Ten spyte van die feit dat Angus erken dat ‘Kaaps’ nie Afrikaans of Engels is nie – ek haal hom aan “Kaaps is nie Engels of Afrikaans nie” – hou hy vol dat ‘Kaaps’ die moedertaal van duisende mense is. Hoe kan dit wees? Dit is dan nie een van die twee tale nie, soos Angus self sê, maar ‘n mengsel, genoem Kaaps.
Die Skot waarvan Dirk Rigter praat, die ou wat praat van “I says” and “you says” is ‘n goeie voorbeeld van verkeerde grammatika maar nie mengeltaal nie, so ek weet nie eers hoekom hy dit noem nie. Soos Dirk sê, niemand gaan vir die Skot sê hy praat nie Engels maar niemand gaan ook sê dat hy korrekte Engels praat nie. Kaaps word wel aan moedersknie oorgedra aan die babas en kinders soos Angus sê, net soos die Skot die verkeerde grammatika aan moedersknie leer maar dit maak dit nie reg, of ‘n ander taal, nie.
Angus noem weer eens goed wat Chomsky sou kwytraak. Interessant, maar totaal irrelevant. Ek sê weer, mengeltaal, en die herken van mengeltaal, het niks met linguistiek te doen nie. Jy hoef nie ‘n plantkundige te wees om ‘n mengsel van stampmielies en sousboontjies te herken nie. Verder, ‘n mengsel van boontjies en stampmielies is nie ‘n nuwe groentesoort nie – ‘n nuwe mengsel miskien maar steeds nie ‘n nuwe groente nie.
Angus beweer dat Kaaps hier in 1700 rond ontstaan het. Miskien waar (heel waarskynlik nie aangesien 1700 lank voor die eerste Britse besetting was) maar weer eens totaal irrelevant. Die feit is Kaaps is nou, hede en vandag, só met Engels vermeng dat niemand, wat nie Engels magtig is nie, dit ooit sal verstaan nie.
As grond vir die bestaan van Kaaps voer Angus aan dat tale wat naas mekaar lewe mekaar onderling beïnvloed. Dit is eintlik net halfpad waar; die taal van die onderdanige groep is gewoonlik deurspek met woorde van die taal van die dominante groep en nie andersom nie. Soos ek al vir Dirk genoem het; die Engelsdeurweekte sin is so gewoon vir Angus en Dirk dat hulle dit ewe onthuts verdedig as mens dit kritiseer maar andersom sal nie eers die gemiddelde Engelssprekende in SA dit verstaan nie. Die Engels in Kaaps is ordegroottes meer as die Afrikaans in alledaagse Suid-Afrikaanse Engels.
Dirk, in sy kommentaar onderaan Angus se brief, maak die stelling dat ek nie van Kaaps hou nie omdat dit die “lengwietsh” van die Kaapse bruinmense is. Dis nie waar nie; ek hou nie daarvan nie omdat die Engels daarin beledigend, en verarmend, teenoor Afrikaans is.
Jan Rap


Kommentaar
Jan, soos jy beywer ek my vir agbare Afrikaans. Ons stry egter uit 'n benadeelde posisie. Ek het bv beswaar gemaak teen die kwistige gebruik van onnodige Engelse woorde in Bettina Wyngaard se twee jongste skrywes. In albei gevalle is my kommentaar nie gepubliseer nie. Dit moet lekker vir Wyngaard wees om deur misplaaste politieke korrektheid van kritiek gevrywaar te word.
Beste Jan
Jou logika maak nie sin nie.
Ek kan beweer dat Duits nie Engels of Afrikaans is nie, maar dat dit die moedertaal van miljoene is. Ek kan ook beweer dat Kaaps nie Engels of Afrikaans is nie, en die moedertaal van duisende is.
Jan, jou probleem is dat jy dink om te weet wat 'n woord beteken, moet jy daardie woord se taal ken. Ek ken 'n paar Spaanse woorde, en kan hulle binne Afrikaanse konteks gebruik. Dit beteken nie dat ek Spaans ken nie.
Die kleuter wie se ouers Kaaps praat, se moedertaal is Kaaps, soos iemand wie se ouers Engels praat se moedertaal sal noodwendig Engels wees.
Dit het te make met hoe 'n taal aangeleer word; dus het dit alles te make met linguistiek.
Chomsky het niks "kwytgeraak" nie. Dit vorm die kern van sy generatiewe taalteorie.
Die feit dat tale vermeng raak waar hulle in aanraking met mekaar kom, en die grense begin vervaag, het alles met linguistiek te make. Dit sluit mooi aan by die moderne taalnavorsing waar taal beskou word as universeel. Die onderbou van tale is dieselfde.
Waarom jy sekere aspekte as irrelevant beskou, is omdat jy nog nie 'n diepgaande studie van taal gemaak het nie.
Jou redes waarom jy nie van Kaaps hou nie, dat dit beledigend vir Engels is, en verarmend vir Afrikaans, is jou persoonlike siening. Enigiemand kan sê dat Afrikaans beledigend en verarmend is vir Nederlands. Dis persoonlike smaak.
Die feit bly staan dat Kaaps die moedertaal van baie mense is, en net soos jy trots is op Afrikaans (wat deur baie verag word) so is die Kaapse spreker trots op sy moedertaal (wat deur Jan Rap verag word.)
Ek verdedig nie (onthuts nogal!) die gebruik van Engelse woorde in Afrikaans nie; ek verduidelik aan jou 'n eenvoudige linguistiese beginsel. Waar tale naas mekaar bestaan, SAL ontlening plaasvind of jy nou wil of nie. Hierdie ontlening kan nie onder reëls, regulasies of wetgewing geplaas word nie. Jy kan nie 'n vreemde woord weeg en toets en besluit of hy gebruik mag word nie.
Groete
'Agbare' is goed; ek wonder altyd wat om in plaas van 'suiwer' te gebruik want dit is een van die strooihalmpies waarna ouens soos Dirk, Angus en Thomas gryp en mee op loop gaan (want wie praat nou ooit enige taal 100% suiwer'?).
Wat die nie-plasing van jou kommentaar betref: Maar net nog 'n bewys dat spraakvryheid eintlik 'n mite is.
Beste Jan
Jy wil nou 'n Kobus de Klerk op ons trek, maar dit sal nie werk nie. Hy is 'n prokureur en weet hoe om die slagoffer in 'n bedrogsaak na die skuldige te laat lyk. Jy moet nog eers oefen.
Jy is die een wat te koop loop met "suiwer Afrikaans", en nou wil jy dit aan my, Dirk en Thomas afsmeer. Jy is die een wat beweer dat daar so iets bestaan.
Groete
Angus