Resensie: die na-dood deur Breyten Breytenbach

  • 0
nadoodresensie650

Breyten Breytenbach (foto: Naomi Bruwer)

die na-dood
Breyten Breytenbach
Human & Rousseau
ISBN: 978079817246

Breyten Breytenbach se jongste bundel, getiteld die na-dood (2016), verwys na die naderende dood, of “nabydood”, soos die digter in ’n voetnota op bladsy 150 aandui. Die titel vertel in die gelyknamige gedig van “drome/ van reise na wat nie/ gemeet kan word nie”, wat die tydperk ná die dood impliseer.

Die dood verkry konkrete gestalte in die elegiese verse, opgedra aan Tomaž Šalamun, getiteld “by die heengaan van Tomaž Šalamun, 27 desember 2014” (18–20), en André P Brink in “en skielik is dit stil (André, 7 Februarie 2015)” (32–3). Die dood van tydgenote bring ’n verskerpte bewustheid van verganklikheid vorendag, wat die digter soos volg in “klaarmaak” (189) verwoord:

ek het nog nie die bittersoet begin
drink wat my dood sal maak nie
maar die wind bring berig
dat die reis al te lank is
dat te veel mense in my geheue
moes sneuwel ...

Deur die digter se vernuftige woordwerk verkry die leser ’n begrip van die betekenis van die dood, soos die digterlike alter ego Woordvark in “die na-einde” (202–4) vir die vrou en die kind sê:

... dis tog net ’n oomblik
wat vir ewig duur.
moenie kyk nie.

In “die besoek” (34) word die ewigdurende doodsoomblik tydelik opgeskort, soos die spreker sy gestorwe moeder, “Ounooi”, op die stoep hiér by die katjiepieringbos aantref:

... o Ounooi Moederdogter
hier is jy dan nog hiér deur donkerte tydverbleik
in die katjiepieringbos by die stoep
se wit geur onsterflikheid.

Om gedagtig te wees aan die hier-wees loop soos ’n goue draad deur Breytenbach se digterlike oeuvre. Die motto van die bundel, “behier my hart, behiér –/ en laat wat buite is bedaar”, ’n fragment aangepas uit die gedig “kolkstilte, Kersfees 2015” (100–1), wil juis ’n oomblik van stilte, van gedagtig-wees, skep.

Maar hierdie gedagtig-wees veronderstel nie ’n apatiese houding ten opsigte van die wêreld “daar buite” nie; inteendeel: om gedagtig te wees, beteken om te onthou “van duisende naastes wat niks meer het nie”, van “stede in puin/ tussen koningsrotte gemartelde lyke”, “’n oomblik van weet/ ons vernietig die planeet”, “net ’n stilte-stil oomblik/ se onthou van krippe en kruise en krotte/ en krete en karkasse”:

behiér, hart – behiér:
laat wat buite is bedaar
in ’n oomblik van stilte
tussen stilte en stilte.

Die bundel bestaan uit ses afdelings. In afdeling 1, “onder sterre se gewig”, is ’n hoogtepunt Breytenbach se vry vertaling van die Marokkaanse digter en skrywer Abdellatif Laâbi se gedig “J’atteste”, wat na aanleiding van die terreuraanslag op Charlie Hebdo in Parys geskryf is. Breytenbach se vertaling hiervan, “hierdie woorde, ’n nederige gebed dat die barbarisme nie hoop ook sal vermoor nie” (12), weerspieël die soeke na menslikheid wat Breytenbach se digkuns kenmerk:

ek getuig net hy wie se hart bewe
van liefde vir die medemensmense
sal méns kan wees
net hy wat vuriglik méér vir hulle
as vir homself wil beding ...

’n Groot aantal gedigte handel oor die digkuns self. Wanneer die gedigtitels van die eerste afdeling gelees word, kom die leser dadelik tot die besef dat die verse oor woorde, gedigte, die digter – kortom, oor die digkuns – gaan. Die programgedig “opsomming” (11) is self ’n poëtikale gedig wat die paradoks belig van die “hoedanigheid van digter te wil wees”:

hoedanigheid van digter te wil wees
(behalwe die danigheid dan met woordself)
is om te laat deurskemer
dat daar dit is wat nie gesê kan word nie
en buite en agter die kadansdansery
val soos verkluimde trekganse in die sneeu.

Ten spyte van die paradoks hou die digter vol met sy soeke na “hoedoenige/ van daardie dit wat nie bestaan nie” en neem die persona van (onbeholpe) “ekdigter” aan:

ekdigter: die voëlverskrikker
wat iewers tussen die woorde
woer-woer om te kan vlieg.

Die titel van “gedigmaak gedig” (29) laat sien die wyse waarop Breytenbach reeds geskrewe gedigte gebruik vir die skryf van nuwe gedigte, met die gevolg dat sy gedigte voortdurend met mekaar in gesprek is. Die slotkoeplet van “gedigmaak gedig” neem hierdie verskynsel soos volg saam:

dat die gang en samesang van ooreenkomste
mag ontstaan en aan mag gaan.

In “en die wêreld het met my gepraat” (44), word Afrikaans as die medium van die gedig onder die loep geneem. Hierin vermeld die spreker op humoristiese wyse dat dit moontlik beter sou wees indien “die wis en die onwis” vir hom in “Mandaryns” uitgelê was –

en die wêreld/die skepping/die kosmos
het met my gepraat in Afrikaans
en ek het gesê:
no comprende, please don’t speaka dog
wiz mich –

[...]
is dit dan nie diep bevredigend
om die laaste duisternis van jou asem
te mag mond in Afrikaans nie,
ondankbare hond!

