Resensie: Die bewaker deur Marguerite Poland

  • 1

 

Titel: Die bewaker
Skrywer: Marguerite Poland (vertaal deur Daniel Hugo)
Uitgewer: Penguin SA
ISBN: 9780143539100

Koop Die bewaker by Kalahari.com

Toe val hy.
Vuurtoringwagters het streng kodes gehad:

  • Jy mag nie val nie.
  • Jy mag nie alkohol drink nie.
  • Jou uniform moet presies wees, al kom daar niemand nie.
  • Die lig mag nie uitdoof in die nag nie.

En tog val hy.

Hannes Harker is die seun van ’n vuurtoringwagter.

Hannes Harker is een van die mees senior vuurtoringwagters in die diens.

Ten spyte daarvan val hy.

So beland Hannes in die hospitaal en die suster in beheer besef hier is ’n spesiale man, een wat nie sal wil praatjies maak nie. Sy sien hoe hy hunker, hoe hy in die aande see se kant toe kyk, soekend na die lig.

Uiteindelik, wanneer hy sterk genoeg is, laat sy hom op die stoep sit.

Hannes besef sy behandel hom spesiaal. Op sy stug manier waardeer hy dit en een aand begin hy vertel.

Hy vertel van sy pa.

Hy vertel van sy ma.

Hy vertel van Aletta, sy vrou wat dit nie meer op die verlate eiland kon uithou nie.

Hy vertel selfs van homself.

Rika, die verpleegsuster, bewaak Hannes se stories, maar sy luister ook só dat meer en meer kan uitborrel.

Rika raak betrokke, al wil sy nie – maar die hóé moet die leser maar self agterkom.

Die storie in ’n neutedop
Die verhaal handel oor twee generasies: Hannes en sy Pa, asook hulle vroue. Dit was ’n manlike era. Die man het besluit, die vrou het verduur. Mans wat kiés om op van die mees afgeleë plekke op aarde te gaan bly, het noodwendig ’n wil van staal. Hulle kan beheer neem – ook oor hulle vroue.

Die man se roetine was eenvoudig. In die nag moes die lig brand. In die dag het vuurtoringwagter geslaap, skepe aangeteken en gedetailleerde logs gehou van die weer.

Sy vrou? Wel, sy moes haar man ondersteun, natuurlik. Die kos moes reg wees en sy uniform moes presies wees. Verder moes sy hom nie pla nie.

Melankolie
Tydens die vertelling maak ’n spoorwegdokter die opmerking dat melankolie die algemeenste diagnose was wat hy onder die gesinne van vuurtoringwagters moes maak. Melankolie was natuurlik die naam vir daardie ding wat ons vandag depressie noem.

Dink net ’n bietjie hoe dit vir ’n vrou moes wees: sy is vasgevang op ’n eiland saam met haar man, ’n assistentvuurtoringwagter en dié se vrou.

Dit is dit.

Ja, daar is ook bandiete wat voëlmis skep, en hulle oppassers, maar húlle val onder die Departement Fauna en Flora en sy en haar man val onder Spoorweë en Hawens.

Die ánder klomp was boonop nie wit nie, dus tel hulle nie. Die vroue is selfs verbied om enige kontak met hulle te hê.

Dink net hoe ’n vrou moes voel wanneer haar kinders per boot weggeneem word koshuis toe. Sy was daar op daardie eiland sonder hulle, sonder enigiemand wat bereid is om na haar te luister en sonder enige manier om met haar kinders te kommunikeer.

Stapelgek of in die bol gepik?
Vuurtoringwagters word gebore: hulle pa’s was vuurtoringwagters en hulle trou dikwels met die dogters van vuurtoringwagters. Dit moes spesiale gene gekos het om jare lank in totale afsondering te leef. Daardie gene is oorgedra aan die kinders, wat van jongs af moes leer om ook in afsondering te leef. Ongelukkig is meer as gene oorgedra: die voorbeeld van ’n dominerende man en ’n onderdanige vrou is óók aan elke generasie geskenk.

