Resensie: Die ding in die riete deur Jean Lombard

  • 0

Die ding in die riete
Jean Lombard
Tafelberg
ISBN: 9780624070863

Koop Die ding in die riete by kalahari.com

Eendag was daar ’n man en ’n vrou wat in ’n tuin gebly het. Hulle het mooi gelewe, want daar was nie ander mense met wie hulle maatskappy kon maak nie. Maar eendag kom ’n slang by daai vrou; hy vra: “Is dit waar lat jou tata gesê het jy mag nie van die aartappels op die ploegland eet nie?”

Die vrou sê: “Ja, hy’t gesê as ek van daai aartappels eet, sal ek dood neerslaan.”

“Nee,” sê die slang. “Die dood sal jou nie vang nie. As jy beginne aartappels eet, sal jy net so slim soos jou tata word.”

Toe’t daai vrou ’n streepsak vol aartappels in die ploegland gaan uitgrou.

So begin “Die slang in die tuin, ’n pragtige Sotho-verhaal van Alfred Mokgotsi, verwerk en oorvertel deur Thomas Deacon in sy bundel Rooigrond (1995). Hierdie verhaal is een van 28 stories wat opgeneem is in ’n bundel slangverhale, saamgestel deur Jean Lombard en ingelei deur Antjie Krog.

Die slang is een van die oudste, fassinerendste en mees wydverspreide mitologiese simbole, ’n simbool wat ons vandag dikwels vertolk as verteenwoordiger van die kwaad, maar hierdie simbool, wat al in die alleroudste rituele van die mens voorkom, is deur die eeue heen verteenwoordiger van beide die bose én die goeie. Die slang se gif is dodelik; maar dieselfde gif word ook as teengif gebruik om lewens te red. So ook die simboliek.

Die slangmite wat ons waarskynlik die heel beste ken, kom voor in die Bybelse Genesis-verhaal, waar Eva deur die slang verlei word om God se verbod te verontagsaam en van die vrugte van die boom van goed en kwaad te eet. Hiervoor word sy en Adam, wat op sy beurt weer deur Eva verlei is, en hul nageslag vervloek en uit die paradys verban. Volgens hierdie ontstaansmite is die slang die oorsprong van die boosheid in die mens, die bron van alle sonde, chaos en menslike ellende.
Maar in ander mites weer is die slang simbool van vrugbaarheid, lewenskragtigheid en beskerming. So hou die slang byvoorbeeld in Chinese en sommige Afrika-mites verband met reën, water en vrugbaarheid. Daarom maak die slang dikwels juis as waterslang (“die ding in die riete”) sy verskyning in mites en verhale.

Boonop word die slang se vermoë om te vervel gesien as ’n teken van hergeboorte, transformasie, heling en lewensvernuwing. Asclepius, die god van die medisyne, dra ’n staf met ’n slang daaromheen gedraai, ook gebruik as simbool van die moderne medisyne. Daar is kulture waarin die slang beskou word as die naelstring wat alle mense met Moeder Aarde verbind, ook as een van die mees wyse diere, selfs goddelik en sodoende geassosieer met onsterflikheid. Verder is die falliese simboliek van die slang alom bekend.

Dit is geen wonder dat die slang al duisende jare lank ’n prominente plek binne die letterkunde verwerf het nie – ook binne die Afrikaanse letterkunde, en nie alleen in die skriftelike  tradisie nie, maar ook binne die orale tradisie, soos Alfred Mokgotsi en Thomas Deacon se verhaal hier bo getuig.

Met Die ding in die riete bring Lombard hierdie tematiese tradisie onder een dak.

Die bundel bestaan uit vyf afdelings, waarvan “In die begin” wegspring met uittreksels uit die Bybel: eers die verleidingsverhaal uit Genesis en daarna dele uit Job, direk aangehaal uit die Nuwe Vertaling van 1983. Naas hierdie uittreksels staan San-verhale, oorvertel deur GR von Wielligh in “Mitologie en Legendes”, deel 1 van sy Boesman-Stories (vier dele, 1919–1921). Hierdie konstellasie in die eerste afdeling bring ’n interessante gesprek teweeg tussen die bekende ontstaansverhaal van die Bybel en dié van die San. Volgens laasgenoemde was daar, toe die diere en die mense gemaak is, nog geen kos en water nie en moes hulle self ’n plan beraam om dit in die hande te kry. In hierdie plan speel “die groot Slang met die blink steen op sij* kop” ’n deurslaggewende rol, maar wel ’n rol wat anders is as dié in die Bybelse verhaal. Wat in baie van hierdie slangverhale opval, veral in die San-stories, is die treffende slot – dikwels ’n universeel geldige motto, les of waarskuwing oor die lewe. Die slot van Von Wielligh se “Die Diere vra om kos en water” lui: “En so bestaan die wêreld vandag nog: Die een leef van die ander, en sonder die ander kan die een nie bestaan nie.” En die reeds aangehaalde “Die slang in die tuin” met die volgende maning: “Toe’t die engele van die dood gekom; hy’t sy skadu oor al wat mens en dier en plant is, gegooi.

