Repliek op Dirk Rigter se ‘Demografie van Afrikaans’

  • 3

Dirk, in sy eerste paragraaf, beweer dat ek erg krities teenoor ‘onsuiwer’ Afrikaans staan. Dit is onwaar; ek het by meer as een geleentheid al gesê ek is geen taalpuris nie maar ek is bekommerd oor die agteruitgaan van Afrikaans, net soos ek ook bekommerd is oor die verwoesting van die reënwoud, die gevolge van hidrobreking en die standaard van motorherstelwerk.

Volgens Dirk gun ek ook nie die mense wat verskillende variëteite van Afrikaans praat lugtyd op RSG nie. Ook onwaar; ek het tog al gesê die verskillende aksente en segswyses van die verskillende streke is interessant en dit sal natuurlik goed wees as die radio daaraan aandag gee (soos hulle in elk geval al vir jare maak).
So, ek hoop maar Dirk is nie goed met begripstoetse nie want die alternatief is te gruwelik om te bepeins, naamlik dat hy onderduims is.

Waarteen ek dit wel het, is die verengelsing van Afrikaans, die besoedeling van Afrikaans met onnodige Engelse woorde soos geopenbaar deur die taalgebruik van ’n groot groep bruines in die Kaap en die oorgrote meerderheid sogenaamde glanspersoonlikhede, wit en bruin, soos sangers, beeldhouers, kunstenaars edm reg deur die land, kyk nou maar byvoorbeeld na Afrivisie. Bruin gaste op RSG, oor die algemeen, benewens dat hulle Afrikaans deurspek is met Engelse woorde, slaan kort-kort oor Engels toe; hulle begin hulle, noem dit maar spreukbeurt, in Afrikaans (vol Engelse woorde) en na ’n sin of twee slaan hulle oor na suiwer Engels, GEEN Afrikaanse woord in hulle Engels nie.

Soos ek al gesê het, dit is waar wat Angus sê dat, tale wat langs mekaar leef, mekaar beïnvloed. Die taal van die dominante groep egter, het ’n veel groter invloed op die taal van die ootmoedige groep as andersom. In SA, die Nuwe Suid-Afrika om presies te wees, is die invloed van Engels op Afrikaans só groot dat Afrikaans besig is om te verengels. Die invloed van Afrikaans op Engels is nalaatbaar klein; ’n Engelssprekende sal nie eers ’n sin in ‘omgekeerde’ Kaaps verstaan nie.

Dirk het op ’n stadium genoem dat ek nie van ‘Kaaps’ hou nie omdat dit die taal van die bruines in die Kaap is. Dit is nie waar nie; ek hou nie van Kaaps nie omdat dit vol Engelse woorde is en op sodanige wyse Afrikaans verarm. Ook omdat dit Afrikaans brandmerk as die taal van ’n onderdanige groep en, as sulks, terselfdertyd die oorgang van Afrikaans na Engels verteenwoordig. Soos Breyten Breytenbach dit stel, die mense is besig op “op te gradeer Engels toe.”

Angus, een van die verdedigers van hierdie mengeltaal wend telkens ’n poging aan om dit op linguistieke grond te regverdig. Linguistiek, per se, het niks hiermee te doen nie (miskien sosio-linguistiek, indien daar so iets is). Hierdie verskynsel is uit en uit ’n sosiale kwessie, mense wat streef na wat na hulle as die beter kultuur beskou.

’n Begrip wat Dirk en Angus my skyn net nie onder die knie kan kry nie is die verskil tussen mengeltaal en onderlinge invloed van tale op taalontwikkeling. Met mengeltaal moet jy twee tale ken om dit te verstaan, in die geval van Kaaps is dit Afrikaans en Engels. Met ongemengde taal (ek vermy die woord ‘suiwer’ voor Dirk en Angus nou weer op galop gaan) hoef jy nie twee tale te ken nie, en jy hoef net een woordeboek te koop.

Ek het nou nie Dirk se syfers nagevors nie maar as hy enigsins beweer dat Kaaps, uit hoofde van sprekerstal, nog Afrikaans gaan of kan red sit hy die pot ver mis. Die teendeel is waar; hoe groter die getal sprekers van hierdie mengeltaal, en hoe meer dit aangemoedig word deur die radio, TV en PK-korrektes soos Dirk en Angus, des te vinniger snel Afrikaans sy ondergang tegemoet. Mense wat nie Afrikaans praat nie kan godsonmoontlik Afrikaans red. Om nou Dirk se woorde te gebruik; dit is ‘onsinnig en dwaas’ om te dink verarmde en verengelsde Afrikaans gaan die redding wees van ons taal, laat ons dit nou maar eenmaal in die gesig staar.

