Resensie: Waarom soveel Bybelvertalings? Die hoe, wat en waarom van Bybelvertalings

  • 3

Waarom soveel Bybelvertalings: Die hoe, wat en waarom van Bybelvertalings
Jan van der Watt
CUM Uitgewers
ISBN 9781431612192

Koop Waarom soveel Bybelvertalings van CUM Uitgewers

 

Met Waarom soveel Bybelvertalings? wil Jan van der Watt (volgens die agterblad van hierdie publikasie) nie net verduidelik hoekom daar soveel Bybelvertalings is nie, maar ook antwoorde bied op die volgende vrae: “Watter een van al die Bybelvertalings moet ’n mens dan kies?” “Verskil die vertalings regtig, en hoeveel: hoe belangrik of onbelangrik is hierdie verskille; raak dit hoe ek moet glo?” Daar is min twyfel dat dit vrae is wat in die gemoedere van baie lesers van die Bybel leef en dat hulle graag antwoorde op hierdie vrae sou wou hê.

Die skrywer fokus slegs op die Nuwe Testament en bied sy antwoorde op bostaande vrae aan uit drie perspektiewe: eerstens, die status van die bronteks wat gebruik is, tweedens, die problematiek van vertaling en die vertaalmodel wat gebruik is, en derdens hoekom die Bybel as gesagvolle kanon van gelowiges akkuraat vertaal moet word.

Van der Watt begin deur te verduidelik dat die Griekse brontekste wat oor die eeue heen deur Bybelvertalers gebruik is, ’n ingewikkelde geskiedenis het. Die Griekse tekste wat ons vandag het, is naamlik nie die oorspronklikes wat die skrywers van die Nuwe Testament geskryf het nie, maar almal kopieë van kopieë. Omdat mense die manuskripte met die hand oorgeskryf het, het in die kopieerproses baie keer klein skryf- of hoorfoute ingesluip. Selfs die meesterkopieë wat in verskillende sentra gebruik is, kon foute bevat, en die foute in meesterkopieë is gewoonlik maar net voortgesit. By elk van die verskillende sentra is deur die eeue nog meer foute “bygevoeg” tot die meesterkopie wat by ’n bepaalde sentrum gebruik is. So het manuskriptradisies, wat elk hulle eie stel foute gehad het, ontstaan.

Met die koms van die boekdrukkuns in die 14de eeu het die uitdagings rondom die duplisering van Griekse brontekste dramaties verander. In daardie stadium was die Vulgaat die enigste Bybel wat deur die kerk gebruik is. Manuskripte van handgeskrewe Griekse tekste wat gedruk kon word, was nie vryelik beskikbaar nie. Hoe oud en betroubaar dié was wat wel beskikbaar was, kon ook nie altyd bepaal word nie. Hieroor bied Van der Watt waardevolle insig in die wyse waarop die eerste gedrukte Griekse teks, die sogenaamde Textus Receptus, wat die grondslag van die King James Version (1611), die Statevertaling en ook die 1933/53 Afrikaanse vertaling was, beslag gekry het. Hy toon aan dat hierdie eerste gedrukte teks nie op die oudste en betroubaarste manuskripte berus nie, soos onteenseglik deur die ontdekking van ouer manuskripte bevestig is.

Hedendaagse lesers mag dalk dink dat dit darem ’n chaotiese situasie is: Wat het geword van ons heilige Boek waaraan geen jota of tittel toegevoeg mag word nie? Die skrywer besweer egter op ’n helder en sistematiese manier baie van hierdie vrese deur aan te toon dat die situasie nie so erg is as wat dit met die eerste oogopslag lyk nie. Daar is ’n dissipline in die Bybelwetenskappe waarbinne geleerdes met deeglik-verantwoorde wetenskaplike modelle en groot omsigtigheid die oudste en betroubaarste kopie van die bronteks probeer herkonstrueer. Die soeke na ouer en die mees betroubare bronteks duur vandag steeds voort en geleerdes publiseer gereeld hulle bevindinge. Bybelvertalers van moderne vertalings maak gewoonlik van die jongste rekonstruksies van die Griekse bronteks gebruik. Hulle probeer altyd die beste teks wat hulle tot hul beskikking het, vertaal. Van der Watt verduidelik met oortuiging dat hulle nie die een of ander verskuilde agenda het nie. Met hierdie oorsig oor die ingewikkelde geskiedenis van die Griekse bronteks verklaar die skrywer van hierdie boek dus vir lesers waarom ouer vertalings soms van meer onlangse vertalings verskil.