Jy sal nog dink om dit of dat te doen, dan klap daai vlerke bokant jou kop.”

Verhale oor die waterslang is volop onder mense wat naby die waters van die Gariep woon. Die tweede afdeling in die boek, “Koning van die Groot Gariep”, bevat ’n paar hiervan. Dit is dikwels inheemse variasies op die universele slangmite, wat nogmaals bewys dat oersimboliek verhale van alle kulture binnedring, selfs (of veral) in geïsoleerde gemeenskappe met geen of weinig toegang tot verhale van buite nie. Lombard se fassinasie met die waterslang het hier begin. Toe sy met haar doktorale proefskrif wou fokus op die rol van die mondelinge vertelling in die Afrikaanse spraakgemeenskap van Namibië, het George Weideman aanbeveel dat sy in haar veldwerk spesifiek navraag doen oor waterslangstories. Dit was ’n waardevolle voorstel, want die “wonderbaarlike waterslang met die wondersteen op die voorkop [het] inderdaad oral opgeduik”. Die prominensie van die slang in die bestaan van die Gariep-mense, spreek duidelik uit die verhaal “Kinders van die waterslang”, ’n verwerking van ’n storie wat die Griekwa Fytjie Bok aan Pieter W Grobbelaar vertel het:

Meneer wil die storie van onse mense hoor? Ons hier aan die lope van die Gariep? Dis onse wêreld dié, meneer, van my tate se tate se tate af. Die rivier is ons lewe; ons leef saam met die rivier. […] En die koning van die Gariep is die waterslang. Maar eintlik is hy nie net een nie; hy is baie, al noem ons hom so met die een naam. En dis nie net die water wat vir hom luister nie, maar die wolke en die wind. So leef ons saam met die rivier en die slang.

Vir haar fokus op die skriftelike verwerking van mondelinge vertellings het Lombard Weideman (aan wie sy die bundel onder andere ook opdra) se kortverhaalbundel “Die donker melk van daeraad” (1994), met die wonderslang as ’n deurlopende motief, as uitgangspunt gebruik. In 1999 het haar proefskrif verskyn onder die titel “Waterslangverhale in en rondom Afrikaans: ’n ondersoek na mitisiteit as basis vir vergelykende literatuurstudie”.

Maar dit was Hennie Aucamp wat gekom het met die voorstel vir ’n bloemlesing oor die onderwerp. En so het hierdie pragbundel tot stand gekom, waarvan die tweede afdeling, “Koning van die Groot Gariep” ’n paar van die mees meesleurende Gariep-verhale insluit,  onder andere “Die Waterslang”. Hierdie verhaal is ’n verwerking deur Pieter W Grobbelaar van ’n verhaal wat oorspronklik deur Von Wielligh (1859–1932) opgeteken is en begin so: “Diep in die mond van die fontein waar dit deur die riete borrel en altyd koel is, woon Waterslang. Sy is die dogter van die waters. Haar lyf is blink en haar oë blink, maar die blinkste van alles is die groot wit steen op haar kop.” Soos hier, word die slang in die meeste van die verhale as verleidelik glimmend beskryf, met ’n pragtige steen op die voorkop. Wat wel uitsonderlik is van lg verhaal, is dat die slang hier vroulik is. Meestal is die slang manlik en lok hy mooi jong vrouens, veral maagde, die diep donker water in, of is hy betrokke by die inisiasie van ’n maagd, soos in Grobbelaar se volgende verhaal in hierdie afdeling, “Kinders van die waterslang” (hier bo aangehaal).

In “Waterslang vat vrou” (ook in die tweede afdeling) – ’n storie wat deur Eva Maliqua aan Elias P Nel vertel is en deur Nel oorvertel word – is die slang manlik en word daar verduidelik dat hy met sy prooi ook ’n geslagsonderskeid maak: “As hy ’n mansmens of ’n jongetjiestjeent vang, eet hy hulle op. Ma as hy die slag ’n meisiemens of ’n meisietjeent vang, trek hy hulle onnerie water in. Daai meisiemens word dannie waterslang se vrou en kan nooit weer ytie water ytkommie.”

