verloor oor jou blaas en ander noodsaaklike funksies. Dit is die woorde van aanmoediging waarmee dié groep jongmense hulle naweek afskop; dit is nie ’n fees vir musiek nie, dis ’n viering van misbruik.
Later die aand tree die groep Black Cat Bones op. Hulle is “van Pretoria pappie!”. Dus is hulle blykbaar trots Afrikaans, maar sing net in Engels. Dis nie lank nie toe raak die hoofsanger egter ’n paar sarkastiese woorde kwyt in die oorgang tussen twee liedjies: “These Capetonian festivals are very cute with their causes.”
Daar steek diep waarheid in sy woorde. Die fees is besonder “groen”. Jy mag geen glas invat nie en slegs op ’n gasbraaier braai. Die ironie is egter: niemand stap méér omgewingsbewus daar uit nie; studente gooi net hulle whiskey en vodka oor in plastiekbottels en fuif aan.
Die fees is genestel tussen groen wingerde en trotse koppies, maar daarvan is feesgangers ook salig onbewus. Die terrein word stewig toegespan en die naweek word spandeer tussen groot mensgemaakte strukture. Die hele wegbreek is gedruip in een groot pretensieuse vaandel.

Daar is ook groot groepe mense wat nie na die bands kyk en luister nie. Baie loop net rond of sit en drink en gesels voor hul tente. Die reuk van dagga is so alomteenwoordig soos die rye tente wat oor die kampeerterrein besaai staan. Baie dra vreemde dierekostuums. Dis alles deel van “die ervaring”.
Twee meisies wat langs my kampeer, beloon hulself elk met ’n joint ná die tent opgeslaan is. Elke af en toe dra twee of drie mense ’n vriend die kamp binne, ’n arm oor elke skouer. Party vriende is minder altruïsties en los die vriend of vriendin net daar waar hulle val.
Vir my was die meerderheid van die ervaring bloot onplesierig. Jy kamp uit in ’n moeras. Alles is konstant nat en vuil en die wind skeur tente na hartelus uitmekaar uit. In die nag verkluim jy en in die dag verskroei jy. En teen die einde van die naweek is dit nog meer van ’n moeras, want om in die tou te staan vir ’n badkamer raak net te veel moeite vir die meeste mense.
Maak nie saak of jy snags wíl slaap of wáár jy slaap nie – feit is, jy kán nie slaap nie. Enige plek waar jy kampeer, klink dit of jy reg langs die electro tent staan. Die oorverdowende gedawer van herhalende klubmusiek voel lateraan soos ’n reuse-aar wat in jou kop klop. Dit hou aan tot na drieuur in die oggend en begin weer vroeg voor ontbyt.
Tog, indien jy vir drie dae lank besope en bedwelm is, sal hierdie dinge jou waarskynlik min skeel. Dis egter nie die ongerief wat my pla, of noodwendig die gebruik van hierdie middels nie. Dis die misbruik en oordadigheid wat daarmee saamgaan.
Gewoonlik wanneer jy uitkamp, is dit saam met ’n groepie goeie vriende of familie, en daar is ’n intimiteit wat met die geselligheid om ’n kampvuur gepaard gaan. Maar met 15 000 mense in een kampeerplek en donderende musiek is die ervaring onpersoonlik, leeg en sinneloos.
Vroeg die Saterdagoggend moes ek ry om vinnig foto’s by ’n troue te gaan neem. Daar is ek getref deur kinders wat speel en wawiele maak op die grasperk. Vir vandag se jongmense om wawiele te maak moet dronkenskap ’n verskoning wees. Daar is ’n onskuld wat hulle gedruk voel om te verloor en tog heeltyd na toe wil terugkeer deur van hulle alledaagse realiteit te vergeet.
Op pad terug ry ek deur die beeldskone Kaapse platteland en stop by die eerste van drie padblokkades. Elke feesganger moes al hier deur.
’n Jong vrou van omtrent my ouderdom is daar werksaam. Sy praat oor die tweerigtingradio en swaai die teken op die gerekende tyd om. Aanvanklik is ek dankbaar ek hoef nie haar werk te doen van vroegoggend tot laatmiddag nie. Daarna besef ek sý is waarskynlik dankbaar sy het ’n werk. Ek wonder hoeveel verdien sy per dag.
Sou sy ’n Rocking the Daisies-kaartjie kon bekostig?
Ek voel iewers mis ons ’n baie groter konteks. Iewers moet hierdie selfgesentreerde strewe na verbygaande luukshede ons inhaal.
Ek verstaan ons almal het sekerlik daai laissez-faire-fase in ons lewens nodig. ’n Tyd waarin ons net bewus is van ons eie drange en begeertes en alle ander dinge net laat vaar. Dit vat tyd om bewus te word van die wêreld rondom jou. Maar dit beteken sekerlik nie jy moet jouself eerder vernietig as verryk nie.
Ek sal toegee: om byvoorbeeld The Hives lewend te sien optree was ’n ervaring. Maar dit was nie die geld of moeite werd nie. Ek is nie ‘n ryker mens nie.
Maar dit is hoe ons generasie ons tyd spandeer – of ’n baie groot gedeelte daarvan in elk geval. En dan raak ons omgekrap wanneer kenners sê ons is die eerste generasie wat minder weet as ons ouers.
Daar is ’n hulpeloosheid in ons jeug vandag, veral in Suid-Afrika. ’n Geneigdheid om te glo dat die antwoord vir alles wat pla lê in ontsnapping. Trek ’n kostuum aan, rook, drink, fuif – vergeet vir ’n naweek wie jy is en keer dan terug na die werklikheid met hoofpyn en sonbrand. En wonder dan hoekom bly die harde realiteite van ons samelewing onveranderd.
Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013.


Kommentaar
Uitstekend.
As iemand my weer vra waarom ek nie musiekfeeste bywoon nie gaan ek hulle na hierdie artikel verwys.
Ek sal ook so maak!