Dit was 'n voorreg en eer om 'n man van Robert Gabriel Mugabe se statuur in ons eie land as gas te kon verwelkom. Sy besoek aan ons land was beslis die hoogtepunt vir die jaar van ons land se Departement van Internasionale Betrekkinge. Sy besoek het groot opspraak in die land se sakegemeenskap teweeg gebring. Kapteins van Industrieë en sakemagnate het oor mekaar geloop en op mekaar getrap om net naby die Staatsman gesien te word. By al die amptelike en formele funksies is daar aan sy lippe gehang. Tydens toesprake wat hy gelewer het is hy hartlik toegejuig en sy skerp humorsin oor vervloë staatsmanne is met groot waardering begroet.
Sy staatsmanskap is wyd en oor verskeie vlakke van die samelewing met groot bewondering gade geslaan en besing. Sy vaderlike raad as die mees senior staatsman in Afrika aan ons leiers en geagte president kan as geniaal beskou word. Hy het onomwonde bewys dat goeie vlekkelose bestuur en demokratiese beginsels 'n land van kolonialistiese imperialisme in 'n kwessie van 35 vry kan maak van die juk van onderdrukking. Sy ekonomiese raad en beleid grens aan die geniale en die Buffets en Gates'se van die wêreld kan gerus by hom kom kers opsteek.
Sy toekomsvisie vir die bevordering van ekonomiese groei en samewerking is besonders. Sy opinie oor sakebestuur en opheffing van die massas is goed deurdink en met groot sukses in sy eie land op die proef gestel. Die staatsmanskap wat hy openbaar ken geen gelyke nie. Hy kan met die groot staatsmanne van die wêreld vergelyk word. Sy visie oor hoe om die problematiek in 'n land aan te spreek en op te los is verbysterend. Lank lewe Comrade Robert Gabriel Mugabe. Mag daar nog leiers soos hy op Afrika losgelaat word. Afrika verdien leiers soos hy. Hy wil net nie wit joernaliste sien nie.


Kommentaar
Ek stem Reusedwerg, Afrika verdien leiers soos hy.