Rock the River 2012/2013

  • 0

Rock the River 2012/2013

Daar was nie eintlik 'n rivier op die Savannah-plaas buite Wellington nie, maar (en ek laat myself hierdie een cliché toe) RTR 2012/2013 het gerock.

Ek moet eers bieg. Ek was nie baie lus om my laaste vier vakansiedae honger, dronk, in die stof en sonder behoorlike ablusiegeriewe te spandeer nie. 'n Rustige tydjie saam met Ouma en Oupa langs die kus (met 'n pak Uno-kaarte en 'n koppie rooibostee) was al waarvoor ek ná 'n uitdagende 2012 kans gesien het.

Kyk, selfs vir 'n gesoute (en verantwoordelike) feesganger soos ek het vyf dae en vier nagte vir my bietjie lank geklink. Monster-energiedrankies kan mens net só ver help ...

Ek was al by 'n hele paar musiekfeeste oor die afgelope vyf jaar. Soos die feeste groter geraak het, het dit vir my begin voel asof die musiek nie meer die middelpunt was nie. Die naweek verloop gewoonlik so: daar word gedrink, geswem, gedrink, gerook, modeparade gehou ... En mens kan ook net sóveel keer na Prime Circle luister en op sóveel dubstep-beats bons.

Tent opslaan in die wind is nie vir sissies nie.

Die koeiplaas waar RTR 2012/2013-fees gehou is, se naam was nie verniet Savannah nie. Dit was 'n dorre hooi-en-stof-woestyn en ek twyfel of jy die plek op enige kaart of GPS-stelsel sou vind. 'n Matras was 'n moet as jy vier aande wou oorleef, want jy het maar jou tentjie tussen die klippe en spinnekoppe opgeslaan. Dit was so droog dat 'n arme mol wat blind uit sy gat gekruip het, nie weer 'n nuwe gat sou kon grawe nie (Ek het die fotobewyse perongeluk verloor). Teen 7-uur in die oggend het die son jou uit jou tent gebak en saans moes jy die koue wind op jou gebrande vel verduur.

Daar was nie geriewe waar mens jou hare kon straighten en jou selfoon kon laai nie. Dit was vuil en roekeloos. Jy het nie omgegee hoe jy lyk of wie jy die naweek gaan vry nie.

Die fees het my herinner aan my eerste ervaring by Rocking the Daisies in 2008, toe dit nog 'n klein fees met ’n intieme atmosfeer was. (Daar was net 4 000 mense by RTR, heelwat minder as by soortgelyke feeste in die Kaap.) Die fees het iets gebied wat die afgelope jaar by die ander heeltemal afwesig was: 'n aansteeklike atmosfeer en onpretensieuse musiekwaardering vanaf feesgangers. Hierdie keer was die elektroniese tent 'n bysaak, want die hoofverhoog is waar dit gerock het.

Die fees was ook duidelik gemik op metal fans (daar was 'n aparte metal-verhoog toegewy hieraan). En alhoewel ek nie in die posisie is om hieroor ’n opinie te lewer nie, was die teenwoordigheid van spikes en leer-straps, punk-haarstyle en tattoos (en nou praat ek nie van 'n bietjie ink op die pols nie) genoeg bewyse dat daar iets was vir almal om na uit te sien.

Die feesorganiseerders sal nog skaafwerk moet doen aan die algemene reëlings voordat Kapenaars by Oppikoppi-feesgangers kan spog. Maar uit my 2012-feeservaringe verkies ek enige dag die Savannah-plaas en Rock the River se atmosfeer bo feeste soos Synergy. Baie Synergy-feesgangers was uiters teleurgesteld in die Theewaterskloof Dam-feesterrein, waar mens vir dae moes stap om by enigiets uit te kom.

Rock the River het die potensiaal om dié fees in die Kaap te word. Van Coke Kartel het hulself weer eens as uiters gewild bewys en mens kon nie anders as om te wonder hoekom Die Heuwels Fantasties en Fokofpolisiekar nie by dié fees (en ook nie by Synergy was nie).

