Repliek op Jan Rap se brief van 26 Deser (Afrikaans en die Ekonomie)

  • 3

Beste Jan,

Ek glo daaraan om onderaan ’n brief kommentaar te lewer op die inhoud daarvan. Dan is dit relevant en kan die leser terugverwys na die oorspronklike skrywe bo-aan. Jy doen dit egter nie só nie, nee jy wag altyd ’n paar dae en dan kom jy met ’n repliek in die vorm van ’n nuwe brief, so ’n soort “late tackle” waar die leser nie die kans het om die brief waarop jy kommentaar het, te lees nie.

Gevolglik reageer ek dieselfde op jou brief van 26 Januarie (Dirk Rigter se Afrikaans en die ekonomie van 19 deser).

Eerstens: Jy ontken my bewering dat Afrikaans agv Afrikaner politieke heerskappy 'n dominante posisie beklee het, maar in dieselfde sin erken jy dat "wette en regulasies" tweetaligheid afgeforseer het! ( Jou eie voorbeeld: ontvangsdames by hotelle, besighede ens …) Jy sê selfs dat hierdie maatreël vir jou ‘n verleentheid was!

Tweedens: Churchill se "lies, damn lies and statistics" verander niks aan die feite wat ek voorgehou het waarom die breë handel Engels as die effektiefste kommunikasiemedium beskou nie.

Derdens: Hoe kry jy die ekonomie en Langenhoven se Brolloks en Bittergal wat kinders in die 1920’s bang gemaak het, in dieselfde asem genoem? En wat het 6% groei jare gelede in die ou bedeling enigsins met die stand van Afrikaans in 'n gans ander tydsgewrig te doen?

Vierdens: Jy sê niks oor my hoofbetoog dat die harde feite aantoon dat die Afrikaanssprekendes in SA lankal nie meer die hoofspelers in die ekonomie is nie, en dat die gevolg hiervan is dat dit ekonomiese sin maak om bemarking, dienslewering en verkope in Engels te doen nie. So terloops, wéét jy wat kos dit om advertensies vir tv en radio in twee of meer tale te maak, om brosjures en 11 tale te druk en alle ander inligting- en bemarkingskommunikasie in 11 tale te doen? Soos ek in ’n ander kommentaar gesê het, die handelaar/verskaffer/diensleweraar stel net belang in die netto wins uit die kasregister aan die einde van elke dag. Hulle voel vere vir enige ander saak. Dis hoe dit is.

Hoekom beweer jy dat ek leedvermakerig is oor Afrikaans nie meer sy dominante posisie beklee nie? Ek praat en skryf Afrikaans so suiwer moontlik en so veel as moontlik. Ek praat altyd eerste Afrikaans waar ek ook al kom en buig nie agteroor om Engels ter wille te wees nie. Maar my gesonde verstand sê vir my dat ses miljoen Afrikaanssprekers uit 55 miljoen mense op geen bevoorregting geregtig is nie, en dat die demografie van SA die lingua franca bepaal.

Ek is gatvol om gedurig van jou te hoor dat ons Afrikaanssprekendes slapgat en sonder ruggraat is en op ons rug omrol as ons Engels sien aankom. Wat wil jy in elk geval hê moet ons doen? Alles wat nie in Afrikaans bemark of verkoop word nie boikot en saans bitterbek en honger gaan slaap? Nooit met vakansie gaan nie, nooit RSG luister of DStv kyk nie? In Orania gaan bly en bedags in die tuin skoffel?

Nee Jan, die moderne Afrikaansspreker is besig om aan te beweeg. Natuurlik is daar baie ernstige probleme in die land, maar om op jou eie eilandjie dikbek te gaan sit en jouself te verknies omdat ’n Afrikaanse advertensie op RSG se laaste punchline in Engels is? Ag nee wat.

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Dirk, dit klink nogal lekker. In Orania gaan bly en bedags in die tuin skoffel. Ek en jy kan ons koolkoppe en groenboontjies verruil vir Jan se aartappels en tamaties.

    • Angus, sê nou maar die houers met Jan se aartappel- en tamatieplantjies het by ontvangs slegs Engelse etikette aangeheg? Jan besluit om die plantjies onder protes tog te plant. Sal die aartappels en tamaties na oestyd slegs geskik wees vir "stew"?

  • Beste Dirk,
    Jan sal om de dood nie daardie plantjies met Engelse etikette plant nie. Sy leuse vir plantjies sal wees soos vir taal: liewer vrek as groei, maar stew sal hy nottendem nie eet nie.
    Groete,
    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top