In die kerngedeelte van Van der Watt se publikasie (ble 71–161) begin hy deur enkele aspekte van die uitdagings van vertaling, in besonder dié van ’n antieke godsdienstige teks soos die Bybel, te verduidelik. Deur te verwys na die kodemodel van kommunikasie verduidelik die skrywer hoe bogenoemde vertaalprobleme beter verstaan kan word (75–7): die uitdrukkings (“kodes”) wat ’n Griekse skrywer gebruik het, is soos houers waarin sy/haar boodskap verpak is. Vertalers moet daardie kodes ontsyfer deur hulle by wyse van spreke “uit te pak”. Wanneer die vertaler die boodskap uitgepak het, moet dit dan in die doeltaal (bv Afrikaans) “herverpak” word. Dit is by hierdie proses van herverpakking dat die wêreld vir Bybelvertalers moeilik raak: die woordeskat en strukture van tale oorvleuel immers nie altyd nie, en in die geval van Grieks en Afrikaans verskil dit soms dramaties. Verder is taal ingebed in die sosiale en kultuurwêreld van die sprekers daarvan. Die keuses wat die skrywers van die Griekse teks uitoefen ten opsigte van watter konstruksies hulle gebruik om bepaalde boodskappe oor te dra, word bepaal deur konvensies van die Griekse taal asook deur die styl van spesifieke skrywers. Van der Watt vat dit mooi soos volg saam: “Dit gaan dus nie om wat gesê word nie, maar hoe dit gesê word. Die manier waarop ’n mens dus iets sê, dra ook tot die betekenis by” (92).

Bybelvertalers verskil oor hoe bogenoemde verskille tussen die Griekse bronteks en die Afrikaanse doelteks vir lesers oorbrug kan word. Vertalers doen dit egter nie op ’n lukrake manier nie, maar volgens die een of ander vertaalteorie. Volgens Van der Watt werk hierdie vertaalteorieë soos “resepte” wat die vertalers moet volg. Hy onderskei tussen drie sulke resepte wat Bybelvertalers deur die jare gevolg het, naamlik ’n woordelikse benadering (waarvan die 1933/53-vertaling ’n voorbeeld is), ’n dinamies-ekwivalente benadering (waarvan die 1983-vertaling en die Nuwe Lewende Vertaling voorbeelde is), en vrye of betekenisgeoriënteerde benaderings (soos Die Boodskap en die Lewende Vertaling). Hy wys ook heeltemal tereg daarop dat dit nie altyd moontlik is om vertalings in netjiese kategorieë te verdeel nie. Dit is meer realisties om hulle op ’n kontinuum te plaas (112–4) met woordelikse vertalings aan die een pool en vrye vertalings of parafrases aan die ander pool. Dinamies-ekwivalente vertalings lê dan tussen die twee pole. Die groot verskil tussen die twee pole is dat woordelikse vertalings tipies probeer om so na moontlik aan die bronteks te hou. Aanpassings word net in gevalle gemaak waar pogings om op die spoor van die bronteks te bly tot ’n onafrikaanse vertaling aanleiding gee. Of die woordelikse vertaling volledig deur ’n moderne leser verstaan word, is nie die eerste prioriteit van hierdie soort vertalings nie. Vir vertalings aan die ander pool is dit egter wel die geval. En om op die spoor van die bronteks te bly is in hierdie geval ondergeskik aan pogings om die vertaling in te pas in die konseptuele wêreld van moderne lesers.

Benewens die bronteks wat vertalers gebruik en die vertaalbenaderings wat hulle gevolg het, wys Van der Watt nog op ’n derde oorweging wat verklaar hoekom daar soveel Bybelvertalings is. Daar is naamlik al hoe meer pogings om Bybelvertalings af te stem op die behoeftes van spesifieke lesers of groepe (117–27). Hier onderskei hy ongelukkig nie tussen vertalings wat op bepaalde groepe afgestem is en Bybels wat die teks van ’n bestaande vertaling, byvoorbeeld Die Boodskap, as basis gebruik en dan daarby voetnotas en rubrieke voeg wat byvoorbeeld op jongmense afgestem is nie.