Die tweede afdeling bevat een van die mooiste inisiasieverhale in hierdie bundel, nl George Weideman se “Akkedil likkedis krokkewaan”. Ook hierdie storie speel af in die omgewing van die Gariep. Soos wat Adam en Eva, nadat hulle van die verbode vrugte geëet het, skielik bewus geword het van hul naaktheid en uit skaamte vir mekaar hul geslagsdele bedek het, ontdek ’n twaalfjarige seun en sy twaalfjarige maatjie Nettie ook in hierdie verhaal hul seksualiteit sonder om presies te weet wat gebeur. Hulle swem al jare lank kaal saam, maar op ’n dag, uit die bloute, wil Nettie nie meer kaal swem nie. Sy gaan trek haar suster se swembroek aan. Eendag, kort hierna, op pad na die rivier sê Nettie aan haar seunsmaat: “Toe – ek wil die kamtige ou Grote sien, vandag.” Later word dit duidelik waarna Nettie verwys: “Ou Dampies sê Grootrivier se slang is skaars met die lyf; hy hou glo in die diep kuile. Maar hy’t ’n groot, blink diamant voor sy kop […] Ou Dampies sê ’n mens moenie na die blink diamant kyk nie; hy trek jou nader, water toe. Jy kan nie skree nie, hy maak jou stom, hy mesmeraais jou.”

In afwagting van die slang, wat die twee kinders as iets buite hulself voorstel, is hulle totaal onvoorbereid op dit wat hulle by die rivier teëkom:

[W]anneer ons, lig soos likkewane in die water, weer lossies teen mekaar aanswem, lip teen lip, tong teen tong, glip iets rakelings tussen ons deur; nee, dit blý daar, hang soek-soekend tussen ons; maar tog asof dit deel is van ons, van haar, van my … iets spits; ’n snoet, ’n waterslang; iets lastigs. Ek kan dit nie kleinkry nie.

Ons breek weg van mekaar soos twee verskrikte otters met die skel geroep van die visarend – ek duik sommer blindelings in die water af, gooi baldadig kronkels en draaie; spat en blaas en slaan die water in boë om my op, stoei en stoei met die waterkronkels, totdat ek uitgeput op die sand neersak …

Hierna is die twee kinders se onskuld aangetas en sal hulle nooit weer met mekaar (en met hul eie liggame) so kinderlik as vroeër kan omgaan nie.

Die derde afdeling, “Die kronkels lê wyd”, bevat ’n variasie van verhale: eerstens twee van Minnie Postma se verwerkings van Sotho-sprokies wat sy teëgekom het gedurende haar grootwordjare op ’n Vrystaatse plaas; ook ’n Sotho-verhaal van Thomas Mofolo, vertaal deur Chris Swanepoel. Die verhaal is eintlik ’n fragment uit Mofolo se “Chaka” oor die Zoeloeleier wat as jong seun deur sy moeder na ’n eiland in die rivier gebring word om ter inisiasie van die koninklike rol wat op hom wag, deur ’n waterslang gelek te word. In hierdie verhaal vervul die slang die positiewe funksie van bemagtiging.

In die verwerkte Sotho-vertellings van Postma is die slang ook, ten spyte van die vrees wat hy ontlok, uiteindelik die redder. In “Die vrou wat nie gewerk het nie” (Postma) beland ’n man se vyf dogters in Waterslang se huis. Noha, die waterslang, eis beeste van hul vader voordat hy hulle sal vrylaat. Maar die man is arm en het geen vee nie. Hy bied aan dat Noha een van sy dogters as vrou mag uitkies en die ander vervolgens vrylaat. Waterslang stem in. Maar anders as wat die leser en die pa verwag, is dit geen vonnis vir die dogter wat gekies word nie; inteendeel, sy is ’n uitverkorene:

Toe soek Noha, die waterslang vir hom een uit. Hy kies die grootste een, vir Morongwa. Nou laat hy die ander vier teruggaan na hulle vader toe. Net Morongwa bly agter en hy neem haar vir ’n vrou.

Sy bly lekker by die waterslang. Hy koop vir haar baie rokke en hy koop vir haar baie komberse. Hy gee vir haar baie kos en hy wil nie hê sy moet werk nie. Sy leef lekker. Haar hart is vol vrede. Sy word vet. Sy is lief vir die slang …

Ook in Postma se “Madiane en die waterslang” verander Madiane, die dogter van die kaptein wat deur die slang agtervolg word, se vrees uiteindelik in geluk. As die toordokter geroep word om die vreesaanjaende slang dood te maak, besef hy dat dit Monyohe is, “die seun van die kaptein wat hy self in die vel van die waterslang toegemaak het toe hy nog klein was”. Die toordokter vra ’n os en maak ’n groot vuur. Hy gooi ’n stuk van die binnevet van die bees in die vuur.

Monyohe ruik dit. Hy kom uit die water uit. Jo, toe hardloop die mense weg, so bang is hulle vir die vreeslike gedierte. Toe hulle omkyk, sien hulle ’n wonderlike ding: Soos ’n slang uit sy vel klim as hy vervel, so klim Monyohe uit die vel van die waterslang. Maar dis nie ’n slang wat daar uitkom nie, dis ’n man! Om sy skouers hang ’n karos van jakkalsvel, in sy hand hou hy ’n skildvel en ’n spies. Hy is ’n jong man met ’n sterk liggaam en kwaai oë. Hy praat soos een wat al klaar kaptein is. […] Die mense skrik so groot hulle kan nie praat nie, en toe Monyohe by sy vrou aankom, kry sy hom lief met ’n liefde wat rooi is.

