Renosterstropery, die oplossing

  • 1

Daar word so baie gepraat oor die onderwerp daar in julle land wat besig is om katastrofiese proporsies aan te neem. Daar is verskeie voorstelle al genoem, soos beter patrollering, wettig die verkope van renosterhoring en dwing die markprys af, ens. Die een probleem wat dit nie aanspreek nie, is hoekom dit gebeur? Ryk sindikate gee geld en wapens aan werkloses om vir hulle die horings te bring. Gaan dit afneem as die markpryse val, of gaan hulle dan twee keer meer stroop om op te maak vir die verskil?

Ek persoonlik dink dis tyd vir die SA regering om bakhand te gaan staan voor die VSA regering en in die naam van ‘red die renosters’ te pleit vir ‘n paar van hulle ‘drones’ en mense om dit te opereer. Vir die wat nie weet wat dit is nie, dit is moerse groot radiobeheerde vliegtuie wat vir dae lank baie hoog in die lug kan bly en op sy patrolleringspad gehou word deur sy rekenaar en sy operateur en analitici staan by die beheerkamer by en kyk op die monitor via die beeld wat hy stuur wat op die grond aangaan. Dit maak gebruik van al die beste moderne tegnologie om daai beeld en identifisering so goed moontlik te maak en hierdie vliegtuig, sou dit vereis word, kan selfs klein missiele afvuur wat maklik ‘n voertuig kan ‘uithaal’. Die Amerikaners patrolleer al vir jare hulle Meksikaanse grens met hierdie manne en ek is seker, soos tegnologie amper daagliks verbeter, so sit die Amerikaners met van die ouer vliegtuie wat dalk nie so gesofistikeerd is as die van vandag in militêre aanwending nie, maar wat heel goed genoeg is om renosterstropers en sy trawante goed vas te vat.

Mens weet nie waarmee die Amerikaners alles besig is nie, maar ons eie Spes magte het op ‘n kol ‘n projek gehad waarmee luidsprekers op ‘n Bosbok of Cessna gemonteer was en waarmee dan baie hoog oor die Kaokoveld gevlieg is en boodskappe in Owambo uitgesaai is wat probeer om twyfel te bring in die gemoed van ‘n man wat al baie ver geloop het sonder ondersteuning en met die SA troepe wat hom die heeltyd jag. Hoe suksesvol dit was, kan ek nie voor instaan nie, maar het daardie jare baie gehoor van plaaslike mense wat met groot oë gepraat het van ‘die stemme wat uit die lug kom.’ Met die verkiesing het die DTA die vliegtuig met sy luidsprekers aangewend om verkiesingspropoganda uit te saai bo Windhoek en ander dorpe.

Namib

  • 1

Kommentaar

  • Namib,

    Dit klink na 'n uitstekende plan, maar ek weet nie of die regering werklik die wil het om hierdie uitwissing te stop nie.Ek dink dat die verrotting al so diep is,dat daar oral belange by einste renosterstropery is. Vandag weer gelees van twee Afrikaners en drie Zulu veldwagters wat in hegtenis geneem is.Gister was dit weer 'n jong vlieenier en twee veeartse.

    Dis absoluut skokkend dat 'n verdomde mite oor viriliteit tot so 'n tragedie kan lei. Dieselfde gebeur met ander diere. Onlangs is daar berig dat paddas, akkedisse en kleiner diere soos spinnekoppe, ook nou geteiken word. Natuurlik is daar nou ook opportuniste wat kastig geld insamel om die renosters te red!

    Die mens is sekerlik die sotlikste spesie wat nog ooit die aarde bewandel het! 

    Groetnis

    Perdebytjie

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top