Robert Sackville-West: Inheritance I

  • 0

In reaksie op die see van middelmatigheid (en erger) en die hophuiskultuur waarmee ons in die demokratiese nuwe Suid-Afrika gekonfronteer word, het ek al ’n pleidooi vir aristokrasie, elitisme en meritokrasie gelewer (SêNet, 12.04.2011). As ’n mens aan die verkeerde kant van die spoor grootgeword het, lees die leefwyse van die Britse aristokrasie soos goeie fiksie. In hierdie skrywe gaan dit oor Robert Sackville-West (gebore in 1958) se boek, Inheritance: The story of Knole and the Sackvilles (London: Bloomsbury, 2011, 293p; ook beskikbaar as ’n eboek). Hy het in 2004 die sewende Lord Sackville geword en woon sedert 2008 in ’n deel van die Knole-opstal. "No other country but England could have produced it" (p 3). "You have to respect ... that feel Knole has of fading magnificence, that magic which smoulders rather than sparkles" (p xx). "The establishment of an inheritance, the link between a place and its people, acquires a dignity and an inevitability with the passing of the years" (p 11).

Knole is ’n landgoed suid-oos van Sevenoaks in Kent. Die geboue dateer terug tot die 14de eeu. Van 1605 tot 1946 was dit die eiendom van bykans ’n dosyn generasies Sackvilles, al is dit genealogies (volgens die manlike erfgename) nie deurlopend dieselfde familie nie. Die Wests, sedert 1843 Sackville-West en van 1871 af dikwels net Sackville genoem, het beheer oorgeneem. In 1946 het die National Trust eiendomsreg oor die geboue bekom. Daarmee het Knole "more a national property than a private possession" geword (p 221). Daar is deesdae 80 000 besoekers per jaar. Die Sackvilles het ’n huurkontrak vir 200 jaar om ’n deel van die huis te bewoon. Die park behoort steeds aan hulle. Die ooreenkoms met die National Trust was die enigste praktiese manier om uitdrukking te gee aan "one of the preoccupations of the English aristocracy" naamlik "to preserve the country seat as a symbol of family status and continuity" (p 155).

Knole was Thomas Sackville (1536-1608), die eerste Earl of Dorset, se "monument to posterity" (p xv). "He wanted to proclaim to the world his personal wealth and status as a senior statesman" (p 16). Knole was "a status symbol in an age of great status anxiety" (p 21). Die filosoof Francis Bacon (1561-1626) het dit soos volg gestel: "When men sought to cure mortality by fame ... buildings were the only way" (p xv). Koning James I (1566-1625) het Knole beskryf as "too big for a king but fitting for a Lord Treasurer" (p 5). In die laaste vier jaar van sy lewe het Thomas die Middeleeuse herehuis in ’n Renaissance paleis omskep. Vita Sackville-West (1892-1962) het Knole beskryf as "'a medieval village'... rather than a house ... 'as self-contained as a little town'" (p 189). Virginia Woolf (1882-1941) het in 1924 geskryf: "Knole is a conglomeration of buildings half as big as Cambridge" (p 229).

Dit is steeds een van die grootste wonings in Engeland met ’n "unrivalled collection of Tudor and Stuart furniture" (p xvii). Charles Sackville (1643-1706), die sesde Earl of Dorset, "acquire[d] one of the finest collections of seventeenth-century furniture in the world" (p 87). Lionel Sackville (1687-1765), die eerste Duke of Dorset, het ’n biblioteek ingerig "to display the duke's culture and refinement as well as his wealth and power" (p 111). John Frederick Sackville (1745-1799), die derde Duke of Dorset, "enjoyed hanging pictures. It was a way of proclaiming to the world that he was a man of some refinement" (p 129). Knole is ’n outentieke vergestalting van die aristokratiese leefwyse. "In their tastes and their passions ... the Sackvilles represented many aspects of aristocratic life" (p 113).

Daar word dikwels na Vita Sackville-West se geskrifte oor Knole verwys. Sy het daar grootgeword en al was sy ’n enigste kind kon sy nie die eiendom erf nie omdat sy ’n vrou is. Sy beskryf haar voorgeslagte as "a race too prodigal, too amorous, too weak, too indolent, and too melancholy" en ook as "a rotten lot, and nearly all stark staring mad" (p xviii). Daar was heelwat owerspel. Van so ’n geval is gesê: "The Sackville blood was the 'worst blood it is supposed to swell with'" (p 117). Soms was owerspel nie moontlik nie en was so ’n samekoms soos "a picnic without refreshments" (p 219). Die Prinses van Wallis het in 1752 beweer: "There was only one family more odd than the Sackvilles, and 'she would not name that family for the world', obviously meaning the Royal Family" (p 118). Nigel Nicolson (1917-2004), Vita se seun, noem die Sackvilles "a modest family given to lengthy bouts of melancholia" (p 188). Depressie was kenmerkend van baie Sackvilles. Van een is gesê: "He looked so ready to sigh that it served him instead of sighing" (p 131). Maar die Sackvilles was bowenal "a family famous for its 'excessive reserve and silence'" (p 114).

Vervolg ...

Johannes Comestor

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top