Rimpels

  • 0

Living is a form of not being sure, not knowing what next or how … [we] never entirely know. We guess. We may be wrong, but we take leap after leap in the dark. – Agnes de Mille

 
Ek weet vandag nog minder as toe. Daar’s nou meer vrae
wat ek in die donker op my tong proe al het ek my kop krom gedra
aan die kringe wat kranksinnige dinge deur ’n lewe laat rimpel,
uitrol tot op die randjie van die reis, die drumpel van verstaan.

Ek wil jou wys – klavierklanke kan vir 17 jaar lank
op die aandlug sweef, eggo’s kan uitkring in die vlees,
deur ’n mens se daar-wees, bestaan; kan skeur dwarsdeur
die newels van vergete voetstappe verby ’n venster.

Rooi stoep, wit gewels, varkore & varings,
vroegaand-huis in Oranjezicht, wit hortjies & ivy blare,
iewers iemand voor ’n klavier, note wat soos trane drup
en ek soos ’n toffie-appel in ’n ander kultuur gedip,
’n dun lagie lankal oor my eietydsgeid
van ’n hip-hop Kaapse kommune-vakansie uit die 80’s uit.

Ek onthou grepe, greintjies, groewe grootword,
10 mense, een stort, sout, see en sonbrandstrepe,
laatnag lig-af, lywe wat in lobbies lê soos skywe soet lemoen,
suur reuke, regmaker-rantsoen, riffels ritme, rondtol
deur strobe lights propvol neon-pers palpitasie,
pieknieks met ’n papsak panorama,
klop-klop klubkultuur-generasie
speel ’n Kaapstad Kersfees-drama
met die Vishoek-trein as verhoog.

My medepassasiers het jare terug opgedroog,
van my lyf afgeval soos blare, soos herfs.
Hoe moes ek weet watter een in my sou sterf?
Watter merk soos ’n slangsleep 17 jaar ver kan trek?
Jy weet nooit. Jy raai.
In die raakvlak van toe en nou, van iewers of ooit
raak redes verdraai, onthou skeef,
maar jy hou aan vorentoe leef,
sprong vir sprong in die duister,
terwyl eergister al hoe harder begin fluister.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top