Woorde roes in die water
Clinton V du Plessis
Ama-coloured Slowguns
amacolouredslowguns@gmail.com
ISBN: 9780620618922
William Logan skryf in sy Guilty Knowledge, Guilty Pleasure: The Dirty Art of Poetry (2014) oor Charles Bukowski, die “great littérateur of American lowlife” en tipeer Bukowski se poësie soos volg: “Poetry became a scrap heap where lack of inspiration was no impediment. The poems often read like the diary of someone who once read Lunch Poems on a lunch break” (Logan 2014:85). En verderaan: “Trivia can be its own reward, but after a little of this you want to drink a bottle of Dr?no.”
Hierdie opmerkings van Logan vat ook die aard van Clinton V du Plessis se jongste digbundel saam. Daar is ook by Du Plessis sprake, nes by Bukowski, van “denatured prose”, want by baie van die verse in hierdie bundel het ek my afgevra: Is dit ’n paragraaf wat net mooi in eenreëlige verse opgebreek is om soos ’n gedig te lyk? Is dit meer as net ’n indruk? Dis nie toevallig dat ek hier na Bukowski verwys nie, want die gedig “Marikana” begin so: “Nothing works but the gun, skryf Bukowski iewers” (75).
Die titel van die bundel is goed gekies en trek die aandag want dis paradoksaal en dis poëties, maar elk van die tien afdelings dra saaklike titels soos “Geloofsbriewe”, “Memoranda”, “Aantekeninge”, “Fragmente”, “Vlugskrifte”, “Notas”, “Inskrywings”, “Transportaktes”, “Witskrifte” en “Grafskrifte”. Op die oog af skep dit die indruk dat ons hier aan die hand van saaklike dokumentering die lewensloop van ’n gewone man gaan ondersoek. Eweneens word elke afdeling, vreemd genoeg, voorafgegaan deur ’n aanhaling uit ’n gedig in die daaropvolgende afdeling wat die tematiek probeer vestig, of dit nou gaan oor die liefde, die digterskap, die eensaamheid van die menslike bestaan of sterflikheid.
In die bundel word daar ook telkens gesprekke gevoer (dikwels indirek) met ander digters en word lirieke uit die populêre musiek dikwels aangedui as die motto of prikkel vir ’n bepaalde gedig. Een van die interessantste intertekstuele herskrywings is die gedig “Die man” (123–4), wat so begin: “Dit is die lang man, die lang man/ in die groen jersey/ almal wou hê hy moes op die water loop …” Dadelik kom assosiasie met Breyten en die groen, groen trui by die leser op, maar hier word dit met Mandela geassosieer. Waarom sou Breyten dan op die water geloop het?
Du Plessis se “Marilyn Monroe” (190) tree in gesprek met die bestaande groep gedigte oor dié filmikoon en die digters en gedigte word by name in die tweede strofe genoem.
Dra Du Plessis se gedig enigiets iets nuuts tot die bestaande diskoers by wanneer hy skryf:
Al wat die wêreld
van jou onthou,Marilyn Monroe:
is nie die komplekse vrou
maar net die plooi, die vou.Hollywood se opblaaspop,
bloot ’n lens se loops camel toe.Oop, sonder dieper betekenis
Wanneer Clinton du Plessis oor Susan Sontag skryf in die gedig “Annie Leibovitz” (135), is dit opvallend hoe hy haar foto’s in oorwegend manlike terminologie beskou. Neem ’n mens in gedagte dat Leibovitz en Sontag minnaars was, dan open die gedig heelwat interpretasiemoontlikhede.
Die digter posisioneer homself nog altyd as buite die kliek van die gekanoniseerde digters en in die gedig “Verwysingsraamwerke” (178) kla hy:
Sommige gedigte het te veel brein
te veel uitmekaarhaal
en weer aanmekaarsit
eindelose intertekstuele parings
hermeties, klei-osdig,
te veel wortels wat groei
uit en aan ander tekste [.]
Hy sluit dié lang gedig met die volgende af:
’n Gedig
gebou op die wankelende rand
van bestaan
staan
my veel meer aan.
Toegegee, maar ’n gedig moet tog wees in ’n taal wat blink en klink. Dit moet nie ’n lywige bundel vol stellings, indrukke, opmerkings en indrukke wees nie. Hier en daar tref ’n reël of woordkeuse of ironiese segging die leser se oog, maar in die geheel gesien, is dit ’n onbehaaglike bundel. Miskien moet Clinton du Plessis in ’n volgende bundel oorweeg om minder verse in te sluit – en om te skryf en te herskryf. Soos hy dit in die gedig “Minimalisme” (43) stel: “Ek probeer om die onnodige mis te kyk,/ dit doelgerig te ontwyk.”