Jan Rap

  • 3

Kommentaar

  • Beste Jan,
    Pleks Dirk van όf begriploosheid, όf onderduimsheid te beskuldig, waarom vee jy nie eers voor jou eie deur nie?
    As jy beweer jy is nie ʼn taalpuris nie, dan sal jy mos nie omgee vir so ʼn Engelse woord of twee binne Afrikaanse konteks nie? Tog gaan jy al maande gal af oor iemand wat “usually” gebruik het, terwyl hy Afrikaans gepraat het. Jy is kastig ten gunste van “verskillende aksente en segswyses van die verskillende streke” en tog verpes jy Kaaps, wat die moedertaal van baie mense is, omdat dit glo, soos jy dit noem, ʼn mengeltaal is. Nou is “verskillende aksente en segswyses van die verskillende streke” wat vir jou tog so “interessant” is, onder die mat in gevee.
    Intussen storm jy maar voort met jou gegorrel, sonder om enigsins iets wat ek of Dirk sê in ag te neem. Jy vee jou behoorlik daaraan af, en gaan voort om jou siening, soos gesien deur jou gekleurde bril, te propageer.
    Net soos jy, is ek ook bekommerd oor Afrikaans in Suid-Afrika. Dit word oral, veral vanuit regeringsweë uitgedruk deur Engels. Dit is egter ʼn politieke stryd wat Afrikaans voer, en het niks te make met taalkunde of linguistiek nie. Ons kan planne beraam hoe om Afrikaans te bevorder, deur bv te weier om Engels of Zulu te praat, vir die VF te stem, alle dokumente in Engels terug te stuur vanwaar dit kom, en te eis dat dit in Afrikaans moet wees. Jy kan staan vir parlementslid, en die geveg daar gaan voortsit.
    Die gevaar vir Afrikaans lê nie in ʼn Engelse woord wat binne Afrikaanse konteks gebruik word nie. Jy is bang dat Afrikaans sal Engels word. Dit het nog nooit gebeur dat een taal ʼn ander taal word nie, en dit sal nooit kan gebeur nie; dis linguisties onmoontlik. Wat wel kan gebeur is dat ʼn nuwe taal kan ontstaan waar twee of meer tale in aanraking met mekaar kom, soos wat gebeur het met Kaaps.
    Soos ek dit al soveel kere tevore beskryf het, (en waaraan jy jou afvee): Kaaps se struktuur is Afrikaans, met hoofsaaklik Afrikaanse en Engelse woordeskat. Kaaps is nie Engels nie en dit is beslis ook nie Afrikaans nie, dis ʼn streektaal van Afrikaans, wat ontwikkel in ʼn dialek, met die volgende stap ʼn nuwe taal. (Dis maar die taalevolusie van alle tale.)
    Ek en jy kan nog Kaaps so effe verstaan omdat ons Engels en Afrikaans ken, maar die kleuter wie se ouers Kaaps praat, leer die taal van hulle, met woordeskat en al. Hy het nie nodig om Engels en Afrikaans te leer om sy moedertaal te verstaan nie. (Ek het dit ook al dikwels aan jou gemeld, maar jy vee jou daaraan af.) Dis ʼn begrip wat jy όf nie wil verstaan nie, όf eenvoudig nie kan verstaan nie. As jy dit nie wil verstaan nie, is dit omdat dit jou “definisie” van die verskil tussen “suiwer taal” en “mengeltaal” weerspreek. As jy dit nie kan verstaan nie, is dit omdat jy dink dat ʼn mens ʼn taal “magtig” moet wees voordat jy die betekenis van enkele woorde daarin kan verstaan. Ek ken so ʼn paar Spaanse woorde, wat ek in Afrikaanse konteks kan gebruik, maar dit beteken nie dat ek Spaans kan praat of verstaan nie.
    Groete,
    Angus

  • Jan,

    Die kruks van my brief waarop jy hier repliek(!) lewer, gaan oor statistiek. Oor hoeveel mense Afrikaans "suiwer" na jou smaak praat, en hoeveel nie. Jy het al verskeie kere hier te velde getrek teen Magdaleen Kruger van RSG en KykNet omdat dié uitsaaiers mense op die lug toelaat wat nie "suiwer" Afrikaans praat nie. My punt is eenvoudig: As byna 70% van die Afrikaanssprekende luisteraars nie soms in hul eie streektaal / dialek aangespreek word nie, sal hulle vervreem word en dan is dit ikabod vir Afrikaans as uitsaaitaal. Jou hele lang relaas / repliek sê absoluut niks hieroor nie. Dink jy regtig Afrikaans sal begunstig word as RSG en KykNet hul deure sluit agv dalende kykers en luisteraars?

    Angus is reg. Jy bekyk dié saak deur 'n gekleurde bril. En myns insiens 'n erg ideologiese bril. Jou brief se opskrif en die inhoud daarvan toon absoluut geen ooreenkoms nie.

  • Ek wonder wat het van Francois Williams geword. Net toe ek dink dis "veilig" op die Net maak daar twee nuwe knape hul verskyning ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top