Met nuwe kunstenaars soos Lucy Kruger, Gangs of Ballet en Woodstock Mafia het dit nie gelyk asof enige iemand die Bellville-bendes gemis het nie. Van Coke Kartel kon gerus maar die hoofitem van die aand gewees het, want Zebra and Giraffe se optrede was so voorspelbaar dat ek net sowel na hulle CD in my kar kon geluister het.

Woodstock Mafia, Goodnight Wembley, 7th Son en Fox Comet was ook gunstelinge. Maar Gangs of Ballet het my die meeste beïndruk. Nie net het hulle in 2012 hulself as een van Suid-Afrika se nuwe gunstelinge bewys nie, maar die groep lewer 'n vertoning wat die rockveterane soos amateurs laat lyk het. As jy dink hulle musiekvideo of radiotreffer (“Hello sweet world”) is goed, moet jy hulle live beleef. Skuif opsy, Seether, hulle gaan nog gróót naam op internasionale vlak maak.

Hello Sweet World, deur Gangs of Ballet.

 

Daar is ongelooflike stemme wat die Suid-Afrikaanse musiekbedryf in 2012 betree het. Lucy Kruger is sekerlik een van die mees belowende solokunstenaars, en haar laatmiddag-optrede het almal laat regopsit. Lucy het pas haar eerste album, Cut those strings, vrygestel en haar stem is ongekunsteld mooi. Sy is reeds vergelyk met legendes soos Lana Del Rey, Alanis Morissette, Kate Bush en Dolores O’ Riordan van The Cranberries. Maar Lucy se styl is uniek en in 'n klas van haar eie. Sy is nogals skaam op die verhoog en dit was moeilik om te hoor wat sy tussen liedjies sê, maar dit is deel van haar sjarme. Elke keer as sy begin sing het, kon jy sien die skare was in verwondering. Haar liedjies spreek boekdele van wie sy as individu en kunstenaar is. Sy bied iets verslawend wat ek laklaas by 'n Suid-Afrikaanse kunstenaar beleef het nie. As jy vir die eerste keer na haar luister, wil jy onmiddellik deel van haar wêreld word.

 

Die ander hoogtepunt van die naweek was toe die alombekende Lark optree. Die blote feit dat hulle by die fees teenwoordig was, was genoeg rede om R450 op te dok vir 'n feeskaartjie. Net Inge Beckman kan halftwee in die oggend tydens 'n rockfees 'n hele skare stil sing en die enigste formele applous van die naweek verdien (ek het nog nooit so iets by 'n musiekfees beleef nie). Die Gong is Struck-sangeres se vertoning was niks minder as bomenslik nie en ek het 'n nuutgevonde respek vir die vrou se stemregister en musikale genie.

Hier is 'n kykie agter die skerms by die vervaardiging van Gong is struck.

 

Op Oujaarsaand het 'n verwoestende wind die helfte van die tentedorp platgewaai en het sommige feesgangers besluit om Nuwejaar elders deur te bring. Ons was honger en moeg, koud en vuil ... Ek het letterlik met my oë toe gestaan voor die verhoog, want die stof was orals.

Maar ek sal dit weer doen, want die atmosfeer by RTR 2012/2013 het nuwe verwagtinge van Suid-Afrikaanse musiekfeeste geskep.

Hier is 'n paar foto's:

Jedd Kossew van Van Coke Kartel

Francois van Coke

Zebra and Giraffe se hoofsanger, Greg Carlin

Ryan Matthews van Woodstock Mafia

Woodstock Mafia


Goodnight Wembley


Goodnight Wembley

7th Son

Gangs of Ballet se baskitaarspeler, Hardus de Beer

Gangs of Ballet se hoofsanger, Brad Klynsmith

Die alombekende Inge Beckman van Lark.

Baskitaarspeler, Schalk Joubert en Lucy Kruger.

Lucy Kruger

Schalk Joubert

The Rudimentals het die nuwejaar verwelkom.

Lojale aanhangers moes oujaarsaand die wind trotseer.

Wapperende vlae

 'n Interessante tatoeërmerk.

  Feesvermaak


Piekniek in die grasvelde.

Die laaste sonsondergang van 2012.

Dankie aan Christia van Sittert en Pierre Rommelaere vir die foto's.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top