Titel: Nuwe Stories 3
Samestellers: Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn
Uitgewer: NB-Uitgewers
ISBN: 9780798167987
Koop Nuwe Stories 3 by Kalahari.com
Human & Rousseau in samewerking met LitNet bied jaarliks die Nuwe Stories-kortverhaalkompetisie vir skrywers onder 30 aan. Hierdie kompetisie bied nuwe skrywers die geleentheid om hul kortverhale vir publikasie voor te lê. Die eerste weergawe van die onderskeie verhale wat die kortlys haal, word op LitNetgepubliseer met volledige terugvoering van die keurders. Skrywers woon ook ’n werkswinkel by waartydens hulle die geleentheid gebied word om te skaaf aan hul verhale, waarvan die finale weergawe in Nuwe Stories verskyn.
Met ’n skeloranje omslag trek Nuwe Stories 3 dadelik die leser se aandag. Alhoewel die derde uitgawe ietwat dunner as sy voorganger is, is dit duidelik dat die keurders strenger was tydens die keuringsproses aangesien slegs 17 kortverhale in Nuwe Stories 3 opgeneem is vergeleke met 20 in Nuwe Stories 2. Die jongste bundel kortverhale bevat stories van ’n hele aantal nuwe skrywers soos Susan Gaigher, Carien Smith, Luka Dreyer en Corné Koegelenberg, om maar enkeles te noem. Wat egter aangenaam verrassend is, is die aantal skrywers wie se kortverhale weer eens vir publikasie aanvaar is, naamlik Elani Venter, Tanya van Buuren, Carla Kargaard en Frederick J Botha.
Frederick J Botha is met sy kortverhaal “The day Madiba died” as die algehele wenner van die kompetisie aangewys. Botha maak op geslaagde wyse van jukstaposisie gebruik om die ek-verteller se pa en die oudpresident teenoor mekaar te laat afspeel. Die narratief is boeiend en die leser word deur middel van Botha se oortuigende taalgebruik in staat gestel om die verteller se emosionele rondomtalie eerstehands mee te maak. In “Drie daggakoppe rook tesame” (waarvan die titel intertekstueel op Jan Rabie se kortverhaal “Drie kaalkoppe eet tesame” inspeel) ondersoek Botha die onderwêreld van dwelmmisbruik en misdaad. Die dialoog kan die leser met tye self soos ’n skisofreen laat voel, maar geleidelik ontknoop die narratief tot ’n verrassende slot. Botha toon ’n besonderse aanleg en aanvoeling vir die kortkuns en dit is dus geen verrassing dat “The day Madiba died” as die wenverhaal aangewys is nie.
Carien Smith en Elani Venter is as mede-naaswenners aangewys met hul verhale “Binnekort” en “Lettie se verlies”. Verder het Smith ook eervolle vermelding vir haar verhaal “Likkewaan” gekry, tesame met Susan Gaigher vir haar verhaal “Maslow”. Smith se “Likkewaan” sluit tematies sterk aan by JM Gilfillan se verhaal “Taalles”, wat kulturele asook taalverskille binne die skoolopset ondersoek. Smith se kortverhaal het aanvanklik “Akkedis” geheet, maar die titel is na aanleiding van die keurders se aanbeveling na “Likkewaan” verander wat myns insiens ’n heelwat sterker metafoor binne die konteks van die verhaal geskep het, aangesien ’n likkewaan meer onheil en bedreiging as ’n akkedis simboliseer. Smith se fyn waarnemingsvermoë en aanvoeling vir die milieu waarin die verhaal afspeel, lei tot ’n hoogs dramatiese slot wat die Suid-Afrikaanse onderwyskrisis en sosio-ekonomiese probleme tot op die been oopvlek.
Nuwe Stories 3 bevat kortverhale wat ’n wye verskeidenheid temas aanraak. Plaasgeweld figureer weereens met Elani Venter se “Keerom” wat handel oor die jong, onskuldige verteller wat gedwing word om ’n wrede moord te aanskou. Alhoewel die verhaal treffend is, is dit egter minder boeiend as Marteni Burger se “Pik” wat in Nuwe Stories 2 verskyn het, omdat Burger se slot die leser onverhoeds betrap. In die verhaal “Een, twee, drie, blok myself” ondersoek Ilisna Nel die verlies van seksuele onskuld asook seksuele misbruik en die gevolge wat daaruit voortspruit. Nel se verhaal is beide treffend en skokkend en sal die leser tot nadenke dwing. Lesers wat Elbie Lötter se roman Dis ek, Anna geniet het, sal veral van Nel se verhaal hou. Susan Gaigher se verhaal “Maslow” kan as wetenskapfiksie geklassifiseer word en aktiveer ’n tematiese aansluiting by CJ Langenhoven se roman Loeloeraai terwyl die sielkundige element ’n bykomende kinkel in die kabel besorg. In “Die vrese van Bennie Wessels” dryf Corné Koegelenberg op skalkse wyse die spot met kleindorpse tradisies en gewoontes. Hierdie verhaal is deurspek met humor, wat ’n welkome afwisseling teweegbring met die andersins gewigtige onderwerpe waaroor daar in die bundel geskryf word. Verdere temas sluit in fisieke en emosionele mishandeling in “Utopia” van Christina van Deventer en verganklikheid en eensaamheid in Carien Smith se “Binnekort”.
Nuwe Stories 3 is sonder twyfel ’n hoogtepunt sedert die kompetisie ’n aanvang geneem het. Al die skrywers het verhale van hoogstaande literêre gehalte gelewer. Lesers word vasgenael met ’n tapisserie van temas wat deur middel van verskillende verteltegnieke in die onderskeie verhale voorkom. Afrikaans het geen tekort aan jong talent sover dit die kortkuns aangaan nie. Hierdie projek is ’n welkome toevoeging tot die bevordering van Afrikaanse letterkunde sowel as die skryfkuns.
Lees onderhoude met al die skrywers wie se stories in Nuwe Stories 3 opgeneem is.