Eintlik, as ’n mens eerlik moet wees, trou vuurtoringwagters met hulle ligte. Die vroue was daar om kos te maak en by geleentheid lyf te gee.

Wat meer is: daardie ligte het op ’n bad vol kwik gedryf, en kwik is giftig. Dit tas jou brein aan.

Slim perspektiefskuiwe
Ons leer die storie ken deur Hannes se vertellings aan Rika. Hy het natuurlik ’n baie beperkte idee van wat werklik gebeur het, maar dan kry die leser ook toegang tot die perspektiewe van die ander karakters.

Natuurlik is Hannes, en die ander mans, se tonnelvisie dikwels verkeerd. Teen die einde van die boek weet die leser oneindig meer as Hannes, maar ons verstaan ook vir Hannes op sy eie, vreemde manier.

Rika, wat aanvanklik net as bewaker van Hannes se stories optree, breek as het ware weg uit haar rol en poog om die geskiedenis te beïnvloed.

Stadig, maar vol kleur en deernis
Hannes is nie ’n babbelbek nie, en die verhaal ontvou trapsgewys saam met hom. Tog, namate ons meer karakters leer ken, tel die boek spoed op.

Uiteindelik is dit die menslikheid van die karakters wat jou tref.

Dit ís ’n boek vol hartseer, maar daar is ook hoop; dit is ’n boek vol melankolie, maar daar word ook vertel van kaal lywe wat mekaar passievol gryp terwyl die groot oseaan donderend bulder.

Die vertaling
Penguin en Random House Struik het deesdae ’n groot beweging om Afrikaanse tekste in Engels uit te gee, maar ook om groot Engelse tekste in Afrikaans tuis te bring.

Eersgenoemde gee natuurlik ons eentalige landgenote toegang tot ons groot Afrikaanse tekste, maar laasgenoemde is meer gewaagd. Waarom Engels na Afrikaans vertaal?

Gewoonlik sou ek nooit ’n Engelse boek in vertaling lees nie, want ek hou daarvan om die skrywer se stem te hoor. In hierdie geval werk dit egter baie goed. Dit is een van Daniel Hugo se baie goeie vertalings. Ek het nooit die gevoel gekry dat ek ’n Engelse teks lees nie. Dit voel en lees Afrikaans. Die karakters het vir my Afrikaanse mense geword en die probleme wat aangepak word, is probleme wat diep in die Afrikaanse wêreld gewortel is.

Interessant genoeg weet ek dat die Spoorweë gewoonlik Afrikaans was, terwyl die Hawens dikwels Engels was. Ek kan my dus indink dat hierdie verhaal ewe goed in Engels sal werk. Vir my sal Hannes Harker egter altyd Afrikaans praat. Daniel Hugo se puik vertaling van Marguerite Poland se eg Suid-Afrikaanse boek het hiervoor gesorg.

Die titel is interessant. Die oorspronklike titel is The keeper. In my oë is keeper ’n oppasser, Natuurlik is hier ook ’n wakende rol – dink maar aan ’n keeper of secrets. Ek dink egter die taak van ’n bewaker is meer doelgerig. Op hierdie manier verskuif die lig se fokus subtiel na die rol wat Rita, die verpleegsuster, speel, terwyl die Engelse titel beide Hannes en Rita se rolle belig.

Die lewe van ’n Australiese vuurtoringwagter
Die bewaker het my nuuskierig gemaak om meer te wil weet van die ligte en die meganismes wat in Hannes Harker se tyd gebruik is, en só het ek afgekom op ’n Australiese webruimte wat my heelwat vertel het van die soort lewe wat Hannes en sy gesin beleef het.

Lees gerus hierdie skakel. Julle kan dit selfs lees voor julle die boek gekoop het, maar kry die boek ook. Die bewaker is stadig, maar dit is die lees en die geld werd.

  • 1

Kommentaar

  • Petro Bezuidenhout.

    'n Wonderbaarlike vertaling! Dankie Daniel Hugo.'n Boeiende narratief.'n Storie wat inspireer en veredel en my aanspoor om haar ander boeke onder oë te kry.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top