Die tweede afdeling, getiteld “oggendboek”, skep die idee van ’n dagboek, met die gedigte wat voorsien word van ’n dag en datum as titel. Die gedig “Maandag 25 Augustus 2014” (65) is ’n voorbeeld van voorgenoemde “gedigmaak gedig”, waarin Breytenbach se bekende “Blomme vir Boeddha” in die ysterkoei moet sweet (1964) gebruik word as inspirasie vir ’n nuwe gedig. In “Maandag 25 Augustus 2014” word die oorspronklike “(ek)”, vervang met die digterlike personasie, die ou gek, of “(jek)” wat voortaan in ander gedigte in die na-dood optree.
Een van die dagboekgedigte, “die bedenkeling” (98), word ook voorsien van die tyd wanneer die gedig geskryf was: “16 September 2015, 5.30”. Die leser wat bekend is met Breytenbach se oeuvre sal dan ook weet dat hierdie gedig deel uitmaak van een van die digter se “verjaarsdagverse”, waarvan ook “die herfspampoen” (168–9) in afdeling 5 en “Die klippampoen” (173–5) in afdeling 6 voorbeelde is.  

Die derde afdeling, “Lumen Obscurum”, word ingelui deur ’n motto van Marlene van Niekerk:  “Mens word tog net oud en gaan dood,/ jy kan net sowel begin koer.” Met die oudword in gedagte, tree die digter in “laatwerk” (128) in gesprek met die akademikus Helize van Vuuren se begrip laatwerk, ontleen aan Edward Said se boek On late style (2006). Die gedig openbaar die wyse waarop die kunstenaarsaktiwiteit al hoe vryer word namate dit later word in die lewe – vergelyk die eerste strofe:

wanneer dit laat word in die lewe
en die aandstér reeds teen die dalende dag
se skuinstes bewe
soos ’n hartklop
is elke kwashaal vry
elke woord onbesonne los
van sin en sinne se dop.

’n Paar Engelse gedigte, byvoorbeeld “Gorée, 17 March 2015” (71), “(‘Jesus says’)” en “here is what I know” (201), word in die bundel aangetref. Dit is ook interessant om te sien dat die gedigte in afdeling 4, getiteld “kwartels in die loekwartboom / quails in the loquat tree”, in beide Afrikaans en in Engels geskryf is.

Die foto’s tussen gedigte, byvoorbeeld van die volmaan bo die heuwel ter inleiding van afdeling 4, het sedert die verskyning van Katalekte (2012) ’n meermalige gebruik in Breytenbach se bundels geword. Vergelyk byvoorbeeld die aanwysing van die woorde in “Die klippampoen” (173–4) en die foto van Breytenbach langs die pampoen in Lissabon: “... intussen kiek ek ’n prentjie van jou hier op straat in Lissabon langs die abobora in die winkelvenster dis Portugees vir pampoen met ’n strepie op die eerste o.”

Langer prosaverse wat herinner aan dié in Katastrofes (1964), kom voor in afdeling 5, “Hartkrake”, met die onderskrif “(betragtinge en ander gelykenisse uit die fragmentarium van ’n oorledige self)”. ’n Versetgedig getiteld “(gemeentebrief)” (149–50), wat vermoedelik in die sestigerjare geskryf is, word as die openingsgedig van hierdie afdeling gebruik.

In “Parys, 9 Januarie 2015” (152), die datum van die terreuraanslag op Charlie Hebdo in Parys, bring die spreker ’n relaas na vore wat die blindheid van fundamentalisme in ’n gedistansieerde, reportage-styl bespreek: “Spotprenttekenaars – obseen, wrede maar skerp draakstekers – word afgemaai as simbole van kritiese denke.”

Afdeling 6 is getiteld “Die singende hand”. In die openingsgedig, “Die klippampoen”, word “Die fascistiese pampoen” geparodieer, en die storiegegewe, van die man met die begeerte om ’n pampoen vir sy verjaarsdag te koop, in die konteks geplaas van ’n man wat beveel word dat hy nie meer mag verjaar nie:

Ek ken daardie rympie goed het die vrou hom in die rede geval. Jy kan maar vergeet van jou tjomme en gabbas en tjaainas hulle is almal bokveld toe. Jy moet nou probeer ophou verjaar. Jy moet nou ophou probeer verjaar het sy verder getroos.

Die gedig “aak” (187) keer weer terug na die woordwerk van “ekdigter: die voëlverskrikker” in die openingsgedig:

aak aak kô-klok aak
digter het ’n vers gemaak
vers verveel het aan gaan teel
veel foeifaai veels te veel:
en oral nou die verstopte kloaak.

In die twee laaste verse van die bundel, “die na-einde” (202–4) en “die na-dood” (205–7), word slotopmerkings oor bestaan en vergaan gemaak, die mens en die landskap, “met hierdie verse vaag geteken in niet se skynsel”.

In die ses afdelings van die na-dood kom bekende leitmotiewe van Breytenbach se werk opnuut weer aan bod: die digterlike alter ego’s soos Jek, Bill en Woordvark, die parodieë van verse, sintuiglike waarneming van plekke, die nuwe wending van sy verjaarsdagverse, die in gesprek tree met intertekste. Dit is egter ook die belangrike uitsprake omtrent sy interne poëtika, sy innige gesprek met die leser, sowel as die verbluffende verstegniese aspekte van sy werk, wat Breyten Breytenbach se meesterskap bevestig.

gaan gaan
oorkantoewer gaan
klaar oorkantoewer vergaan

o vreugde ontwaak.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top