Hierdie pragtige inheemse vertellings word afgewissel met vertaalde verhale uit Duits en Nederlands, wat lei tot ’n interessante gesprek tussen Europese en Afrikaïese variasies  van die slangmite.

Die vierde afdeling, “Waterbul en Waternooi”, begin met “Die Reënbul”, Eugène Marais se verwerking van die fassinerende San-verhaal oor Nampti, genoem Hart-van-die-Dagbreek. Hierdie verhaal word deur die San in allerlei variasies vertel: soms is Hart-van-die-Dagbreek ’n meisie, dan weer ’n man. In Marais se verwerking is dit ’n vrou, Nampti. As sy eendag gaan water skep, sien sy ’n miswolk oor haar skaduwee in die water. Haar hart begin bewe en sy gaan vertel haar ouma. Die volgende keer gaan Nampti met haar ouma se toorgoed terug na die water. As sy die toorgoed in die water gooi, kom daar ’n roering, en voor sy weet, staan daar ’n jagter voor haar.

“En hy lag vir Nampti, en hy sê: ’As jy môre kom om water te skep, sit al jou aanhanggoed aan.’”

Die volgende dag as Nampti by die water kom, is sy skaam dat sy gedurende werktyd met krale behang is. Sy sien die Jagter-van-die Water by die Klipkuil sit en gaan kruip agter ’n olienhoutstam weg. Maar dan roep hy haar.

En toe sy uitkom, wink hy met die hand, en hy sak stadig in die water weg, en sy siet net die groot wolk bo die water. En sy wag lank voor sy skep; maar toe sy buk met die kalbas, hoor sy hy sê uit die water: “Dit is myne!”. En die water roer, en ’n dik wolk maak alles toe, en sy siet die Reënbul kom uit die wolk, en hy buk voor haar.

En sy voel haar hart roep haar om op te klim; en sy sit die kalbas neer en klim op sy rug, en sy voel hy loop uit die wolk weer die water in, en sy druk haar oë toe, en sy voel dit kom om haar lyf.

Hierdie voorlaaste afdeling bevat ook mooi verhale van Diana Ferrus, E Kotze en Abraham H de Vries. In De Vries se verhaal, “Soms op ’n reis”, is ’n man, die verteller, alleen op reis. Op ’n kampeerplek langs die Rynrivier raak hy bewus van ’n ander reisiger, ’n vrou, wat duidelik ook alleen reis. ’n Sekere aantrekkingskrag lok hom om met haar te gaan kennismaak. Sy nooi hom uit om saam met haar te gaan swem, maar dan gebeur daar iets misterieus waarop hy nie voorbereid was nie, iets wat hom ingrypend verander: “[S]oms op ’n reis belewe ’n mens iets gevaarliks én iets waaragtig moois, en daarna is jý nooit weer dieselfde mens nie.” Die slotwoorde van hierdie verhaal som die kern van al die slangverhale op, want die meeste het te make met die mens se aangetrokkenheid tot die skone en die gevaarlike, en tydens die ontmoeting gebeur daar dan iets wat byna nie met die verstand omvat kan word nie, iets wat die mens transformeer en vir altyd verander, soms ten goede, soms ten slegte, soms albei tegelyk. Dit geld ook vir die Adam-en-Eva-verhaal.

Die bundel word afgesluit met die afdeling “Met die oë van ’n kind” en sluit twee verhale van Petra Müller en een van Thomas Deacon in. Müller se verhaal “’n Ietsie vir die waterslang” sluit aan by bogenoemde van De Vries wat betref die skoonheid van die bose of die gevaarlike (ook andersom). Die verteller is op haar bergplasie. Dit is ’n snikhete somerdag as sy die spoegslang raakloop: “Hy staan op toe hy omswaai, maak bak, en ek kyk vas in die klipogies van Naja nigricollis woodi, die onbevreesde, vinnigste en gevaarlikste spoegding van die hoë berge. Maar mooi, soos net die boosheid self kan mooi wees.”

Die ding in die riete is ’n skatkis van slangverhale, in alle gedaantes en vorme. En soos dit nou eenmaal met mites gaan, speel die spirituele, die goddelike, die onpeilbare ’n groot rol, en kom bestaanskwessies ter sake: seksualiteit, inisiasie, begeerte, voortplanting, geweld, lyding, vernietiging, oorwinning, oorlewing, dood.

Kortom: die lewe self.

* Von Wielligh se oorspronklike taalgebruik is hier behou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top