Resensie: Ek en jy verskil hemelsbreed deur Louise van Coller

  • 0

Titel: Ek en jy verskil hemelsbreed
Outeur: Louise van Coller
Uitgewer: Lux Verbi
ISBN: 9780796319050

Koop Ek en jy verskil hemelsbreed by Kalahari.com

Louise van Coller definieer haar self as ’n “Christelike huweliksberader” vir die doeleindes van haar boek Ek en jy verskil huweliksbreed. Op die omslag, asook in die voorwoord en inhoudsopgawe, maak sy dit duidelik dat haar boek poog om as ’n praktiese handleiding te dien vir huweliksverryking. Van Coller se boek val dus in die genre van self-help, maar ook spesifiek met ’n duidelike religieuse invalshoek. Die leser word egter nie gebombardeer met teologiese perspektiewe nie, en die sekulêre leser voel dus ook nie te onwelkom om met die inligting om te gaan nie. Hiervan getuig verskeie kwotasies van, en verwysings na bekende persone en vermaaklikheidsterre wat Van Coller in die teks invleg.

Soos die titel van haar se boek aandui, beklemtoon die skrywer vanaf die staanspoor hoe individue verskil, en val ook dadelik met die deur in die huis deur uit te brei oor persoonlikheidstipes. Praktiese inligting en voorbeelde word gegee, en word ook aan die hand van “bekende” egpare geïllustreer (bv Alvin en Anrika Bruinders, Bobby en Annatjie van Jaarsveld). Van Coller poog deurentyd om inligting wat eintlik adademies van aard is toegangklik aan te bied, en volg ook ’n openlike benadering deur haar eie huwelik as “gevallestudie” te gebruik. Daar word verder breedvoerig uitgewy oor faktore wat stressore in die huwelik kan veroorsaak, opgedeel in “verskillende agtergronde”, “klein jakkalsies”, en “die invloed van kinders op die huwelik”. Van Coller gee ook breedvoerig aandag aan die beskrywing en perspektiewe op hantering van konflik, en reflekteer op ouerskap en selfs tweede huwelike.

Louis van Coller noem in haar gevolgtrekking dat ons in ’n wêreld leef “waar mense nie toegerus is vir die huwelik nie”. Hiermee slaan sy bepaald die spyker op die kop, en poog om op ’n praktiese vlak riglyne te verskaf aan mense wat ernstig bereid is om werk te maak van hulle verhoudings. Mens hoef bloot na statistieke te kyk om te weet dat mense oor die algemeen nie baie goed is om langtermynverhoudings te laat werk nie. Van die inligting en advies wat in Ek en jy verskil hemelsbreed verskaf word, is van groot waarde vir die verstaan van basiese konsepte in enige verhouding, en verdien om van notisie geneem te word. Vir mense wat spesifiek net vanaf ’n Christelike raamwerk na verhoudings kyk, is daar genoeg terugverwysing na, en kontekstualisering van Bybelse konsepte om die teologiese raamwerk wat as uitgangspunt gebruik word, te bevredig. 

Soos wat die beperking van ’n enkele meta-raamwerk dikwels veroorsaak, skep dit ook probleme in van die beskrywings in Ek en jy verskil hemelsbreed. Sodoende ly die duidelike omskrywing van die verskil tussen persoonlikheidstipe en persoonlikheid in die slag, en staan die leser die gevaar om sekere konsepte mis te verstaan. Omdat die skrywer ’n groot volume afstaan aan die beskrywing en teorie agter sekere sielkundige konsepte, sou dit ook meer regverdig teenoor die leser gewees het om ’n breër verduideliking van wetenskaplike teorieë agter konsepte te gee, en nie net by sommiges nie. Alhoewel dit sekerlik die skrywer se reg is, word daar net te veel volstaan met die suggestie dat mense “so geskape is”, en mag daar dalk van die essensie van die boek se sentrale boodskap van "verstaan" verlore gaan. 

Die handhawing van enige verhouding (nie net liefdesverhoudings nie) is harde werk. Louise van Coller se Ek en jy verskil hemelsbreed beklemtoon die belang hiervan, en verskaf nuttige en verstaanbare ingligting en wenke oor kernkonsepte van verhoudings. Vir diegene wat verkies om meer sekulêr na menslike interaksie te kyk mag die boek dalk te kort skiet op sekere vlakke, maar tog ook handige rigtingwysers verskaf wat deur almal toegepas kan word.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top