Repliek op Dirk Rigter se kommentaar onderaan my brief van 31 Oktober 2018

  • 1

Dirk,

Die halwe waarheid is die segregasiebordjies het wel bestaan en die hele waarheid is hulle het, saam met die wet op gemengde huwelike, al in die 80’s verdwyn, in die sogenaamde apartheidstyd al.  ’n Vreemde wat jou brief lees sal dit nie weet nie en sal onder die indruk gebring word dat daardie goed eers verdwyn het met die aanvang van die nuwe bedeling en dis nie waar nie.

Verder, daardie bordjies kom al van die Britte se oorheersingsdae af. ’n Vreemde wat jou brief lees sal dit nie weet nie; hulle sal onder die indruk wees dat die bordjies eers verskyn het na ’48 wat nie die waarheid is nie.  Terloops, die apartheid wat volgens jou eers na ’48 momentum gekry het was met “Royal Assent”, ons almal was toe nog onderhewig aan die Britse Kroon.

Ek het nooit ontken (in al my vorige korrespondensie) dat sekere reëls en wette kwetsend was nie. Trouens, ek het dit erken. Maar ek het ook gesê dat dit nie beleid was om kwetsend te wees nie; waar mense misbruik van hierdie wette gemaak het, was uit hoofde van swak karakter, nie landsbeleid nie.  Jy moet verstaan Dirk, dit gaan maar om burgerskap en dus stemreg. As almal burgers was, en dus kon stem, was hierdie land al lankal een met ’n swart regering en was ons al lankal – laat ons feite in die gesig staar – in die posisie gewees waarin Zimbabwe, Sierra Leone, Kenia, die Kongo, Mosambiek en ander Afrikalande hulle bevind.

Vandaar die beleid van afsonderlike ontwikkeling.  Jou stelling dat Engelse nie in Spanjaardland, of Spanjaarde in Duitsland woon nie is oorbodig. Swazi’s woon ook nie in Basoetoeland nie en Venda’s nie in Swaziland nie.  Niks met swart en wit te doen nie; dis verskillende nasies met wyd uiteenlopende kulture. 

Jy kan nie sê “... ten spyte van die feit dat hulle hier gebore is” nie want “hier” is nie een land nie; AL die grense in Afrika is kunsmatige grense bepaal deur die ou koloniale magte (en meestal sonder inagneming van bestaande etniese gebiede; grense het sommer dwarsdeur sulke gebiede geloop).  Thohoyandou en Kaapstad is net so ver van mekaar as Aachen in Duitsland vanaf Vila Real in Portugal, en tussen Portugal en Duitsland is daar ’n hele paar lande. Van die oorspronklik 2110 gebiede in Afrika (want daar is 2110 verskillende tale) is deur die koloniale magte verminder tot so onder die 60.  So, gemiddeld 2110/60 nasies is saamgeboender in 60 kunsmatige begrensde lande an na die “winde van verandering” is hulle meegedeel hulle is nou onafhanklike demokrasieë met gruwelike gevolge. In Afrika word daar gedring en gedryf, etniese oorloë is aan die orde van die dag.

Danksy die bemoeiing van die breingespoelde polities-liberales (dus oogklap-verkramptes) is Suid-Afrika nou in dieselfde klub. Daar’s rou riool in ons riviere, slaggate in ons strate, disfunksionele munisipaliteite, wegholmisdaad, ’n sterwende ekonomie en ongekende korrupsie. Die lewensgehalte van almal, swart en wit (veral swart behalwe vir ’n klein elite-groepie) is moer toe – jammer vir die Engels.  Die rommelstatus van die land is vir almal duidelik en kan nie meer ontken word nie.  Al wat oorbly vir die wat deel aan die daarstel van hierdie toestand gehad het, is om die destydse bedeling sleg te maak.  Hoe slegter dit deesdae gaan, hoe boser was die verlede.

Jan Rap

  • 1

Kommentaar

  • Jan,
    Jy is besig met semantiese gimnastiek. Jou stelling ...“hier” is nie een land nie... is so laf, 'n mens kan eintlik nie daarop sinvol reageer nie. Behalwe om maar weer eens vir jou daarop te wys dat die grense van Suid-Afrika reeds teen 1910 volkeregtelik vasgelê is en so erken is. Om mense wat nie wit was nie, maar "hier" gebore is, dus hul burgerregte te ontsê, was diskriminasie wat uitsluitlik op ras gegrond was. Rassisme, sien jy?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top