Resensie: Waar die oog van stil word deur Ilse van Staden

  • 0

Waar die oog van stil word
Ilse van Staden
Protea Boekhuis
EAN: 9781485306054

Die eerste woord wat die leser vol in die gesig tref, is die woord “stil”. Daardie een aspek van die lewe waarna menige mense smag in hul daaglikse mallemeulebestaan, omring deur geraas en die eindelose gejaag na aardse verpligtinge. Met die kalmerende effek van ’n stil seebeeld in skakerings van blou op die voorblad skep dié kombinasie die ideale toestand van rus, vreugde en harmonie of nirwana soos daar na laasgenoemde binne die Boeddhisme en Hindoeïsme verwys word.

Van Staden het haar reeds binne die Afrikaanse letterkunde gevestig as veelsydige skrywer van poësie, kortverhale en onlangs ook ’n roman. Sy debuteer in 2003 met die bundel Watervlerk, gevolg deur Fluisterklip in 2008 en Die dood is ’n mooi blou blom in 2009. Die Eugène Marais-prys sowel as die Ingrid Jonker-prys vir poësie is vir Watervlerk aan Van Staden toegeken. Haar kortverhaalbundel Tafel vir twee het in 2009 verskyn. Haar debuutroman, Goeie dood wat saggies byt, het vroeër vanjaar by Protea verskyn.

Wat veral opvallend is wanneer die inhoudsopgawe bestudeer word, is die herhaling van die woorde “oog” en “lig”. Die woord “oog” kom in die titels van vyf gedigte voor, terwyl die word “lig” in drie titels figureer. Dit is duidelik dat die sintuiglike waarneming van die digter-as-spreker prominent in Van Staden se nuutste bundel na vore tree. Die programgedig is getiteld “oopmaakgedig” – ’n heel gepaste (en ietwat ironiese) titel vir die bundel wat weereens fokus op die stille en vreedsame wêreld van drome waarvan slegs enkele herinneringe deur die spreker bewaar word.

snags loop die hart van woorde vol
wat met wakkerword verdwyn,
die sagte potloodlyn van drome
gewis tot vuilerige merke van grafiet,
mompelings wat op die lippe stol,

maar soms sypel ’n herinnering deur
die winkende hande van onthou
en maak jy jou oë oop teen die lig:
’n stip stil oopmaakgedig

Die bundel as geheel bestaan uit ’n versameling gedigte wat teenstellende temas aanraak: lig versus donker, klank versus stilte, droombeelde teenoor die realiteit van die mens se daaglikse bestaan asook die lewe teenoor die dood. Die wisselwerking tussen die mens en moeder natuur is ook ter sprake. In die gedig “ogiesdraad” (28) neem die spreker bestekopname van die wêreld waarin sy haarself bevind.

ek buig die ogiesdraad van my verblyf
na buite uit, ’n bolboog, en kyk
die lig daaragter
die gras-is-groen boomstammerige onder-die-horison lig
buig saam
buig na buite uit
asof dit plasties vasgeplak is
aan my heining se ogiesdraad
en soos dekor daaraan hang
en daarmee saam
o buigbaarheid
die hele heelal daarbuite

geheel en al
is die aarde ’n gebuigde ogiesdraadbal

Van Staden beskik oor die vermoë om die estetiese natuurelemente op unieke wyse in woord uit te beeld en skep sodoende ’n wisselwerking tussen die natuurgegewe skoonheid en mensgemaakte objekte soos ogiesdraad. Die slotreël sluit op gepaste wyse aan by die titel van Susan Smith se jongste bundel Die aarde is ’n eierblou ark (2016) waarin die natuur en die mens se wisselwerking binne die sfeer van die gedeelde ruimtes sterk figureer.

Lesers wat ’n liefde koester vir die estetiese sal Van Staden se bundel verrykend vind. Die geslaagde gebruik van ’n verskeidenheid beelde asook die onopgesmukte aard van haar skryfstyl, bied aan die poësieliefhebber ’n lushof van woorde wat stille berusting sal bring in ’n era van ’n semichaotiese gejaag na wind. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top