In die res van die tweede afdeling van sy boek gee Van der Watt ’n kort oorsig oor die geskiedenis van Engelse en Afrikaanse Bybels. Alhoewel hy in hierdie afdeling van sy boek verklarings bied wat oningeligte Bybellesers sal help om te verstaan waarom daar soveel verskillende vertalings is, oortuig hierdie kerngedeelte van sy werk ongelukkig nie heeltemal wat akademiese diepgang betref nie. Hy verwys byvoorbeeld na vertaalteorieë as verskillende “resepte” wat Bybelvertalers sou gebruik om Bybelvertaling voor te berei. Watter soort ekwivalensie tussen die bron- en die doelteks nagestreef word – of dit nou formele woord-vir-woord-ekwivalensie aan die een kant is, of funksionele ekwivalensie aan die ander kant – bepaal watter resep gevolg word. Hoewel dit waar mag wees dat geleerdes soos Eugene Nida in die 1960’s probeer het om vir Bybelvertalers riglyne te bied oor hoe om dinamies-ekwivalente vertalings voor te berei, is daar vandag wye konsensus dat hierdie opvatting van wat ’n vertaalteorie is, nie verdedigbaar is nie.

Vertaalkundiges het byvoorbeeld al aangetoon dat ’n teorie van vertaling (waarvan Bybelvertaling een voorbeeld is) baie meer om die lyf het as wat Nida (op wie Van der Watt oënskynlik onkrities steun) se riglyne vir vertalers impliseer: eerstens word in Bybelvertaalteorie nie net riglyne aangebied oor hoe om verskillende vertalings voor te berei nie, maar die voorveronderstellings van die verskillende voorstelle oor hoe om bepaalde vertalings te doen word ook krities ondersoek. So is daar min Bybelvertalers wat nog die kodemodel van kommunikasie, soos Van der Watt dit verduidelik, gebruik om die komplekse proses van vertaling – veral van ’n antieke godsdienstige teks – te verstaan. Taaltekens is nie net “houers” waarin “inhoude” in een taal verpak word om dan in die proses van vertaling weer in ’n ander taal herverpak te kan word nie. Taaltekens dra die konseptuele wêreld van sprekers van ’n bepaalde taalgemeenskap saam met hulle en hierdie wêrelde kan dikwels nie volledig, byvoorbeeld by die gebruik van metafore, in ’n vertaalde teks “herverpak” word nie.

Van der Watt is deeglik daarvan bewus dat taal ingebed is in die betrokke sosiale en kulturele “gebruikswêreld” (sien sy afdeling hieroor op ble 97–101). Hy wys daarop dat sommige vertalers redeneer dat lesers met behulp van voetnotas daarop gewys moet word dat “die antieke mense anders geleef het”. As hy egter opmerk: “Die vraag is egter: Waar hou ’n mens dan op met die voetnote?” (98), klink dit asof hy skepties is oor die gebruik van voetnote. Hy is reg: dit ís moeilik om te bepaal wanneer en hoeveel voetnote om in ’n vertaling te voeg; tog wys die mees onlangse tiperings van Bybelvertalings as ’n moeilike vorm van sekondêre kommunikasie dat indien lesers van vandag se konseptuele wêreld nie baie nader aan dié van die antieke wêreld gebring word nie, Bybelvertalings baie maklik misverstaan kan word. Dit geld veral vir vertalings aan die meer letterlike pool van die kontinuum, maar ook vir sommige van dié aan die meer vrye of betekenisgeörienteerde pool. Die vertalers van die ou Nederlandse Statevertaling het dit al goed besef. Dit is waarom die ou vertaling ryklik van toeligting voorsien is. Onlangse kommunikasiemodelle help vertalers van antieke tekste om die kompleksiteite daarvan beter te ondervang, en ook die waarde, en soms noodsaak, van voetnote na waarde te skat. Ek kry die indruk dat die skrywer  se agterhaalde model van kommunikasie hom daarvan weerhou om die fundamentele belang van voetnote en toeligting in vertalings na waarde te skat.

