Resensie: Die sirkel van bekende dinge deur Johan Vlok Louw

  • 0

Titel: Die sirkel van bekende dinge
Skrywer: Johan Vlok Louw
Uitgewer: Random House Struik
ISBN: 9781415206980

Koop Die sirkel van bekende dinge by Kalahari.com

Eers was daar Gert Vlok Nel en nou Johan Vlok Louw. Albei is handelaars in hardgebakte, grinterige nostalgie. Die sirkel van bekende dinge was vir my onbekend. Dit het soms gevoel asof ek ’n boek lees wat geskryf is deur ’n wese van ’n ander spesie. Dit speel af op planeet macho: die dialoog is staccato, vol “gie-gie”, “ga” en “vir seker”. Veral “vir seker”. Dis vol testosteroon, drank, seks, guns en karre. Die protagonis, Billy Bunny, is negentien en in matriek. Hy het die bynaam gekry toe hy klein en sy ore besonder bak was. Nou is hy mooi groot: ’n hokvegter met ’n draaktatoe. Sy pa, die boepens-kolonel wat kettingrook en Klippies en Coke in sy keel afgooi, het hom herdoop tot Billy Bultril, want hy is glo met ’n stywe voël gebore. Billy B is konstant jags en vroue van alle ouderdomme vrek oor hom. Sy lewe is ook nie ’n piekniek nie. Sy gesinnetjie gee nuwe betekenis aan die woord disfunksioneel: sy ma lê maar meestal op die bed en sluk pille met wyn af. Sy pa het ’n affair met ’n kollega – waar hy die energie en koerasie bymekaarskraap tussen die rondhardloop agter skurke aan met sy logge lyf, die sestig sigarette per dag en die liters brannas wat hy wegslaan, weet ek nie. Hy gee elke maand vir Billy geld en sê: “Voer jouself. Voer jou hond. Voer jou ma.” Sy ma sê: “Maak vir my ’n bottel wyn oop. En moenie my wakker maak vir aandete nie.” Hulle trek gedurig en bevind hulle nou weer op ’n nuwe dorp wat net sowel in die Wilde Weste kon gewees het. Ou Bill B het hart, maar word ook gery deur aggressie en bestorm moeilikheid tromp-op. Die roman herinner soms aan RR Ryger se Beertjie en sy Boytjies. Beertjie meets Louis L’Amour.

Natuurlik is die kontras, die manier waarop die enkele tonele van teerheid uitspring soos woestynblomme, onweerstaanbaar. Billy B fuif graag in ou Joe Kelly se berugte hoerhuis in die hoofstraat, maar verloor dan sy hart aan ’n oulike skoolmeisie, Sue, self nie te preuts nie. Van die mooiste oomblikke is myns insiens die bromance tussen die pylreguit Billy B en sy nuwe bestie: Bridgie, wat hy “my klein moffiepelletjie” noem, met styfgejelde hare wat Billy aan Pokemon herinner.

Onheil broei op die dorp en daar is kak aan die kom, dis duidelik. Die hoerhuis, ook ’n dwelmnes, is in die visier van Billy B se pa, die kolonel en nuwe polisiehoof op die dorp. Ou Joe is pynlik sterwend aan kanker en ’n magstryd ontstaan tussen sy troonopvolgers. Die kolonel gee vir Billy ’n Webley-pistool present wat aan sy oupa behoort het. Almal weet wat Tsjechof van ’n pistool gesê het: “If you put a gun on the stage in the first act, it should be fired in the second act.” Spanning laai op en alles word geposisioneer vir ’n countdown at high noon. Meer kan ek nie weggee nie.

Dis ’n coming of age-roman, ’n skop-skiet-en-donner cowboyboek en dit ruik na tienerrebellie. Daar is eggo’s van dorpsromans en grensverhale. Billy B se pa is op 55 oor die muur en opgedinges deur diensplig. Billy is nihilisties. Ek is nie seker of dit ’n jeugboek is nie. Sulke klassifiserings is waarskynlik onbelangrik, behalwe as ’n mens in ’n biblioteek werk. Vervloë is die dae van Trompie en die Uile: kinders in tienerfiksie suip en hê seks met ewe min erg as wat hulle toebroodjies eet. Daar is vis in die punch en verby is die dae van pot vol winter en Calvinistiese skuld en vertwyfeling. Een ding blyk wel universeel en tydloos te wees: die mens se behoefte aan liefde en om te behoort. En alfamans se behoefte om te beskerm, om alles reg te bliksem of plat te skiet.

Ek kon dit nie neersit nie. Die perspektiefwisselings het my hier en daar gepla: Billy B is meestal in die eerste persoon aan die woord, dan kyk hy weer van bo en praat oor homself in die derde persoon en soms klim ons onverwags in die kop van die kolonel of ’n ander karakter. Maar die roman is boeiend en broeiend en vol houding. Dis gestroop en minimalisties soos ’n woestyn- of Karoolandskap, maar die omgewing word plek-plek uitmuntend geskilder, soos hier: “Ons ry verby baksteenhuisies, sink buitegeboue, rooi, platgetrapte kampies. Mammas met kindertjies. Spatsels fabrieke midde vierkante met vibracrete omhein. ’n Uitgeteerde, swart brak gaan lê lui teen ’n lemmetjiegroen muur. Ou karre rus op sementblokke, houtstutte, binnegoed buite.” ’n Mens kan die cowboy met rokende pistool sien wegstap in die rigting van die ondergaande son terwyl ’n tolbos in die rooi stof warrel: saalseer en bakbeen, of maak dit bakoor: Billy Bultril, buitestander en antiheld op ’n sending van sy eie.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top