Verder wil dit voorkom of Van der Watt nie deeglik kennis geneem het van onlangse ontwikkelings in vertaalkunde en ook van die akademiese besinning oor Bybelvertaling nie. Dit is moontlik ook die rede waarom hy ’n baie oorvereenvoudigde tipering van die Die Bybel in Afrikaans: ’n Direkte vertaling gee. Volgens hom is die doel van hierdie groot projek wat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika op versoek van die kerke aangepak het, baie soos dié van die New Living Translation en die New Revised Standard Version,wat“bronteksgeoriënteerdheid met ’n leesbare vertaling wil kombineer” (154). Volgens Van der Watt word in die projek verskillende vertaalteorieë gebruik en “die vertalers het heen en weer op die kontinuum beweeg soos dit nodig was”. Die uitgebreide akademiese besinning wat aan hierdie vertaling ten grondslag lê en die vertaalmodel wat gebruik word, is egter deeglik gedokumenteer. Ek vind dit dus vreemd dat Van der Watt dit so simplisties tipeer. Dit plaas ’n ernstige vraagteken agter die kriteria aan die hand waarvan hy vertalings in die algemeen beoordeel. As hy dan ook nog die vertaling waarby hy self betrokke is (Die Boodskap), as ’n groot sukses beskryf “gemeet aan die reaksie en verkope” (154), doen hy afbreuk aan sy geloofwaardigheid as “beoordelaar” van Bybelvertalings.

Bogenoemde vermoede word bevestig deur die afwesigheid van insigte vanuit die gebied van beskrywende vertaalkunde in Van der Watt se beskrywing en tipering van Bybelvertalings. Hierdie ontwikkeling in algemene vertaalkunde het in die onlangse verlede baie bygedra tot ’n beter verstaan van al die faktore wat ’n Bybelvertaling beïnvloed. Dit gaan nie net oor die vertaalbenadering (“resep”) wat vertalers gekies het en die behoefte wat hulle wou vervul nie. Wie die opdraggewer is, is onder meer ook ’n oorweging om in ag te neem. Is dit byvoorbeeld ’n private uitgewer (soos CUM), ’n Bybelvertaalagentskap (soos die Bybelgenootskap van Suid-Afrika) of ’n bepaalde denominasie (bv die Jehovagetuies)? Hierdie veranderlike bepaal dikwels die kaliber van die vertalings, hoeveel aandag (en geld) aan die gehaltebeheer van ’n vertaling bestee word, en of ’n bepaalde teologiese (of ander) voorkeur ’n rol gespeel. Hierdie oorwegings word nie deur Van der Watt verreken wanneer hy die vertalings in Afrikaans (en Engels) vir sy lesers tipeer nie. Al die vertalings word aangebied asof hulle bloot op verskillende behoeftes gerig is. Lesers word geen kriteria gebied om te onderskei tussen goeie en minder goeie vertalings nie. Van der Watt bied daarom wat my betref nie ’n bevredigende antwoord vir Afrikaanse lesers op sy eie vraag nie, naamlik: “Welke vertaling moet ’n mens kies?”. Dit is effens ironies, want hy sluit die boek af met ’n baie interessante en insiggewende hoofstuk oor hoe dit gebeur het dat dit vir Christene so belangrik is dat die Bybel akkuraat vertaal moet word.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief
. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 3

Kommentaar

    • Avatar
      Christo van der Merwe

      Ek is 'n dosent in Hebreeus en Bybelvertaling, daarom probeer altyd om by die brontaal uit te kom. As u vra welke vertaling van die Bybel gebruik het, hang dit af waarvoor. Ek probeer altyd agterkom wie het die vertaling gemaak, vir wie en met welke doel.
      Verder probeer ek altyd so veel as moontlik vertalings met mekaar vergelyk. Van die Engelse vertalings, kyk ek graag na die New Revised Standard Version, die New International Version en die Common English Bible. Wat Afrikaanse Bybels betref, is ek effens skepties oor vertalings wat nie deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika onderneem is nie. Bybels wat deur hulle onderneem word, word tipies aan baie meer kwaliteitskontroles onderwerp as die van kommersiële uitgewers.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top